|

Entrepreneursfokus: Reni le Roux

Ons het met Reni le Roux gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede- entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek het grootgeword in ’n familie wat altyd iets self gedoen het. My oupa se werksetiek was ongelooflik om te aanskou en ek wou graag sy nalatenskap verder neem om my eie handelsmerk te begin. Om sy droom te bewaarheid om amandels aan Suid Afrika te voorsien, wou ek dit graag direk aan die verbruiker voorsien.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

In Covid-19 het ek gesien daar is ’n aanvraag om plaaslike ondernemings te ondersteun en ook die gemak te kan hê om aanlyn te koop. Die handelsmerk The Almond Girl sê presies wat die verbruiker soek – amandels. Ek wou graag ’n hoëgehalteproduk in mooi verpakking verskaf.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Die nodige kennis in my onderneming is nie altyd beskikbaar nie, veral as jy verskillende “hoede” in die onderneming moet dra. Dit is partykeer moeilik om objektief na ’n probleem te kyk, veral as jy ’n idee in jou kop het.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Elke keer as ek ’n bestelling van ’n klient kry wat ná sy eerste bestelling terugkom, weet ek dat my gehalte en prys reg is vir die verbruiker. Dit gee my die selfvertroue dat die onderneming sal groei met voortgesette ondersteuning.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Plaaslike amandels direk van my familieplaas wat aanlyn beskikbaar is. “Farm to fork”-idee. 

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Ek is nie net nog ’n groot fabriek wat amandels verpak nie. Die amandels in my pakkie is van die plaas en is enkele oorsprong amandels wat beteken dat dit net van ons plaas afkom.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Ek gebruik e-pos-subskripsies waar kliënte van enige nuus kan hoor. Sosiale media speel ’n groot rol en ek kan ook afslagkodes gebruik om verkope te kry.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Die grootste uitdaging sou ek sê is om myself te vertrou en ook hulp en raad van ander mense te ontvang. Om ’n entrepreneur te wees, kan eensaam wees en dit is nie altyd maklik om innoverend te dink nie.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Met meer verkope kon ek meer maniere vind om my verpakkingsproses te fasiliteer en masjinerie aan te koop asook werksgeleenthede te skep. Ek het ekstra hulp gekry om my verpakking vinniger asook meer produktief te maak. Ek het besluit om my verpakking te vereenvoudig deur die drukwerk net op die pakkie te laat verskyn en nie die plakkers te gebruik nie. Dit laat die produk ook mooier lyk.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Innovasie en kernwaardes moet in lyn met mekaar wees. Deurlopende terugvoering is nodig van die verbruikers en nuwe idees moet oorweeg word sodat dit tot voordeel van die onderneming is.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Ek het geleer dat ek my produk die beste ken. Niemand gaan noodwendig so passievol oor jou onderneming wees soos jyself nie.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

As jy nie ’n risiko neem nie, mag daar dalk nie ’n geleentheid bestaan nie. Risiko is goed mits dit binne perke gehou word. Vir ’n klein onderneming moet ’n mens konsekwent bly asook konserwatief.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek wil graag die persoon geleentheid gee om te groei asook die vertroue kry om besluite te neem. Ek gee raad en sal deurlopend opbouende kritiek gee waar daar probleme is.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Iemand wat inisiatief neem en nie bang is om hard te werk nie.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

My oupa se storie gebruik ek dikwels. Jy kan van niks af iets begin en ’n sukses maak.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Deur die waarheid te praat

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Kettingwinkels en om die huishoudelike naam te word vir amandels. Net soos Ina Paarman of Mrs. Balls wil ek bekend wees vir die amandelproduk in Suid-Afrika. Dit gaan ook gepaard met handhawing van dieselfde gehalte.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Baie. My webtuiste is gebou op Shopify en dit integreer met The Courier Guy se platform om my bestellings te hanteer. Daar word ook van verpakkingsmasjiene gebruik gemaak sodra daar genoeg volumes is.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Prys en gehalte en goeie dienslewering

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Ek sal nog amandelverwante produkte wil vervaardig. Tans is ek besig met nuwe produkontwikkeling en wil ek eers sien hoe die mark reageer met die produkte wanneer dit reg is.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Indien jy dit gedoen wil he, doen dit self. En dat jy in jouself moet glo en indien iemand hulp aanbied, aanvaar dit.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Altwee gee my baie bevrediging, so ek dink ’n balans moet gehandhaaf word. Indien een meer verg as die ander, kan ’n mens tyd afstaan om dit weer in balans te kry. As mens nie ’n balans handhaaf nie het dit uitbranding en stres tot gevolg. Ek probeer om gelukkig te wees in my werk- en persoonlike lewe.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Stel ’n sakeplan op sodat jy kan beplan vir die toekoms. Fokus wat die verbruiker wil hê en verstaan jou mark. Wees konserwatief met finansies, want jy weet nie hoe jou situasie mag verander nie. Wees aanpasbaar

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek wil mense graag meer inlig oor die verskillende variëteite amandels, hul opvoed en ’n bron van inligting wees. Die plaaslike amandelmark is nog baie klein en ek sal dit graag wil laat groei sodat my produk meer toeganklik vir ander sal wees.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Kry mentorskap in dele waarin jy nie sterk is nie. Gebruik jou sterkpunte en vra vir raad waar jy nie selfvertroue het nie.

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek sou graag vroeër mentorskap wou ontvang want ek voel ek sou vinniger kon groei as ek meer selfvertroue gehad het.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Die familiegeskiedenis van my oupa en die spesiale stukkie grond in die Klein Karoo.