Middellike aanspreeklikheid van werkgewers
Deur Inge Labuschagne
Tot onlangs het middellike aanspreeklikheid verwys na werkgewers se aanspreeklikheid vir werknemers se onregmatige handelinge of werknemers se versuim om op te tree in die uitvoer van hul dienste in die werksplek.
Die hof het bogenoemde middellike aanspreeklikheid uitgebrei om voorsiening te maak vir omstandighede waar werknemers se onregmatige handelinge en/of versuim om op te tree verband hou met die dienste wat hulle lewer. Dit is dus nie meer net beperk na omstandighede waar die onregmatige handeling en/of versuim in die uitvoer van hulle dienste in die werkplek uitgevoer is nie.
Daar is dus ’n groter risiko dat werkgewers aanspreeklikheid gehou kan word vir enige onregmatige handeling of versuim om op te tree deur werknemers indien die optrede of versuim verband hou met werknemers se werksverpligtinge.
In die onlangse saak Stallion Security (Edms.) Bpk. V. Van Staden 2020 (1) SA 64 (SCA) het mnr. Khumalo, ’n werknemer van Stallion Security, mnr. Deon van Staden, ’n werknemer van Bidvest, vermoor. Mev. Van Staden het ’n dilekte-eis teen Stallion Security ingestel vir die verlies aan ondersteuning en onderhoud weens mnr. Van Staden se dood.
Mnr. Van Staden was die finansiële bestuurder by Bidvest, een van Stallion Security se kliënte. Khumalo was Stallion Security se terreinbestuurder by Bidvest. Hy het toegang gehad tot Bidvest se kantoorarea weens sy posisie by Stallion Security. Khumalo het geld geleen by persone wat hom met geweld begin dreig het as hy nie die geld sou begin terugbetaal nie. Khumalo se gedrag was baie verdag en Bidvest het versoek dat Khumalo nie meer Bidvest se terreinbestuurder moet wees nie. Teen dié tyd was Khumalo reeds op siekverlof geplaas.
Khumalo het weens sy posisie geweet dat Van Staden gereeld laat gewerk het. Op die betrokke dag het Khumalo gewag tot die meeste werknemers huis toe is (ongeveer 18:00) en die kantoorarea binnegegaan, waar hy Van Staden aangetref het. Hy het Van Staden met ’n vuurwapen aangehou en geld geëis.
Stallion Security het tydens die verhoor aangevoer dat hulle nie vir Khumalo se optrede aanspreeklik gehou kan word nie, omdat Khumalo uit sy eie belang en beweging opgetree het en nie in die uitvoering van sy pligte nie. Mev. Van Staden het egter aangevoer dat Khumalo weens sy posisie by Stallion Security toegang tot Bidvest se kantoorarea gehad het – en daarom moet Stallion Security ook aanspreeklik gehou word. Sy het ook aangevoer dat Stallion Security versuim het om Khumalo se toegang tot Bidvest se kantore weg te neem, en dat dit tot die moord op haar man – en haar skade – bygedra het.
Die Hoogste Hof van Appèl het beslis dat Stallion Security se versuim om Khumalo se toegangsregte by Bidvest se kantore weg te neem tot mev. Van Staden se skade bygedra het en dat hulle nie dié risiko behoorlik bestuur het nie.
Werkgewers moet dus verseker dat hulle alles in hul vermoë doen om soortgelyke risiko’s doeltreffend te bestuur wat hul personeel se onregmatige optrede of versuim om op te tree behels.