|

ENTREPRENEURSFOKUS: LENELIA NAUDé

Ons het met Lenelia Naudé van Kind: Tweens en Tieners gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek het nie net een oggend opgestaan en gedink ek moet ’n onderneming begin nie. Hierdie was ’n reis wat 20 jaar terug begin het, maar my dogter moes eers ’n voortienermeisie word alvorens hierdie roeping en pad wat ek met Kind vir Tweens en Tieners loop, ’n realiteit kon word. Die inspirasie agter my onderneming het gekom as gevolg van die feit dat ek eerstehands gekonfronteer was (my eie 11-jarige dogter) met die wipplank wat meisies ervaar wanneer hulle deur puberteit gaan. So in kort, is my ware inspirasie se naam Luca! My doel is om ’n uiteenlopende platform te skep, waardeur elke meisie (voortiener en tiener) holisties gesond kan wees – liggaam, siel en gees!

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Die idee het ontstaan deur my eie ervaringe, en waarnemings wat ek gemaak het.

Ek het ’n behoefte in die mark raakgesien vir ’n velsorgreeks vir voortienermeisies wat geen chemikalieë bevat nie. Die velsorgreeks vir meisies, is maar net een van die aspekte wat aangespreek moet word wanneer jy en jou dogter die pad stap wat met ontwikkeling gepaard gaan. Soos die tyd aangestap het, het ek opgemerk dat baie ouers en meisies oningelig en onseker is oor die veranderinge wat emosioneel en fisies plaasvind, en nie weet hoe om dit te hanteer nie. Na verloop van tyd en ure se navorsing, het ek ’n boek begin saamstel wat al die wit olifante in die kamer aanspreek: puberteit, menstruasie, vriende, sosiale media wat spesifiek gerig is op voortienermeisies.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Een van die grootste struikelblokke was die gebrek aan finansiering. Ek moes buigsaam wees en innoverend dink, dit is hoe die idee van agente vir die produkte gekom het. So kon ek ander dames se netwerke gebruik, sonder om geld vir bemarking te betaal. Die agente wat ek gewerf het, het my in staat gestel om grootmaatbestellingsvan die velsorgprodukte uit te stuur, wat direk weer ’n invloed gehad het op die kontantvloei van die onderneming.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

As ek terugdink, was die aha-oomblik gewees toe ek besef hoe baie agente graag deel wil wees van die netwerkagente. Ek het besef hierdie kan werk! Ek het die potensiaal raakgesien. Daar was twee redes hiervoor: daar is ’n behoefte by ouers om hulle kinders te leer hoe om na hulleself te kyk, maar dit op ’n manier te doen waar hulle nie blootgestel is aan skadelike produkte nie. Die ander rede is die feit dat dit vir sommige mense ’n ekstra inkomstestroom kon bied.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

My onderneming het ’n paar onderafdelings. Eerstens dien dit as ’n platform, om jou as ma (of versorger) van ’n voortiener, asook elke meisie self, te bemagtig in die area van haar emosionele en liggaamlike ontwikkeling, asook die sosiale uitdagings wat sy daagliks mee te doen kry. Die kennis en leiding wat die platform skep, help haar met selfvertroue, en om bekwaamheid en deursettingsvermoë te kweek. Elke jong meisie moet geliefd, waardig, gewaardeer en gehoor voel. Dit is ook die rede waarom die boek ontstaan het, en waar die idee van ’n webwerf met al die inligting ontstaan het.

Tweedens, verskaf ons ’n natuurlike velsorgreeks aan jong meisies en seuns.

Ons is besig met navorsing en ontwikkeling van ’n sakreeks vir jongmense wat sal bestaan uit oornagsakke, toiletsakkies en naweeksakke.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

In terme van die produkte, glo ek die gehalte van die natuurlike velsorgreeks plaas dit in ’n klas van sy eie, veral vir kinders met sensitiewe velle. Die produkte se prys is baie mededingend en bekostigbaar. Die gehalte van ons produkte word deurgaans dopgehou en ons is altyd op die uitkyk vir nuwe produkte wat ons kan byvoeg.

Ons inligtingsboek, blog en leidingsmateriaal vir voortiener- en tienermeisies, is relevant en pas aan by ons kliënte se spesifieke vereistes.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Ons betrek ons kliënte deur blogplasings op ons sosialemediabladsye te skryf, en lok op so manier persoonlike interaksie uit onder ons kliënte. In ’n wêreld waar filters en onrealistiese uitbeeldings van mense se lewens die norm is – is my missie om eg te wees. ’n Lojale kliëntebasis vind aanklank by mense waarmee hulle hulself kan vereenselwig.

Ons het ook ’n gemeenskapsprojek in samewerking met Helpende Hand se FroueVonds wat die #Helphetta-projek het. Dit is ’n projek wat sanitêre doekies insamel vir dogters wat uit minder gegoede huise kom. Op hierdie manier betrek ons die gemeenskap om saam met ons hande te vat en doekies in te samel vir die #Helphetta-projek.

Ek is ’n baie groot voorstander van samewerking en netwerkgeleenthede. Dit gee jou handelsmerk kredietwaardigheid, en so kan jy ook potensiële nuwe kliënte bereik.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

My grootste uitdagings wat ek ervaar is die ekonomiese verandering in Suid-Afrika. Om ’n produk op die mark te hê wat ’n mededingende prys het, maar tog esteties mooi lyk en goeie gehalte is, raak ’n uitdaging a.g.v. verpakkingspryse en ook hoë koerierkoste.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Ons onderneming het gegroei deur ’n agentebasis. Ons het ’n paar dames in Suid-Afrika gekry wat as agente opgetree het en ons velsorgprodukte so in verskillende stede verkoop het. Ek het wel eers opgehou met die agentestruktuur omdat ek besig is om die onderneming te herstruktureer.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Ek beskou innovasie as ’n uitbreiding van ons kernwaardes. Terwyl ons voortdurend werk aan verbeteringe en nuwe idees, verseker ons dat elke stap wat ons neem, in lyn is met ons missie en visie. Dit is om deurentyd seker te maak dat ons nie afwyk van die feit dat ons alle aspekte van meisiewees op ’n holistiese vlak wil aanspreek nie.

Daar is ’n baie nou korrelasie tussen innovasie en entrepreneurskap, en dit speel ’n baie groot rol in die groei van jou onderneming. Om innoverend te dink hoef nie noodwendig nuwe produkte te wees wat deurentyd ontwikkel word nie, dit kan ook uitbreiding of verbetering van bestaande produkte of idees wees. Om te skep is een van my “superkragte”. Ek hou neigings en medianeigings dop, dus sal ek vinnig weet dat ons bedryf besig is om te verander. Daarom moes ek aan ’n idee dink, hoe ek meer mense kan bereik. EN wat is meer gemaklik as om dit in jou eie TV-kamer op jou eie tyd te kan doen, daarom werk ek baie hard daaraan om die webwerf/toep te ontwikkel waar ma en dogter in die gemak van hulle eie huis alles te wete kan kom oor MEISIES. ’n Eenstopdiens!

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Die een fout wat ek gemaak het, is die feit dat ek dadelik kapitaal uit die onderneming getrek het, en daardeur het ek geleer dat jy verkieslik jou onderneming moet bou, terwyl jy ’n ander inkomstestroom het. Dit help met die kontantvloei van die onderneming. Die ander les wat ek geleer het, is dat jy nie jou idees met almal moet bespreek nie.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Daar gaan altyd risiko’s in ’n onderneming wees, en maak nie saak hoe gereed jy vir dit is nie, iets kan jou altyd omvêrgooi. Daarom moet mens vinnig leer om aanpasbaar te wees, en altyd met die groter prentjie (perspektief) na probleme te kyk, en nie ingetrek word in die klein struikelblokke nie. Kyk na moontlike uitkomste, maar wees ook bereid om aan te pas en op jou voete te dink wanneer onvoorsiene omstandighede aan jou deur kom klop. Beplan!

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek is ’n natuurlike motiveerder, en my leierskapstyl is ’n kombinasie van ’n demokratiese en transformerende styl. Ek wil graag elke persoon in die span ontwikkel en bemagtig sodat hulle betrokke kan wees en elkeen die beste weergawe van hulleself en hul talente tafel toe kan bring. Want verskillende mense bring verskillende kreatiwiteit en denke na die tafel toe, en soms is ’n vars perspektief net die benadering wat jy moet kry.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Wanneer ek ’n span bou, kyk ek eerstens na die rolle wat elkeen moet vervul. Jy moet jou onderneming evalueer en kyk wat is die doelwit en tipe taakverdeling van elkeen, alvorens jy jou span oorweeg. Ek het ’n sanguiniese/geel of I-temperament, dus is die persoon agter die CV vir my baie belangrik. Ek neem ook die volgende aspekte in ag:

Watter vaardighede word die meeste benodig?

Wie se sterkpunte, vaardighede en kundigheid pas die beste by die onderneming?

Wat is jou kandidate se swakpunte?

Is die persoon ’n spanspeler?

Word diversiteit aangespreek?

Jou kandidaat moet ook by jou kultuur en waardes van jou maatskappy kan inpas.

Laastens, maar dit moet eintlik die heel eerste punt wees, is bereidwilligheid.

Dit is belangrik vir my dat elke spanlid voel dat hulle ’n belangrike rol speel in die sukses van die onderneming.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ek inspireer my werknemers deur waardering en erkenning. Ek is ’n natuurlike motiveerder (soos genoem), en nie almal word op dieselfde manier gemotiveer nie. Sekere mense word gemotiveer deur woorde en ander deur belonings soos bv. bonusse of afdae. Weet met watter tipe mens jy werk, sodoende sal jy ook weet hoe om elke individue te motiveer.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Uitdagings word hanteer deur oop en eerlike kommunikasie. Ek prioritiseer konflikoplossing en werk saam met my span om oplossings te vind wat almal bevoordeel. Dit verseker dat ons as ’n sterk span vorentoe kan beweeg.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

My korttermynvisie is die uitrol van my boek wat 90% klaar is, maar dit is die voorloper van my langtermynvisie. My langtermynvisie is uiteenlopend. Ek wil baie graag ’n toep ontwikkel met ’n maandelikse subskripsiefooi, waarop ouers en hul dogters toegang kan hê tot inligting en materiaal wat hulle kan gebruik as gereedskap. Die inligting moet by professionele persone ingesamel word sodat dit relevant maar ook akkurate inligting is wat weergegee word. Omdat daar ’n redelike kostekomponent aan toeps is, gaan ek vir eers ’n webwerfgebaseerde toep skep waar al die inligting vir eers beskikbaar sal wees deur ’n subskripsiediens.

Die tweede gedeelte hoe ek wil uitbrei is om die velsorgreeks nasionaal in kettingwinkels, apteke en ander winkels te verkoop. Omdat ek aanvanklik die agenteroete gevolg het, wou ek graag lojaal bly aan die agente en het nog nie die reeks uitgerol in winkels nie, dit is egter die eerste daadwerklike stap wat ek nou gaan volg om uit te brei.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Tegnologie speel ’n sentrale rol in my toekomsplanne, veral in terme van die toep en die uitrol van die subskripsiediens op die webwerf. Dit help ons om meer doeltreffend te werk en ook saam met die tyd te verander.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Ons mark verander, maar bly tog ook dieselfde. Elke voortienerdogter gaan dieselfde gereedskap nodig hê om te ontwikkel, dus sal ons net ons aanslag verander soos wat die tye verander. Die inligting gaan egter dieselfde bly.

Ons bly mededingend deur ons produkte en bemarking aan te pas soos wat ons voortienermeisies groei, ek hou die media dop om te sien wat die nuwe neigings onder meisies is. Deur voortdurend marknavorsing te doen en insette van ons kliënte en selfs volgers op ons sosialemediablaaie te kry, bly ons aanpas by die verandering in die kliënte se behoeftes.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Ek het reeds genoem dat my volgende groot doelwit die bywerking van my webwerf is sodat ons ’n subskripsiediens aan ouers kan bied. Ek wil my mark uitbrei met addisionele velsorgprodukte, badreeks, bagasiereeks, klerereeks, juwele sodat ek ’n eenstopwinkel kan wees vir ouers wat alle behoeftes van adolessente meisies aanspreek.

My grootste doelwit is om eendag ’n franchisegewer (“franchisor”) te wees met ’n Kind vir Tweens en Tieners-hub in elke dorp.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Hierdie reis het my geleer dat ek baie meer aanpasbaar, veerkragtig en gedrewe is as wat ek myself in die verlede krediet voor gegee het. Dit het my ook geleer dat harde werk en deursettingsvermoë altyd vrugte afwerp, selfs wanneer die pad moeilik is. Dit was nie net maanskyn en rose nie, ek het ook geleer dat alles nie noodwendig altyd in realiteit uitspeel soos wat jy dit in jou kop uitdink nie.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Soms is dit nodig om die hele gesin te betrek by die verpakking, dan maak ons dit sommer ’n kuiersessie. Maar dit is belangrik om jou tyd te bestuur, take te prioritiseer en seker te maak dat daar tye is wat jy die werk by die werk los en tyd te maak vir ontspanning. Ek glo dat om tyd saam met familie en vriende te spandeer net so belangrik is as om hard te werk.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

My raad aan aspirantentrepreneurs is om nooit op te gee nie. Hou aan om te leer, wees buigsaam, en moenie bang wees om risiko’s te neem nie. Dit is belangrik om passievol te wees oor wat jy doen. Maak seker dat jou dienslewering die beste in die industrie is want as pryse van produkte relatief naby aanmekaar is, is dit diens wat jou die oorhand oor jou mededingers gaan gee.

My ander stukkie raad is, indien dit moontlik is, jy jou onderneming parallel met ’n ander inkomstestroom moet bedryf, sodat jou kontantvloei nie dadelik deur jou oorhoofse koste geabsorbeer word nie.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek hoop dat ek eendag kan terugkyk en weet ek het ’n verskil in meisies se lewens gemaak. Ek hoop dat as gevolg van Kind daar meer ma’s/versorgers/oumas/sussies en selfs pa’s is wat kan sê dat ek beter verstaan hoe adolessensie ons kinders beïnvloed, en dit het gehelp met die voorbereiding om my dogter ’n holisties gesonde volwassene te maak.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Dit vat TYD! Uit die aard van my persoonlikheid wil ek graag dinge gister gedoen hê. In prinsiep werk dit nie so wanneer jy ’n onderneming bou nie.

Wees konsekwent met jou bemarking, wanneer jou onderneming generies groei is die kwaliteit van jou kliëntebasis ’n baie beter fondasie. Kwaliteit oor kwantiteit.

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek het my onderneming begin nadat ek afgelê is. Dit het ongelooflike finansiële implikasies gehad. As ek dit oor kon doen, sou ek minder wou droom en my drome vroeër ’n realiteit wou maak, sodat die oorgang van oorhoofse koste stelselmatig gebeur. Dit sou my in staat gestel het om vinniger uit te brei. Ek sou ook vroeër die produkte wat ek reeds het, wou kommersialiseer.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Ek wil hê mense moet ons onderneming onthou as ’n instansie wat met hart en siel betrokke was by die ontwikkeling van jong meisies. Dat dit ’n passie en roeping was wat uit die hart uitgeleef was, en dat ons ’n daadwerklike verskil gemaak het in dogters se lewens.