Siekverlofbepalings in terme van die Wet op Rampsbestuur 57 van 2002
Deur Inge Labuschagne
Ingevolge regulasie 4(10) van die regulasies wat ingevolge die Wet op Rampbestuur 57 van 2002 uitgevaardig is (R480), word werkgewers verplig om maatreëls met betrekking tot COVID-19-verwante siekverlof in plek te stel wat die volgende betref:
- Klousule 27: Werknemers wat COVID-19-verwante simptome toon
- Klousule 28: Werknemers wat met COVID-19 gediagnoseer is
- Klousule 29: Kontak met ander werknemers wat met COVID-19 gediagnoseer is
- Klousule 30: Laerisikoblootstelling of -kontak
- Klousule 31: Hoërisikoblootstelling of -kontak
Klousule 27: Werknemers wat COVID-19-verwante simptome toon
Ingevolge klousule 27(3) moet werknemers wat enige COVID-19-verwante simptome toon op 10 dae betaalde siekverlof geplaas word, ooreenkomstig artikel 22 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997.
Indien werknemers se normale siekverlof (soos in die dienskontrak gestipuleer) uitgeput is, moet die werkgewer by die Werkloosheidversekeringsfonds vir siektevoordele aansoek doen. Dié aansoeke word gereguleer in terme van regulasie 10(8) van klousule 4 van die COVID-19-direktief in verband met die steunskema vir tydelike werknemers en hul werkgewers (TERS), wat op 25 Maart 2020 gepubliseer is.
Klousule 28: Werknemers wat gediagnoseer is met COVID-19:
Ingevolge klousule 28 moet werknemers wat met COVID-19 gediagnoseer is op tien dae betaalde siekverlof geplaas word, ooreenkomstig artikel 22 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 78 van 1997.
Dié werknemers is verplig om hulself te isoleer vir die volle 10 dae wat hulle met siekverlof is, ooreenkomstig die riglyne wat die Departement van Gesondheid in dié verband afgekondig het.
Indien werknemers se normale siekverlof (soos in die dienskontrak gestipuleer) uitgeput is, moet die werkgewer by die Werkloosheidversekeringsfonds vir siektevoordele aansoek doen.
Klousule 29: Blootstelling aan of kontak met ander werknemers wat met COVID-19 gediagnoseer is
Indien werknemers in kontak was met iemand wat met COVID-19 gediagnoseer is, moet die werkgewer ingevolge klousule 29 die kontak- of blootstellingsrisiko onmiddellik bepaal, ooreenkomstig riglyne wat deur die Departement van Gesondheid afgekondig is. Die Departement van Gesondheid se riglyne onderskei tussen lae- en hoërisikoblootstelling of ‑kontak, wat hieronder in meer besonderhede uiteengesit word.
Klousule 30: Laerisikoblootstelling of -kontak:
In gevalle waar werknemers laerisikoblootstelling of -kontak gehad met iemand wat met COVID-19 gediagnoseer is, mag die werkgewer ingevolge klousule 30 dié werknemers wel in die werkplek toelaat, mits die werkgewer die volgende stappe doen:
- Die betrokke werknemers moet te alle tye ’n masker dra.
- Die werknemers se simptome moet daagliks gemoniteer word.
- Die werknemers moet vir die daaropvolgende tien dae vir enige simptome gemoniteer word.
Daar is dus geen rede om in sulke gevalle enige betaalde siekverlof toe te staan nie.
Klousule 31: Hoërisikoblootstelling of -kontak:
Ingevolge klousule 31 moet enige werknemer wat hoërisikoblootstelling aan of -kontak met iemand gehad het wat met Covid-19 gediagnoseer is vir tien dae op betaalde siekverlof geplaas word. Hierdie werknemers is verplig om hulself vir die volle duur van die siekverlof te isoleer. Siekverlof word weer eens toegestaan ingevolge artikel 22 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 78 van 1997.
Hoërisikoblootstelling of -kontak is wanneer werknemers vir langer as 15 minute op ’n keer binne ’n afstand van minder as 1 meter van ’n persoon was wat met COVID-19 gediagnoseer is.
Indien die werknemer se normale siekverlof (soos gestipuleer in die dienskontrak) uitgeput is, moet die werkgewer by die Werkloosheidversekeringsfonds vir ’n siekvoordeel aansoek doen.
Dit is belangrik om daarop te let dat dié kontak nie tot slegs die werksplek beperk is nie. Indien werknemers blootgestel is aan of kontak gehad het met iemand buite die werksplek wat COVID-19 onder lede het, en dié werknemers het aan die fisiekeafstand- en ander regulasies voldoen, moet die werkgewer die bogenoemde proses volg.
Indien werknemers nie fisieke afstand gehandhaaf het of enige van die regulasies oortree het wat deur die regering gepubliseer is, is die werkgewer nie verplig om betaalde siekverlof toe te staan nie. Daar kan ook dissiplinêre optrede teen dié werknemer ingestel word.