AfriForum Sakenetwerk verkies loodskomitee om ondernemings in Bloem te help blom

| DeurWian

AfriForum Sakenetwerk se nuutgestigte plaaslike sakenetwerk in Bloemfontein het Dinsdag ’n loodskomitee aangewys om dié sakenetwerk behoorlik op die been te bring. Hierdie loodskomitee gaan, onder leiding van die pasaangestelde voorsitter, daarop fokus om ’n bestuur vir die plaaslike sakenetwerk aan te stel. Die bestuur gaan op sy beurt daarop fokus om verskillende ondernemings aan mekaar voor te stel, verwysingsbemarking te fasiliteer, die gemeenskap te rugsteun, handelsmerke te versterk en verhoudinge met ander ondernemings in die gebied op te bou.”

AfriForum Sakenetwerk se loodskomitee bestaan uit Mirna Butler (Mirna Butler Recruitment) as voorsitter, Gerrit Louw (Ernestco) as ondervoorsitter en koördineerder van opleiding en mentorskap, Marisa Kruger (Piekfijn – Ontwerp en Handgemaak) as koördineerder vir die sosiale portefeulje en Elrike Viljoen (Akademia) as sekretaris.

Butler glo dat netwerke en kontakte ’n onderneming die beste moontlike geleentheid gee om te groei en dat dit direk gekoppel is aan die sukses van ’n onderneming. “Dit is opwindend om voor te vat en ’n verskil te maak in die gemeenskap deur hiérdie sakenetwerk. Daar is vir elke onderneming ’n plek onder die son,” sê sy.

“AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is, so wanneer ’n onderneming floreer, floreer ’n gemeenskap,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

Die plaaslike sakenetwerk in Bloemfontein gaan op 6 Mei sy eerste netwerkgeleentheid hou. Die jaarlikse Tinteltong Toekenningsgeleentheid vir die streek gaan ook by hierdie geleentheid aangebied word. Dié toekenning beloon ondernemings wat dienste in Afrikaans lewer. Enigeen wat wil inskakel by Bloemfontein se sakenetwerk kan Mirna Butler by 082 467 7988 kontak.

AfriForum Sakenetwerk bied verskeie voordele aan ondernemings wat by die netwerk aansluit. Behalwe vir die werkswinkels oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking, wat teen ’n minimale koste deur Akademia aangebied word, word maandelikse netwerkgeleenthede ook aangebied.

Klik hiér vir meer inligting oor AfriForum Sakenetwerk en sy plaaslike sakenetwerke.