Vier stappe om jou besigheid te groei

In dié onsekere tye is dit uiters belangrik om gefokus te werk en energie te spandeer aan take wat die maksimum uitset gaan lewer. Wanneer jy reg is om jou besigheid se bestaande aktiwiteite uit te brei, is dit noodsaaklik om seker te maak dat al die prosesse en sisteme in jou besigheid reg is om groei te hanteer. Groei kan uitdagend wees. Sisteme wat voorheen gewerk het vir ’n kleiner besigheid is nie altyd gepas vir die toename van kliënte wat ’n groeiende besigheid gaan hê nie. Dit is belangrik om te beplan vir groei sodat jou besigheid genoeg fondse en werknemers het en ook die regte sisteme, tegnologie en ander hulpmiddels in plek het. Hier is vyf stappe wat jou sal help om jou besigheid te groei.

Evalueer en beplan 

Die stap is uiters belangrik maar baie besigheidseienaars maak die fout om nie genoeg tyd aan toekomsbeplanning te spandeer nie. Dit is belangrik om met ’n kritiese oog na jou besigheid te kyk en te bepaal of die besigheid reg is vir die groei wat jy beplan. Werk uit wat nodig gaan wees om jou verkope te verhoog. Visualiseer asof jou verkope verdubbel of vertrippel oornag. Gaan jy reg wees daarvoor? Het jy die regte en genoeg werknemers om verhoogde vraag te hanteer? Is jou sisteme so opgestel dat jy die toename in verkope kan hanteer sonder dat die bestaande struktuur in duie stort? Indien jy beplan om in die voorsienbare toekoms te groei moet jy beplan vir die uitgawes van daardie groei. Begroot vir addisionele personeel en bykomende infrastruktuur, ongeag of dit nuwe programme, addisionele rekenaars of groter kantore is. Dit is belangrik om te bepaal wat die koste van groei is. Gaan die uitgawes die toename in verkope regverdig? Indien nie is dit dalk nodig om die groeiplanne te heroorweeg.

Kry die nodige kapitaal 

In die geval wat jou plan aandui dat die uitgawes die toekomstige inkomstes gaan regverdig is die tweede stap om die nodige kapitaal te kry om jou groei te befonds. Beplan waar jy die nodige geld gaan kry om die groei te befonds. Indien jou besigheid ’n groeifonds het kan jy dit moontlik self gedeeltelik of heeltemal befonds uit die groeifonds uit. Gaan jy ’n lening nodig hê om die groeiplan ’n werklikheid te maak? In daardie geval moet jy die rente wat terugbetaal moet word ook in ag neem om te bepaal of die groei steeds winsgewend gaan wees.

Posisioneer jou werknemers en tegnologie vir groei 

Tegnologie kan dit makliker en goedkoper maak om jou besigheid te groei. Deur van die funksies van jou besigheid to outomatiseer kan jy bespaar op arbeidskostes en goeie diens verseker. Aspekte van jou besigheid wat deur middel van tegnologie vergemaklik kan word is jou boekhouding, bemarking en voorraadbeheer. In die stap is dit ook uiters belangrik om seker te maak dat jou werknemers toegerus is vir groei. Oorweeg om sekere take uit te kontrakteur indien dit goedkoper gaan uitwerk. Sosiale media, digitale bemarking, webontwikkeling, finansies en administrasie kan deur kontrakteurs hanteer word. In die geval wat jy produkte vervaardig kan dit ook deur eksterne kontrakteurs hanteer word om jou salarisrekening te verminder.

Groei jou verkope

Die doel om jou besigheid te groei is natuurlik om jou besigheid se inkomste te verhoog en dit word alleenlik gedryf deur jou verkope. Of dit ’n produk of diens is wat jy lewer, verkope gaan ’n kern deel vorm van die sukses van jou besigheid. Kyk na jou bestaande verkope en bepaal die volgende: Het jy ’n manier om met nuwe potensiële kliënte in kontak te tree? Dit kan hetsy via sosiale media kanale wees, deur middel van verwysings of deur ander vorms van bemarking.

Sodra jy met die nuwe potensiële kliënte in kontak tree, is jou verkoopspan reg om die verkoop te maak? As jy die verkoop gemaak het, is die sisteem reg om die diens of produk te lewer? Is jou faktureringstelsel en finansiële stelsels reg om die rekeninge te hanteer? Is jou besigheid in ’n posisie om te groei? Indien jy ‘ja’ antwoord vir die meerderheid van die vrae is dit moontlik tyd om te begin kyk na groeigeleenthede. Hier is nog vrae wat jy jouself kan afvra:

  • Is daar potensiële besigheid wat jy moet wegwys?
  • Oorskrei jou verkope jou vorige doelwitte?
  • Is jou kontantvloei goed en kry jou besigheid herhaalde kliënte?
  • Het ervaring bewys dat jou besigheidskonsep werk?
  • Is daar min risiko aan die groei verbonde?