AfriForum Netwerk: ’n Netwerk wat vir jóú werk
Dis ’n hele gemeenskap wat ’n kind grootmaak – en net so kan ’n gemeenskap ’n besigheid laat werk. Daarom is AfriForum Netwerk nie bloot ’n netwerk van besighede en verbruikers nie: Dit is ook ’n gemeenskap van besighede en besigheidspersone wat mekaar ondersteun en aanmoedig. Dit is meer as net ’n lys van besighede – as dit reg benut word, is dit ’n waardevolle element wat jy kan aanwend om jou eie besigheid te help. Ons het op ’n punt gekom waar besighede mekaar nie as mededingers moet sien nie, maar eerder as vennote wat saam aan ’n ondersteuningsnetwerk bou.
Dis heeltemal gratis om deel van AfriForum Netwerk te word. Boonop is AfriForum Netwerk deurlopend besig om aan nuwe idees te dink om die besighede op ons netwerk by te staan. Die staat van inperking en die impak daarvan op jou as besigheidspersoon is ons eerste prioriteit.
AfriForum Netwerk nou
Tydens die staat van inperking is ons hoofdoel om jou as sakepersoon van AfriForum Netwerk bewus te maak.
Ons stel lyste saam van ondernemings wat dienste in hierdie tyd lewer sodat verbruikers weet waar hulle noodsaaklike produkte en dienste in hierdie tyd kan kry.
Die webtuiste bevat artikels wat in hierdie tyd van belang is vir besigheidspersone. Die artikels word deur kenners geskryf en fokus op arbeids-, finansiële en regsvrae wat jy dalk mag hê.
Verder het ons ook ’n paneel raadgewers saamgestel om jou te ondersteun as jy vrae het wat nie in die artikels beantwoord word nie.
Ons verwelkom ook artikels van besigheidspersone – vertel ons hoe jy in hierdie tyd kop bo water hou en wat jou planne is wanneer die staat van inperking herroep word.
AfriForum Netwerk ná COVID-19
Wanneer alles weer na normaal terugkeer, gaan ons nie ophou om belangrike inligting te publiseer nie. Daar is egter nuwe elemente wat deel van AfriForum Netwerk gaan word waaruit jy en jou besigheid kan baat vind.
Die Tinteltong Toekennings sal ook dan voortgaan. Dié toekennings gee erkenning aan besighede wat in Afrikaans sake doen. Besighede op AfriForum Netwerk word as finaliste aangewys en dié toekenningsgeleentheid word elke jaar net groter.
Die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie bied aan jou die ideale geleentheid om te wys wat in jou steek. Daar is elke jaar wonderlike pryse op die spel en dit is ’n titel waarmee jy maar mag spog.
Vooruit bied ’n opleidingsdiens aan klein besighede wat spesifieke aspekte van hul besigheid wil verbeter, hetsy bemarking, sosiale media of die bou van ’n handelsmerk. Ons bied iets vir elkeen.
’n Netwerk is beter as om alleen te werk. Ons nooi jou uit om vandag nog deel van AfriForum Netwerk te word: www.afriforumnetwerk.co.za/lys-onderneming.