Hoe bereken jy jou likiede netto waarde?
Die berekening van jou likiede netto waarde volg ’n soortgelyke formule as om jou netto waarde te bereken, maar dit neem die transaksiefooie en ander koste in ag wat dit sal kos om jou bates in kapitaal om te skakel. Die bedrag is belangrik om te weet want dit stel jou in staat om te weet hoeveel kapitaal jy werklik tot jou beskikking sal hê indien jy van al jou bates ontslae sou raak. Netto waarde word bepaal deur die volgende som: Bates – laste = netto waarde. Maar tensy jou bates grootliks reeds likied is, is die som nie ’n akkurate weerspieëling van die kapitaal tot jou beskikking as jy vinnig van jou bates sou moes ontslae raak nie. In só ’n geval sal die som soos volg lyk: (bates – laste) – koste om bates te likwideer = netto waarde.
Netto waarde teenoor likiede netto waarde
Gestel jou bates se waarde beloop R500 000 maar jou laste is R200 000. Die laste kan skuld op die bate of ander skuld insluit. Dan sou jou totale netto waarde R300 000 wees. Jou likiede netto waarde gaan egter minder as R300 000 wees want daar is koste verbonde aan die verkoop van ’n bate. Gestel jy moet haastig ’n bate verkoop vir ’n noodgeval – in só ’n geval sal jy moontlik van ’n agent gebruik maak of ’n verlaagde aanbod op die bate neem om kontantvloei aan die gang te hou. In só ’n geval is die balans wat jy oor het ná die verkoop, minus die koste van die verkoop (soos transaksiefooie ensovoorts), jou likiede waarde.
Faktore wat likiede netto waarde beïnvloed
Dié faktore gaan van persoon tot persoon en van onderneming tot onderneming verskil afhangend van die tipe bates wat die persoon of onderneming besit. Ons kyk na die verskillende tipe bates en die moontlike uitwerking daarvan op likiede netto waarde:
1) Likiede bates
Likiede bates sluit in bates soos fisiese kontant en byvoorbeeld spaargeld in die bank. Omdat die bates reeds likied is gaan transaksiefooie amper geen uitwerking op jou likiede netto waarde hê nie.
2) Aftreeplanne
Baie mense neem aan dat die kontant in hulle aftreepolis likied is. In der waarheid is daar addisionele belasting betaalbaar op die waarde van ’n aftreepolis as jy dit vroeg onttrek. Indien jy beplan om geld vroeër uit jou aftreepolis te onttrek moet jy die verhoogde belasting in ag neem.
3) Eiendom
Aangesien daar baie veranderlikes met die verkoop van ’n eiendom is, is dit moeilik om akkuraat te bepaal wat die waarde daarvan is. Die verkoopprys van ’n eiendom word beïnvloed deur hoe besig die mark is, wat die rentekoerse is, hoeveel die agent in kommissie vra en hoeveel mense in die eiendom belangstel. Daarbenewens hang dit ook af van hoe haastig jy is om te verkoop. Indien jy haastig is gaan jy dalk genoodsaak wees om ’n laer aanbod te aanvaar. Omdat daar so baie veranderlikes is, is dit ’n goeie idee om sowat 10% af te trek van die markwaarde van jou eiendom wanneer jy jou likiede netto waarde bepaal.
4) Ondernemings
Dit is moeilik om die waarde van jou onderneming in jou likiede netto waarde in te sluit. Onder selfs die beste omstandighede is dit moeilik om die waarde van ’n onderneming te bepaal, wat nog te meer onder moeilike omstandighede. Buiten die waarde van jou onderneming is dit ook moeilik om te bepaal hoe maklik dit is om jou onderneming te verkoop. Lewer jy byvoorbeeld ’n konsultasiediens? Dan is jy kern tot jou onderneming se funksionering en maak dit die verkoopbaarheid daarvan moeiliker. Die meeste sake-eienaars raai bloot die waarde van hulle onderneming, maar as jy ’n meer akkurate aanduiding wil hê sal jy ’n kenner moet raadpleeg – en selfs hulle evaluasies is gebaseer op talle aannames.
5) Ander besittings
Jou ander eiendom, soos byvoorbeeld juwele, erfstukke, kuns of versamelstukke, is soms minder werd as wat jy mag dink. Net omdat iets soortgelyks vir ’n sekere prys verkoop beteken nie jy sal jou eiendom vir daardie selfde prys kan verkoop nie omdat dit nie noodwendig so maklik is om ’n koper te kry nie. Kenners meen dat jou persoonlike eiendom waarskynlik rondom 10% tot 20% van die waarde is wat jy meen dit is.