Hoe om Instagram te gebruik om jou produk of diens te verkoop

Miljoene mense en ondernemings maak elke dag gebruik van Instagram. Gebruikers wissel vanaf groot multinasionale ondernemings tot klein handelsmerke. Omdat so baie mense van Instagram gebruik maak, is dit die ideale manier om aan jou gehoor te bemark en baie mense maak geld deur hulle Instagram-profiel. Hier is ’n paar maniere hoe jy kan munt slaan uit jou profiel:

  • Gebordge samewerking

Invloedryke individue is uiters suksesvol in die bemarking van produkte en handelsmerke. Nege uit elke tien bemarkers glo dat die gebruik van individue meer effektief is as enige ander bemarkingskanale. Die voordeel is ook dat invloedryke individue nie noodwendig ’n massa volgers hoef te hê om verkope te verbeter nie. Dié groepering word verdeel in die volgende kategorieë:

  • Mega – meer as eenmiljoen volgers
  • Makro – tussen vyfhonderdduisend en eenmiljoen volgers
  • Middel – tussen vyftigduisend en vyfhonderdduisend volgers
  • Mikro – tussen tienduisend en vyftigduisend volgers
  • Nano – tussen eenduisend en tienduisend volgers

Elke groepering dien ’n doel in die bemarking van ’n produk. ’n Individu mag dalk ’n relatiewe klein groep volgers hê maar hulle volgers kan baie lojaal wees en maklik in die produk of diens inkoop wat die persoon ondersteun. Daarom kan ’n kleiner profiel ook bruikbaar wees vir die bemarking van ’n handelsmerk of produk. Die vorm van samewerking kan drasties wissel in koste. Eerstens kan jy hulle betaal op grond van die hoeveelheid volgers wat die persoon het en tweedens op grond van wat hulle verwag om betaal te word. Soms is produkte genoeg vergoeding vir ’n invloedryke persoon, terwyl ander ’n geldelike fooi vra vir hulle bemarking.

*Maak seker dat jy tersaaklike profiele gebruik vir bemarking. As jou onderneming byvoorbeeld vellies verkoop maak dit nie sin om ’n sjef te nader vir bemarking nie. In so geval sal dit sin maak om ’n buitelewe-entoesias te gebruik om jou produk te bemark.

2) Geaffilieerde bemarking

In stede daarvan om self ure te spandeer om jou produk of diens te bemark, kan jy geaffilieerde bemarking probeer. Bemarkers word dan op ’n kommissiebasis betaal om jou produk te bemark en ontvang ’n fooi vir elke transaksie wat suksesvol voltooi word. Indien jy byvoorbeeld ’n grimeringhandelsmerk het, kan iemand wat op Instagram baie plasings oor skoonheidsprodukte maak, help om jou produk met ’n koeponkode te bemark. Vir elke transaksie wat daardie koeponkode bevat, kry die bemarker ’n fooi. Dié vorm van bemarking is ideaal aangesien jou koste direk gekoppel is aan verkope en dit maak die risiko laag.

3) Skep jou eie profiel

Instagram maak dit maklik om op hulle platform te verkoop. Instagram Shopping laat jou toe om produkte te ”tag” op foto’s sodat gebruikers maklik kan uitvind waar om sekere produkte te koop. Daarbenewens kan gebruikers deur middel van Instagram Checkout ook direk deur dié platform koop of indien jy verkies dat kliënte deur jou webtuiste koop, kan jy jou webadres in jou Instagram-biografie plaas. Met meer as 130 miljoen gebruikers wat elke maand reageer op plasings wat verkope doen, is dit ’n goeie manier om jou produk self te bemark.

Blitswenke om verkope te dryf:

  • Maak gereeld plasings.
  • Maak seker jou profiel het ’n vaste styl en tema.
  • Gebruik URL’s in jou biografie.
  • Maak gebruik van hoëgehaltefoto’s.
  • Skep video’s.
  • Gebruik die regte hutsmerke.
  • Plaas inhoud van wat agter die skerms gebeur.
  • Moedig interaksie aan van jou volgers.