Skuldhantering in jou besigheid  

Jan het twee jaar gelede sy eie bemarkingsagentskap op die been gebring. Die besigheid was tot dusver welvarend, maar het twee maande gelede ’n groot kliënt verloor. Dit beteken dat ’n bedrag geld waarop die agentskap elke maand staatgemaak het om onkostes te dek nou nie meer daar is nie. Jan het reeds geld by die bank geleen om werknemers se salarisse, asook ’n gedeelte van die besigheid se huur te dek.

Hoewel dit nog ver van klaarpraat is vir Jan se besigheid, besef hy dat hy onmiddellik flink moet optree om ’n katastrofiese finansiële krisis te voorkom. Sy voormalige kollega Anna – wat vyf jaar gelede haar eie openbareverhoudingsmaatskappy gestig het – se besigheid gaan van krag tot krag, maar het drie jaar gelede swaar onder skuld gebuk gegaan. Jan besluit om ’n afspraak met haar te maak sodat sy aan hom kan verduidelik hoe om skuld in sy besigheid te hanteer.

Leer die verskil tussen goeie en slegte skuld

Anna verduidelik aan Jan dat enige besigheid – maak nie saak hoe suksesvol dit is nie – altyd in die skuld is. Die geheim is om tussen goeie en slegte skuld te onderskei.

Die huur van ’n besigheidsperseel en kantoortoerusting, versekering, salarisse, belasting en ander maandelikse uitgawes tel alles as goeie skuld. Die rede daarvoor is dat dit goeie kredietrekords vir besighede opbou. Dit is belangrik vir jong besighede om reeds vroeg ’n betroubare kredietrekord op te bou, aangesien dit besighede later in staat stel om groot lenings aan te gaan. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer Jan strategiese beleggings wil aangaan om die besigheid uit te brei, soos om ’n ander maatskappy oor te koop ten einde meer wins te genereer. Jan kan later ook ’n deposito neersit om sy eie besigheidsperseel aan te skaf, wat sal beteken dat die geld wat aan huur bestee sou word terug in die besigheid geploeg word deur die paaiement af te betaal. Jan se besigheid sal later nooit weer huur hoef te betaal nie.

Die verknorsing waarin Jan homself tans bevind tel as slegte skuld, aangesien daardie skuld geen funksie dien om die besigheid in die lang of kort termyn te versterk nie. Slegte skuld, soos byvoorbeeld noodgedwonge lenings of agterstallige huur en salarisse, belemmer ’n besigheid se finansiële welvaart en vooruitgang.

Hoe gemaak om slegte skuld te voorkom?

Anna vertel Jan die oomblik toe sy besef het dat die slegte skuld wat sy gemaak het moontlik tot haar besigheid se ondergang kan lei, sy aan die werk gespring het om maniere te identifiseer om die skuld so gou moontlik af te betaal.

  1. Hersien jou uitgawes 

    Wanneer finansies knap is, moet jy onmiddellik vasstel waarheen jou besigheid se geld maandeliks gaan nadat alle noodsaaklike uitgawes (huur en salarisse) betaal is – van die kleinste tot die grootste uitgawes. Jy sal verbaas wees hoeveel geld jy bespaar deur filterkoffie vir kitskoffie te verruil! Raak ook ontslae van enige ongebruikte toerusting wat spasie opneem en dalk selfs verkoop kan word.Die ergste scenario is egter dat jy moontlik jou besigheidsperseel sal moet verskuif indien die huur te hoog is, of dat jy van jou werknemers sal moet afdank. Dít is egter die laaste uitweg en jy moet alles in jou vermoë doen om te verseker dat dit nie gebeur nie.

  2. Praat met jou krediteure 

    Indien die wisselkoers op jou lenings te hoog is, sal jy moontlik jou krediteure moet gaan spreek om op ’n laer maandelikse premie ooreen te kom. Jy sal versekering moet bied dat jy dit kan afbetaal, wat dalk sal beteken dat jy een van jou persoonlike bates – ja, moontlik jou huis – as versekering sal moet gebruik.

  3. Neem besigheidsversekering uit 

    Jy moet reeds besigheidsversekering uitneem nog voordat jou besigheid sy deure oopmaak. In die geval dat jou besigheid bankrot speel, sal dit jou help om jou bates te beskerm.

  4. Maak meer geld! 

Die doel van jou besigheid is tog juis om wins te maak! Anna verduidelik aan Jan dat sy probleem – die feit dat hy ’n groot kliënt verloor het – die hoofoorsaak is dat besighede slegte skuld aangaan. Jou eerste prioriteit behoort te wees om daardie geld op te maak deur nuwe kliënte te werf!

Skuld beteken geensins die ondergang van jou besigheid nie – inteendeel, meeste besighede sal die een of ander stadium noodgedwonge skuld moet aangaan. Wees egter voorbereid daarop en maak seker jy neem praktiese, logiese stappe om dit so gou moontlik af te betaal.