Drie tegnologies gedrewe besighede wat jy van die huis af kan begin

Met ’n sukkelende ekonomie en baie mense wat hulle werk verloor het weens die nagevolge van die COVID-19-pandemie is dit al hoe belangriker om jou eie inkomstestrome te vestig. Die maklikste (en goedkoopste) manier is natuurlik om ’n besigheid van jou huis af te begin en te bedryf om daardie ekstra paar rand elke maand te laat inrol.

1) Verkoop aanlyn

Vir aanlyn verkope is daar talle opsies om van te kies. Jy kan of jou eie webtuiste met ’n produkreeks skep of gebruik maak van ander platforms waardeur jy jou produkte verhandel. Webtuistes soos bidorbuy en takealot.com maak dit makliker vir jou as verskaffer om jou produkte by ’n groter groep mense uit te kry.

Bidorbuy

Om ’n item op www.bidorbuy.co.za te lys is gratis en ’n fooi word slegs op die item gehef sodra dit verkoop is. Om verkope te doen moet ’n individu eers as ’n koper registreer en dan na die “Sell an item”-bladsy gaan. Daar kan die verkoper een van twee opsies kies: “basic” of “advanced”. Om die basiese opsie te aktiveer is baie maklik; al wat jy hoef te doen is om die bepalings en voorwaardes te aanvaar en jy kan jou produk lys. Die meerderheid kategorieë op bidorbuy se fooi is tussen 1% en 5% op ’n suksesvolle transaksie, wat beteken dat verkopers hulle items kan lys sonder enige risiko vir hulself. Vir diegene wat belangstel om op bidorbuy te verkoop kan hulle een van die verkoopseminare bywoon wat potensiële verkopers help om die webtuiste optimaal te gebruik.

Takealot.com

Om produkte op takealot.com te verkoop is ietwat moeiliker, aangesien alle produkte deur ’n keuringsproses moet gaan. Om op die platform te verkoop moet voornemende verkopers eers op https://www.takealot.com/sell/apply gaan aansoek doen waar jy meer inligting oor sowel jou produk as jou besigheid verskaf. Dit kan tot tien dae neem vir terugvoer oor jou produk. Indien jou produk goedgekeur word, moet jy jou verkooprekening voltooi wat relatief baie administrasie vereis. Verkopers moet onder meer ook besluit hoe hulle bestellings gaan lewer. Voorraad kan of by takealot.com geberg word teen ’n bergingsfooi en daarvandaan versend word of dit kan van jou huis na ’n takealot.com-punt versend word soos bestellings inkom. Sodra die opsie gefinaliseer is kan jy begin om jou produk te verkoop.

Facebook Marketplace

Facebook het sy eie verkoopsplatform soortgelyk aan Gumtree en bidorbuy genaamd Facebook Marketplace. Verkopers kan hulle produkte gratis lys met ’n foto en in ’n sekere gebied. Potensiële kopers soek dan volgens die produk of die gebied waar hulle geleë is. Om ’n produk te lys:

  • Klik op die “Marketplace”-ikoon en dan op “Sell” of “Sell something”. Kies die tipe item wat jy verkoop en neem ’n foto van die item om op te laai.
  • Vul ’n beskrywing in en die prys van die item.
  • Bevestig jou ligging.
  • Kies ’n kategorie vir die item sodat dit makliker is vir kliënte om jou in die soekresultate te vind.

2) Airbnb

Indien verkope nie jou ding is nie maar jy ’n spaarkamer of tuinwoonstel het wat jy graag wil uitverhuur, dan is Airbnb ’n goeie opsie vir ’n addisionele inkomste. Dié tipe verhuring het ’n merkwaardige effek op die tradisionele gasvryheidsindustrie gehad, want jy kan letterlik ’n deel van jou huis verhuur aan mense van reg oor die wêreld. Airbnb het in 2007 begin en het vinnig gegroei om meer as sewe miljoen eiendomme te lys in 65 000 stede reg oor die wêreld. Maar hoe ontvang jy Airbnb-gaste?

Die eerste stap is om op Airbnb te registreer deur foto’s van jou eiendom wat jy wil verhuur op te laai en ’n beskrywing van die eiendom te gee. Sodra Airbnb die eiendom lys, kan dit deur reisigers gesien word wat na verblyf soek in jou omgewing. Gaste kan eiendom in ’n betrokke gebied besigtig gebaseer op verskeie kriteria, insluitend datum van besoek, die prys, die hoeveelheid kamers, ekstras soos ontbyt wat ingesluit word, die taal wat die gasheer praat en ander fasiliteite soos wifi en parkering. Voordat gaste ’n bespreking maak kan hulle ook addisionele navrae aan die gasheer rig via die webtuiste. Omdat Airbnb op grond van resensies werk kan sowel die gasheer as die gas mekaar gradeer, wat eerlike terugvoer moontlik maak met betrekking tot die persoon wat in jou huis bly, asook die verblyf.

Betaling van die verblyf vind deur Airbnb se platform plaas en Airbnb vat ’n fooi vir die diens wat hulle lewer. Aan die kant van die gasheer word ’n fooi van 3% op die totale bedrag gehef en aan die kant van die gas ’n fooi van 6% tot 12%. Gashere mag vereis dat gaste ’n deposito en/of skoonmaakfooi ook betaal.

Verblyf is egter nie die enigste opsie wat Airbnb se platform bied nie. Airbnb bied ook ’n ervaringsblad waarop jy jouself as toergids vir besoekers beskikbaar kan stel. Die doel hiervan is om aan reisigers ’n meer outentieke ervaring van die land of gebied wat hulle besoek te gee. Ervarings kan so eenvoudig wees soos ’n kookles of so uitspattig soos ’n partytjie op ’n luukse jag.

3) Digitale dienste

Fiverr

Fiverr is ’n webtuiste waarop ’n verskeidenheid digitale dienste gelewer word – van skrywers tot grafiese ontwerpers adverteer hulle dienste op die blad. Die naam Fiverr kom van die prys vir sekere dienste – $5. Die prys van jou diens kan natuurlik veel hoër wees, afhangende van die diens wat jy lewer. Mense van reg oor die wêreld maak gebruik van die webtuiste en alle transaksies vind deur die platform plaas.

Upwork

Upwork is ook ’n webtuiste waarop professionele dienste aanlyn aangebied word. Dit is ’n platform waarop rekenmeesters, regsgeleerdes en selfs ingenieurs en argitekte hulle dienste aanbied. Professionele dienste word teen ’n uurlikse fooi verkoop. Projekte word op ’n sterstelsel gegradeer, wat beteken hoe hoër jou gradering en hoeveelheid projekte, hoe meer kan jy vra per uur. Omdat die webtuiste in dollar verhandel, is dit ook ’n goeie opsie vir Suid-Afrikaners waar hulle hul dienste kan verkoop.