Sagteware wat besigheid makliker maak

Dit is belangrik dat klein ondernemings hul kostes beperk terwyl hul steeds doeltreffend funksioneer. Daarom het ons dié lys van sewe hulpmiddels saamgestel om jou entrepreneursreis te vergemaklik en jou te help om uiteindelik jou doelwitte te bereik.

  1. Todo.vu

Die program is ideaal vir veral konsultante, vryskutwerkers of klein agentskappe wat verskeie projekte op dieselfde tyd moet koördineer. Die program het ’n ingeboude tydbestuursfunksie wat fakturering vergemaklik en dit daarom ideaal maak vir industrieë waar fakturering tydgebonde is. Todo.vu se funksionaliteit sluit in:

  • Te-doenlysies, die vermoë om die vordering van take dop te hou en in ’n persentasievoltooiformaat weer te gee.
  • Integrasie met jou en jou spanlede se kalender.
  1. Zoho One

Dié sagteware is ’n eenstopplatform vir die bestuur van jou onderneming en bied 40 toepassings wat verskeie fasette van jou onderneming bestuur. Die toepassings sluit hulpmiddels in vir die bestuur van jou onderneming se finansies, bemarking, menslike hulpbronne, operasionele bestuur en verkope,die bou van ’n webtuiste en voorraadbestuur. Die sagteware is as ’n geheel ongelukkig nie gratis nie, maar gedeeltes van die sagteware kan gratis gebruik word. Toepassings soos Zoho se faktureringsplatform kan gratis gebruik word om fakture op te stel en hoef nie as deel van die totale program aangekoop te word nie.

  1. Wix

Indien jou kleinsakeonderneming ’n webtuiste benodig, kan dit ’n duur proses wees om ’n ontwerper te betaal om ’n webtuiste te bou. Die alternatief is om self ’n basiese webtuiste op Wix te bou. Wix bied ’n gratis opsie asook ’n betaalopsies vir jou webtuiste en is uiters gebruikersvriendelik. Honderde webtuistetemplette is beskikbaar en kan maklik aangepas word om te verseker dat jou webtuiste ’n unieke voorkoms het. Sake-eienaars kan ook gerus wees dat Wix ’n goeie diens lewer. Onlangse opnames het bevind dat hul tans sowat 160 miljoen webtuistes huisves.

  1. HootSuite

Dié platform is ideaal vir kleinsakeondernemings met ’n fokus op sosiale media. Die program is gratis en maklik om te gebruik en help ondernemings om op hoogte van verskeie mediaplatforms te bly. Dié platform laat gebruikers toe om verskeie sosialemediaplatforms gelyk te bestuur, plasings te skeduleer en op volgelinge te reageer. Wat HootSuite verder baie bruikbaar maak, is die vermoë om te moniteer watter plasings meer belangstelling en kliks genereer.

  1. MailChimp

MailChimp is een van die gewildste e-posbemarkingsplatforms en met goeie rede. Dié platform is gratis indien jou onderneming minder as 2 000 intekenaars het en minder as
12 000 e-posse per maand uitstuur. Baie ondernemings gebruik die platform om nuusbriewe uit te stuur en so in deurlopende kommunikasie met hul kliënte te bly. Dit is maklik om nuusbriewe op die platform uit te lê en geen ontwerpkennis word vereis nie. Die platform kan ook gebruik word om ’n landingsblad vir jou onderneming te skep en kommunikasie met jou kliënte te outomatiseer.

  1. Scannable

Dié selfoontoepassing is gratis en is deur Evernote ontwikkel om die skandering van dokumente te vergemaklik. Dit kan veral gebruik word om elektroniese kopieë van besigheidskaartjies, notas, fakture of ander dokumente te maak. Dit kan op jou slimfoon afgelaai word en vergemaklik sodoende die proses om papierloos te werk. Die toepassing maak bloot gebruik van die kamera op jou selfoon en kan dus enige plek gebruik word om hoëgehalte- geskandeerde dokumente te lewer.

  1. SurveyGizmo

Dié sagteware kan gebruik word om meningspeilings vir jou onderneming te doen. Meningspeilings is ’n relatief goedkoop manier om te bepaal of daar ’n mark vir ’n spesifieke produk of diens is sonder om voor die tyd die onkoste vir ontwikkeling aan te gaan. SurveyGizmo kan gebruik word om toepaslike data op verskeie platforms in te samel, insluitende sosialemediaplatforms. Wat dié platform uniek maak, is dat hulle sagteware so ontwikkel is dat vrae wissel gebaseer op die antwoord wat die respondent gee – dit verseker dat jy meer akkurate terugvoer kry.