|

entrepreneursfokus: danielle de villiers

Ons het met Danielle de Villiers gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

    Toe ek die idee gekry het, het ek dadelik geïnspireer gevoel, en die feit dat ek gevoel het so iets is nog nie reg gedoen nie. Ek was ook reg vir ’n nuwe uitdaging in my lewe.

    Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

    Ek het ’n mamma geword in 2015, en kort daarna besef hoe moeilik dit is om met kleintjies goeie kos te geniet in ’n restaurant. Hulle moet kan speel en beweeg! Toe het ek gedink dit sal ’n goeie idee wees om ’n plek te hê waar volwassenes asook kinders hulself kan geniet. Goeie kos, diens, higiëne en veiligheid was vir my prioriteit.

    Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

    Dit was logisties baie moeilik om die toerusting in Suid-Afrika te kry en ook om alles aanmekaar te sit en te bou. Daarbenewens, was dit ’n uitdaging om die regte perseel te vind met ’n noodsaaklike dubbelvolumeplafon en genoegsame veilige parkering vir klante. Met die regte hulp, mense, en die Here se hulp kon ons deure op 12 Mei 2018 oopmaak.

    Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

    Ek dink mens moet altyd op jou tone bly en jou produk probeer verbeter, so ek het nog nooit teruggesit en gedink “nou is ek daar” nie. Maar toe die eerste pappa en sy seuntjie ingestap het 09:00 op ons eerste dag, het ek ’n baie positiewe gevoel gekry!

    Die onderneming self

    Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

    The Fun Room is ’n groot binnehuise speelgrond waar kinders veilig kan speel, met ’n koffiewinkel/restaurant waar kinders en ouers goeie kos, koeldranke, koffie, en/of selfs wyn en bier kan geniet.

    Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

    Dit is ’n skoon en higiëniese binnehuise spasie, die kos is van ’n hoë gehalte, elke liewe deel van die speelarea is beveilig met sagte bekleedsel oor die toerusting en sagte vloermatte. Kinders word ingeteken en kan nie die plek verlaat sonder ouertoesig nie. Goeie en vriendelike diens. Werknemers wat voel soos familie. Ons hou ook verjaarsdagpartytjies vir groepe van tot 40 kinders, en kan die dekor en kos en alles self doen sodat die ouers nie hoef te werk nie. Hulle kan net opdaag vir die partytjie en het dan ook nie ’n vuil huis om skoon te maak nie J

    Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

    Ek bestuur self alle bemarking op sosiale media (Instagram en Facebook) waar ek nuus plaas oor The Fun Room, wat ons bied (bv. suikervrye “slushies”, ens,) asook enige spesiale aanbiedinge. Ons het ook elke Dinsdag tot Donderdag ’n midweek spesiale aanbieding wanneer dit net halfprys is vir speeltyd. Vriendelike diens bou ook klante se lojaliteit. Ná bykans vyf jaar is dit reeds opmerklik hoe ouers gereeld die Fun Room besoek en kinders “grootword” vanaf babastadium tot kleuterstadium en die Fun Room deel raak van gesinne se uitstappies met die kinders – veral die wat in meenthuise en woonstelle bly met beperkte speelruimtes.

    Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

    COVID was, soos vir elke onderneming, ’n baie moeilike tyd vir ons en ek was baie bekommerd oor my werknemers wat slegs TERS gekry het elke maand en nog hulle eie families moes versorg. Ek was nie seker hoe ons sou terugkeer van daar af nie, maar met goeie beplanning, besluitneming en genade van Bo het ons dit oorleef.

    Groeiproses

    Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

    Sosiale media bemarking en “word of mouth”. Om die regte mense aan te stel, ek het ’n operasionele bestuurder, Chris, wat my so baie gehelp het die laaste drie jaar.

    Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

      Deur te weet wat my onderneming se sterkpunte is en te bly fokus op dit. Om seker te maak al die werknemers is soveel as moontlik op dieselfde bladsy en om die kernwaardes vir hulle ook te leer, help om ruimte te gee om nuwe idees ook te kan probeer.

      Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

        Ek het as gevolg van te min marknavorsing nie besef hoe groot die kinderpartytjiebedryf is nie en watter behoefte daar vir sulke plekke is nie – alles terwyl ek met die perfekte spasie sit vir partytjies. Dit en ook om dan die volle pakket aan klante aan te bied. Ek het dit vinnig reggestel en ons bied nou ongelooflike partytjies aan vir kinders, en maak die hele proses baie maklik vir die mammas en pappas wat reëlings moet tref. Ek het geleer dat marknavorsing baie belangrik is.

        Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

          Ek het ’n sistemiese benadering om potensiële uitdagings te identifiseer, te evalueer, en te bestuur. Sodra ek my risiko’s geëvalueer het, ontwikkel ek ’n plan om elke risiko te bestuur. Dit kan beteken sekere risiko’s moet vermy word (bv. elke kind wat The Fun Room besoek se ouers moet ’n vrywaringsvorm voltooi wat bevestig dat hulle bewus is dat kindertjies mag seerkry en ons nie verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie – al is die speelgrond veilig). Sekere risiko’s word bestuur deur sekuriteitsmaatsreëls wat ons in plek het, wat insluit versorgers wat heeltyd binne die speelarea is om toesig te hou oor al die kindertjies en kameras op strategiese plekke op die perseel wat alle aktiwiteite opneem. Ek het ook versekering op alle toerusting en enige ander moontlike ongeluk wat dalk mag plaasvind terwyl ’n klant die onderneming besoek.

          Leierskap en span

          Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

            Sterk en ferm maar ook sag en vriendelik. Ek glo dit is goed om as leier selfvertroue uit te straal en duidelike rigting te kan gee, maar terselfdertyd ook respek en empatie vir ander te toon. Ek luister na die behoeftes van my span, en hanteer hulle met deernis en begrip. Ek glo ’n leier moet inspireer deur voorbeeld.

            Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

              Ek voel daar is verskeie belangrike aspekte om in ag te neem. Ek probeer om duidelike doelwitte en verwagtinge te skep. Om individue aan te stel met die regte en nodige vaardighede en ervaring vir hulle posisie en ook die regte persoonlikheidseienskappe wat die span sal kan versterk. Goeie, oop en eerlike kommunikasie. ’n Omgewing met vertroue en respek. En die vermoë om te kan aanpas by veranderinge en uitdagings is noodsaaklik. Dit is uiters belangrik dat elke werknemer in The Fun Room hul werk moet geniet!

              Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

                Ek is altyd vriendelik as ek by die werk aankom en glo dit is aansteeklik. Ek het hulle ook geleer om elke oggend saam as ’n span te bid vir ’n goeie dag. Ek reël ook spanbou-uitstappies wat verpligtend is. Dit is so gesond om as werknemers, buite die werksomgewing saam te kuier en lag en saam te moet werk tot ’n prettige doelwit.

                Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

                  Deur seker te maak dat almal weet ek is altyd toeganklik en sal enige saak met soveel liefde en sorg as moontlik hanteer. Dit is ook belangrik om bewus gemaak te word van ’n negatiewe situasie sodra dit gebeur, sodat dit hanteer kan word en om te verhoed dat dit erger raak as wat nodig is. My span weet ook dat konflik vinnig en sagkens opgelos moet word.

                  Die toekoms

                  Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

                    Vir The Fun Room om ’n bekende handelsmerk onder gesinne regoor die land te wees en hopelik regoor die land franchises te besit en te verkoop.

                    Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

                      Tegnologie speel ’n rol in my onderneming – voorraadopname, die sekuriteitstelsel en bemarking onder andere, en dit is opwindend om te dink hoe baie dit sal kan verbeter met nuwe tegnologie. Ek glo ook sosiale media gaan nog baie groei en daarom sal dit ’n groot bate wees vir enige onderneming wat dit goed kan gebruik.

                      Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

                        Deur heeltyd te leer en aanpasbaar te wees. Ek moedig kreatiwiteit en innovasie binne my span aan. Om die eerste in die mark te wees met nuwe idees kan jou ’n beduidende mededingende voordeel gee. Ek probeer my klante se behoeftes en verwagtinge te verstaan.

                        Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

                        Ek wil graag in die nabye toekoms nog ’n Fun Room oopmaak in Pretoria wat groter en nog beter is, met ’n buite-area ook. Ek is net opsoek na die regte spasie, en spaar nog om al die toerusting te kan bekostig.

                        Persoonlike reis

                        Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

                        Ek is natuurlik geneig om meer berekende en versigtige benaderings te volg, maar as entrepreneur moet mens kan risiko’s neem. Ek het geleer dat ek deur goeie beplanning en menseverhoudings veel meer kan bereik as wat ek voorheen geglo het moontlik was.

                        Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

                        Roetine is baie belangrik vir my. Ek moet sover as moontlik al my werk gedoen kry terwyl die kinders by die skool is sodat ek al my aandag aan my gesin kan gee (al oorvleuel dit soms). Daarom moes ek leer om aanpasbaar ook te wees. Ek het ook geïdentifiseer wat die belangrikste goed is vir my en so my tyd te prioritiseer. Minder belangrike take moet gelos word of ek moet vir hulp vra, wat vir my moeilik was om te leer. ’n Goeie ondersteuningsnetwerk is so ’n groot bate en ek is so dankbaar vir my familie en vriende.

                        Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

                        As jy ’n idee het wat vir jou vlinders in jou maag gee, ondersoek dit en gee dit ’n kans! Jy moet passievol wees, baie hard kan werk, en in jouself en jou idee glo. Dit is ook baie belangrik om ’n goeie mentor te hê as jy kan – my pa is myne.

                        Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

                        Ek wil graag hê The Fun Room moet vir altyd ’n plek wees waar families tuis en sielsgelukkig voel. ’n Plek vol vreugde vir volwassenes en kinders. Ek wil ook aanhou om gemeenskappe te kan ondersteun deur meer en meer werk te kan skep. Dan wil ek ook hê The Fun Room moet bekendstaan as die beste binnenshuise speelplek en eetplek vir familie-uitstappies.

                        Slotsom

                        Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

                        Om die volgende te doen: Wanneer ek onseker is oor wat om te doen, stel altyd die beste, gemiddelde en slegste moontlike uitkoms van die besluit voor. As jy in staat sal wees om al daardie uitkomste te hanteer, sal dinge uitwerk… en nog belangriker, die slegste uitkoms is gewoonlik ook nie die einde van die wêreld nie.

                        As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

                        Om vroeër te begin om die idee te laat realiseer en dan sou daar dalk nou al nog takke gewees het, maar ek glo sterk in die Here se plan en dat alles daarvolgens gebeur, so ek het nie verwyte nie.

                        Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

                        ’n Plek waar die hele familie baie pret kan hê, skoon en veilig is, met vriendelike diens en goeie kos. ’n Plek wat ’n mens weer en weer sal wil besoek. ’n Kleurvolle, “happy place”, wat begin is deur ’n meisie met ’n droom wat geglo het in haarself en passievol is oor die lewe.