Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie: Jong sakevroue wat ander vroue en laerskoolmeisies hierdie Vrouemaand inspireer

Deur Leandie Bräsler

AfriForum Onderwys en AfriVriendelik wil sowel volwassenes as kinders aanmoedig en inspireer om daar waar hulle is, ’n verskil in die gemeenskap te maak. Deur jou vaardighede as entrepreneur te ontwikkel, kan jy moontlik eendag ’n werkgewer wees wat ’n verskil maak deur werk te skep. Jy leer om selfstandig en onafhanklik te wees van iemand wat vir jou werk moet gee. Kinders moet besef dat hulle ook eendag “die baas” kan wees – mits hulle hard werk aan hulle idees en die uitvoering daarvan.

Augustus is Vrouemaand, en daarom het AfriVriendelik en AfriForum op 20 Augustus 2019 besoek afgelê by Alta Strauss, met wie ons in ’n vorige blog gesels het (sien skakel: https://www.afrivriendelik.co.za/besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie-ons-gesels-met-plaaslike-entrepreneurs-wat-laerskoolleerders-inspireer/). Tydens hierdie besoek het ons gaan kyk na haar nuwe klerereeks se fotosessie en ook gesels met dinamiese en suksesvolle entrepreneurs. Alta Strauss is ’n motiveringspreker, skrywer, blogger en filantroop, terwyl sy ook ’n klerereeks onder haar eie naam ontwerp. Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap, was self betrokke by hierdie fotosessie, asook Sarina Frauenstein van Pretoria FM, wat ook ’n trotse mediavennoot is van die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie. AfriVriendelik en AfriForum glo dat daar ’n vorm van goeie netwerke moet bestaan en dit was prettig om op hierdie manier mekaar se hande te kon vat.

Die entrepreneurs met wie AfriForum en AfriVriendelik gesels het, is twee hardwerkende vroue: Natasha Tonkin, ’n fotograaf van Natasha Tonkin Photography en Gin & Tonkin Photography, asook Michelle Heyneke, ’n grimeerkunstenaar van Unmissable Makeup. Albei hierdie inspirerende vroue het hulle beslis onderskei as entrepreneurs in Suid-Afrika en hulle motiveer ander vroue en jong meisies om ook hulle drome na te jaag.

Wanneer het jy besluit om ’n entrepreneur te word?

  • Natasha Tonkin (NT): Ek was nog altyd ’n dromer. Selfs toe ek vir ’n korporatiewe maatskappy gewerk het, het ek geweet ek wil meer met my lewe doen. Ek wil meer bereik en my drome uitleef. Ek het baie vinnig agtergekom dat ek nie vir ’n baas wil werk nie, en het toe in 2014 besluit om die stap te neem en my eie besigheid te begin. Dit was seker een van die beste besluite wat ek ooit geneem het, en alhoewel dit nie altyd maklik was nie, was dit absoluut die moeite werd.
  • Michelle Heyneke (MH): Nadat ek vir vyf jaar geswot het en ʼn jaar prakties gewerk het in die rigting waarin ek geswot het, het ek baie vinning besef dat dit nie my passie in die lewe is nie. Ek het toe op die ouderdom van 25 besluit om my eie hart en kop te volg.

Wat is daardie een belangrike aspek wat jou aangespoor het om ’n entrepreneur te word?

  • NT: Ek het grootgeword in ’n huis waar my ma vir my en my suster self grootgemaak het en my pa altyd gewerk het. Vandat ek kan onthou, was my ma net altyd daar vir ons. My ma het haar werk gelos toe ek gebore is, om voltyds by haar kinders te kon wees. En dit is iets wat ek ook graag eendag vir my kinders wil hê. Ek wil daar kan wees met hulle aktiwiteite en ek wil daar wees om hulle te kan grootmaak. Albei my ouers het my baie geïnspireer om ’n lewe te bou waarmee ek gelukkig is en dit is die grootste rede dat ek vandag ’n entrepreneur is.
  • MH: Vir my het dit gegaan oor geluk. Om gelukkig in mens se werk te wees, is vir my uiters belangrik omdat jou werk iets is wat jy vir 90 persent van jou lewe doen. Ek kan nie die gevoel beskryf om uiteindelik iets te doen wat jou totaal en al gelukkig maak en vrede gee nie.

Hoe het jy aan die idee vir jou besigheid gekom?

  • NT: Ek het grafiese ontwerp studeer, en het altyd gedink as ek ’n besigheid sou begin, dat dit op grond van my kwalifikasie sou wees. Die Here het ander planne vir my gehad. Ek was nog altyd baie lief vir fotografie maar nooit in my wildste drome het ek gedink dat ek dit voltyds sou doen nie. Ek het die spreekwoordelike geloofsprong geneem en vandag is ek ’n suksesvolle fotograaf.
  • MH: In die tyd wat ek besluit het om my eie pad te volg, het ek op Facebook afgekom op ʼn advertensie van ʼn grimeerskool in Sandton. Dit het dadelik my aandag getrek en ek het toe dadelik navorsing begin doen oor die beroep.

Hoe het jy op die naam vir jou besigheid besluit?

  • NT: Ek gebruik twee fotografiestyle: die een wat Natasha Tonkin Photography is, is my hoofstyl. Ek het in April van hierdie jaar bewus geword daarvan dat die Here nog groter planne het met my besigheid en ek het toe nog ’n styl ontwikkel, wat nou die Gin & Tonkin-handelsmerk is. Ek en my vriendin het eendag buite op my stoep gesit en gin drink. Ek kan nie eers onthou hoe sy in die gesprek daarop gekom het nie, maar sy het dit Gin & Tonkin genoem. My mond het oopgehang, want sy is die een wat hierdie unieke naam uitgedink het. En vandag is dit altyd ’n interessante gesprek wanneer mense my vra hoe ek op hierdie naam besluit het.
  • MH: Dit was vir seker die moeilikste aspek van ’n besigheid begin vir my. Ek en my destydse mentor het vir maande met name gespeel, want ek wou nie net enigiets gebruik nie. Dit moes vir my iets beteken en veral ook vir die dames met wie ek in kontak sou kom. Vir ’n rukkie was daar advertensieborde wat oor die hele Gauteng versprei was, met die bewoording “If you want to be Unmissable advertise here”. Ek het dit nooit raakgesien nie, totdat ek eendag op pad was kampus toe, en ek het net daar en dan besluit om die naam “Unmissable” te gebruik. Elke vrou verdien om onmisbaar te voel.

Hoe het jy jou onderneming befonds toe jy daarmee begin het?

  • NT: Ek is baie bevoorreg om ouers te hê wat my 100% ondersteun. Ek sou dit nie sonder hulle kon doen nie. Hulle het my aan die begin baie gehelp met fondse om die regte kameras te kon koop en die regte toerusting te kon kry. Daar is ongelukkig nie ’n “geheim” rondom geldmaak nie – ʼn mens moet baie harde werk insit om die vrugte te kan pluk. Vandag weet ek, as ek nie werk reël nie en nie nuwe kliënte kry nie, word ek nie betaal nie. Dit is nie soos ’n voltydse werk waar jy elke maand ’n vaste salaris kry nie. ʼn Mens moet baie hard werk, maar dit is absoluut die moeite werd.
  • MH: Ek is bevoorreg om wonderlike ouers te hê, veral ’n pa met ’n besigheidsbrein het wat my ongelooflik baie gehelp het om te kom waar ek vandag is. My ouers het vir my grimeerkursus betaal, maar ek het nooit gaan sit en wag vir werk om in my skoot te val nie. Ek het elke werkie wat ek kon kry, aangegryp en gedoen, of daar geld betrokke was of nie.

Hoe het jy ’n suksesvolle kliëntebasis gebou?

  • NT: Ek het begin by vriende en familie. Ek het fotosessies verniet gedoen om my portefeulje op te bou. Almal ken iemand wat foto’s benodig. Ek het maar myself opgewerk tot waar ek vandag so besig is met troues en fotosessies dat ek amper nie meer oop naweke het in die jaar nie.
  • MH: Om ’n kliëntebasis op te bou verg harde werk, baie ure se navorsing en geld. Ek het al my werk tot op daardie stadium op sosiale media geplaas en begin versprei. Ek was gelukkig dat twee van my vriendinne daardie jaar getrou het, en ek kon hulle foto’s toe begin gebruik om myself by bruide te adverteer. Ek voel hoe meer jy insit, hoe meer gaan jy uitkry. As jy bereid is om hard te werk, lang ure in te sit en ʼn bietjie geld te spandeer, sal ʼn mens uiteindelik die vrugte daarvan pluk. Hoe meer werk ek begin doen het, hoe meer mense het van my begin hoor. Vandag werk ek net met kliënte wat deur ander tevrede kliënte na my verwys word.

Hoe adverteer jy jou besigheid en watter taktiek is die suksesvolste?

  • NT: Ek gebruik 90% van die tyd sosiale media. Mense besef nie altyd watter belangrike rol sosiale media speel nie. Soms sit ek net ’n foto op met ’n mooi byskrif en ander kere betaal ek vir ’n advertensie. Die meeste van my kliënte kontak my op sosiale media. Dan is verwysings deur tevrede kliënte ook ’n baie belangrike advertensievorm. Ek sê altyd “goeie diens praat”. As jy ’n goeie diens lewer gaan daardie kliënte jou bemark waar ook al hulle gaan. Ek kry baie werk op grond van verwysings.
  • MH: Ek maak gebruik van sosialemediaplatforms soos Facebook en Instagram, eenvoudig omdat almal vandag op sosiale media is. Sodoende versprei ʼn mens se werk makliker en verder teen ’n kleiner koste. ’n Taktiek wat baie goed vir my werk, is om foto’s te plaas wat my werk beklemtoon. Ek probeer my plasings eenvoudig hou, met so min as moontlik bewoording. “Kort en kragtig” is hoe ek my sosiale media sou opsom – jy wil dus jou produk of diens die fokuspunt maak.

Enige raad wat jy het vir jong vroue of meisies (Besigheidsbytjies) wat hulle eie besigheid wil begin?

  • NT: Vat net die kans. Daar gaan altyd redes wees om dit nie te doen nie, maar jy het net een goeie rede nodig om daardie kans te vat. Dit mag dalk nie uitwerk nie, maar wat as dit wel uitwerk? Wat as jy ’n lewe vir jouself kan bou wat jy nooit gedroom het jy kon hê nie? Onthou dat alles in die lewe met een of ander risiko gepaard gaan, maar as jy nie daardie besluit gaan neem nie, sal jy nooit weet wat jy kon bereik het nie. As jy besluit om daardie kans te vat, maak seker jy het die regte mense aan jou kant – mense wat jou droom aanmoedig en dit nie probeer afbreek nie.
  • MH: Doen dit! Moenie tou opgooi nie en moenie bang wees nie. Die begin is altyd moeilik maar as jy na ’n jaar of twee terugkyk, is dit die beste gevoel ooit om te weet jy het dit gedoen en jy het iets vir jouself bereik. As jy val, staan weer op. Daar is niks so bemagtigend as om jou eie baas te wees en ’n sukses van jou beroep te kan maak nie. As honderde ander vroue dit kan doen, kan jy ook.

Vanjaar het AfriVriendelik en AfriForum Onderwys besluit om saam te werk en ’n kompetisie – Besigheidsbytjies – vir junior entrepreneurs van stapel te stuur. Laerskoolleerders kan in twee kategorieë inskryf: graad 1 tot 3 (7- tot 9-jariges) en graad 4 tot 7 (10- tot 13-jariges). Met hierdie entrepreneurskompetisie wil ons kinders beloon wat wys dat hulle selfstandig kan werk en kreatief kan wees om idees in ’n besigheid te omskep.

Die doel is ook om jong kinders se entrepreneuriese vaardighede van vroeg af te ontwikkel. Laerskoolleerders van oor die land heen sal met hulle beste produkidees en basiese vaardighede meeding om hulle produkte suksesvol te ontwikkel, te bemark en te verkoop. Die publiek sal vir die topsesspanne stem, waarna ’n paneel die wenners sal aanwys.

AfriForum Onderwys glo die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou.

Alle laerskoolleerders landwyd kan vir die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie inskryf. Inskrywings het reeds op 5 Augustus geopen en sluit einde Augustus 2019. Alle inskrywings vind aanlyn plaas by www.besigheidsbytjies.co.za. Die publiek sal gedurende Septembermaand geleentheid kry om aanlyn vir hulle gunsteling entrepreneur te stem – hulle stemme tel 50%. Die beoordelaars sal ook geleentheid kry om deur die loop van September die inskrywings te beoordeel – hulle beoordeling tel die oorblywende 50%. Die wenners van hierdie kompetisie sal op 1 Oktober 2019 op alle sosialemediaplatforms aangekondig word. Pretoria FM tree met trots op as mediavennoot vir vanjaar se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie.

Besoek gerus www.besigheidsbytjies.co.za vir meer inligting.