Entrepreneursfokus: Azaan van Eeden – Van Eeden Boekhouding en Belasting

Azaan van Eeden het Van Eeden Boekhouding en Belasting in 2014 op die been gebring ná die geboorte van haar eerste kind. Haar oogmerk was aanvanklik om heeltemal op te hou werk, maar ná slegs twee maande by die huis was sy verveeld en het sy besluit om die beste van beide wêrelde te maak en haar eie onderneming te begin. Só het wat aanvanklik veronderstel was om ’n deeltydse werkie te wees wat die verveeldheid weghou, ’n voltydse werk geword. Vir Azaan is dit die perfekte werk wat haar die geleentheid bied om genoeg tyd saam met haar twee kinders te spandeer.

Sy skryf die sukses van haar onderneming toe aan haar goeie kliëntediens – haar doel is om haar kliënte só gerus te stel oor hulle finansies dat hulle slegs hoef te fokus op die groei en bestuur van hul onderneming. Van Eeden Boekhouding en Belasting bied ’n volledige boekhouding-en-belastingdiens aan ondernemings in verskeie industrieë. Dit sluit onder meer besigheidsregistrasie, boekhouding en die opstel van finansiële state in.

Azaan se toekomsplanne behels om binnekort werkswinkels vir entrepreneurs wat nuwe ondernemings begin, aan te bied. Haar doel hiermee is om die kompleksiteite van veral belastingverwante kwessies te verduidelik en sodoende ondernemings te help om optimaal te funksioneer. Sy het terselfdertyd ook advies vir mense wat, soos sy, ’n nuwe onderneming van die grond af wil kry. Haar topvyfwenke is:

  1. Stel ’n besigheidsplan op.
  2. Maak ’n bankrekening in die onderneming se naam oop.
  3. Verstaan die rekeningkundige en belastingvereistes.
  4. Moenie ’n belastingsperdatum mis nie.
  5. Kry professionele hulp indien jy sukkel.

As deel van die waardetoevoegingskomponent van haar onderneming het Azaan onlangs met “coffee chats” (koffiegesprekke) begin. Dit behels basies dat sy met eienaars van klein ondernemings oor hul ondernemings en hul spesifieke industrieë gesels deur middel van haar Instagram-bladsy. Sy deel ook via dié kommunikasiekanaal advies oor rekeningkunde en belasting met haar intekenaars.

Azaan vind haar inspirasie by verskeie ander vroulike entrepreneurs. Sy luister graag na die Creativ & Kin-potgooi en loer gereeld op Cherona Dannhauser se Instagram-bladsy vir besigheidsinspirasie. Sy raai ook haar boek I am a Purposepreneur aan vir almal wat hulle eie onderneming bedryf of van die grond af wil kry.