Agt idees waarmee jy ekstra geld kan verdien

Die verswakkende ekonomie het tot gevolg dat talle besigheidseienaars op alternatiewe inkomstestrome moet fokus. Dit is nie maklik om skielik jou fokus te verander nie, maar as jou onderneming stilstaan en jy geen ander keuse meer het nie, is dit tyd om na jou vaardighede te kyk en nuwe horisonne te verken. Die geheim is steeds om te fokus op dit waarin jy goed is; op jou sterkpunte en nie op dinge waarmee jy self sukkel nie. As jy weet hoe om op sosiale media reaksie te kry of jy verstaan belasting beter as jou kollegas of jy het ’n geheime passie vir kuns, gebruik dit om ’n nuwe inkomstestroom te vestig.

Hier is ’n paar idees om jou te help:

Bied Engels aan

Doen ’n TEFL-kursus om jouself te kwalifiseer om Engels te kan aanbied. Die TEFL-kursus kan sommer aanlyn gedoen word en neem sowat 120 ure om te voltooi. In China en talle ander lande is daar ’n groot behoefte na Engelse aanlyn onderwysers. Daar is sowel buitelandse as plaaslike agente beskikbaar wat jou kan help om werk te kry. Jy kan tussen R100 en R200 ’n uur verdien, afhangende van die ure wat jy werk en wat jou kwalifikasies is. Sekere agentskappe vereis dat jy ’n universiteitsgraad het. Die voordeel is dat jy jou ure kan bepaal of minstens kan kies of jy in die dag,  aand, weeksdae of naweke wil werk. Die buigsaamheid maak dit aanloklik. Al wat jy benodig is ’n goeie internetverbinding, ’n TEFL-kwalifikasie en geduld om die regte agentskap op te spoor.

Afleweringsdiens

Weens die toename in e-handel en met talle koerierdienste wat hulle deure moes sluit, kan jy ’n afleweringsdiens in jou omgewing begin. As jy die gepaste voertuig het kan jy plaaslik begin bemark en aanbied om mense se pakkies of vragte in ’n sekere omgewing te gaan optel en aflaai. Die voordeel is dat jy klein kan begin; in ’n stad is dit maklik aangesien baie maatskappye pakkies heen en weer stuur. Of wat van mense wat trek of die behoefte het vir die aflewering van groter vragte? Begin op Facebook-groepe navrae doen en vind uit of daar so ’n behoefte is!

Plaaslike toeragent

Het jy unieke kennis oor jou omgewing of kan jy spesiale ervarings aanbied? Begin ervarings op Airbnb verkoop; selfs al kan jy nie onmiddellik aan buitelandse toeriste verkoop nie, kan jy by plaaslike toeriste begin. Dalk kan jy unieke kos aanmekaar slaan en etes aanbied, ’n geskiedenis- of spooktoer van ’n omgewing doen of mense op staproetes of wildritte neem.

Vryskutwerk

Daar is talle platforms aanlyn beskikbaar waar jy jou talente ten toon kan stel. As jy fotografie kan doen, grafiese ontwerp, kan skryf, video’s kan vervaardig, kan teken of oor enige ander vaardigheid beskik, probeer dit op Fiverr of Freelancer adverteer. Verkoop jou dienste aan die begin so goedkoop as moontlik, sodat jy goeie verwysings kan kry en daarop kan bou.

Boer met groente

Of jy nou in die stad bly of toegang tot grond het, om te boer bly altyd ’n opsie. As jy groen vingers het kan jy groente, kruie of blomme plant om ekstra geld te maak. Stel ’n hidroponikastelsel in jou agtererf op, of as jy groter grond het, oorweeg om ’n tonnel op te rig. Gaan steek kers op by mense wat dit reeds doen. Vind in jou omgewing uit watter behoeftes daar bestaan; dalk is daar ’n klein restaurant wat weekliks blaarslaai of kruie by jou sal koop. As jy genoeg spasie het kan jy selfs met eiers en kuikens begin boer as jy goeie broeikaste kan aanskaf.

Vervaardig seepprodukte

Begin eksperimenteer met handgemaakte seep, rome en gesigwasse. Trek kundigheid in as jy moet en skep produkte vir ’n spesifieke veltipe of met ’n unieke fokus. Dit is iets wat jy van jou huis af kan bedryf en in ’n e-handelwinkel kan omskep. Meer en meer mense wil handgemaakte produkte gebruik wat meer natuurlike produkte bevat.

Transkribeerdienste

Is jy fluks met tik? Daar is talle ondernemings wat van transkribeerders gebruik maak. Prokureurs laat briewe so skryf, kerke wil hulle preke verwerk en organisasies se aanlyn vergaderings moet dikwels getranskribeer word. As jy ’n ekstra paar uur ’n dag het, begin jou eie transkribeerdiens vir toesprake, video’s of klankopnames.

Oefenprogramme

Het jy op ’n goeie oefenroetine afgekom? Kry ’n paar vriende bymekaar en begin oefenklasse aanbied, of skep en versprei jou eie oefenprogramme elektronies! Mense is op soek na nuwe maniere om gesond te bly en die gimnasium is nie altyd ’n opsie nie. As jy agterkom daar is wel ’n mark vir jou programme, kan jy selfs video’s begin maak en gesonde spyskaarte vir kliënte uitwerk!

As jy nóg idees of navrae het, deel dit met ons op ons Facebook-blad. Het jy baie sosialemediavolgelinge? Dan kan jy ’n handelsmerkambassadeur vir bekende handelsname word. Of het jy dit al oorweeg om ’n e-boek te skryf en dit self elektronies te publiseer? Daar is honderde idees wat wag om ontdek te word. Stel weekliks vir jouself doelwitte met aksiestappe sodat jy jouself verantwoordelik kan hou om tyd aan jou nuwe onderneming te spandeer!