Beskermde bekendmakings (fluitjieblasers)

Deur Inge Labuschagne

Misdaad en korrupsie is aan die orde van die dag in Suid-Afrika. Die COVID-19-inperking is geen uitsondering nie. Daagliks berig die media van miljoene rande se tenderbedrog, nepotisme en korrupsie met die verlening van finansiële hulp aan besighede en die aankoop van beskermende toerusting tydens die pandemie. Die feit bly staan dat korrupsie en misdaad ook in die werkplek voorkom.

Die wetgewer het met die Wet op Beskermde Bekendmakings, 26 van 2000 (hierna “die Wet” genoem) die leemtes probeer vul wat in die Suid-Afrikaanse reg bestaan om werknemers te beskerm wat kriminele en ander onreëlmatige gedrag in die werkplek bekend maak – ook bekend as “whistleblowing” / fluitjieblasers / alarmmaker (Maatskappywet).

Die oogmerke van die Wet is onder meer –

  • om werknemers te beskerm teen ’n beroepsnadeel;
  • om remedies te skep in verband met ’n beroepsnadeel;
  • om prosedures en meganismes te skep waarvolgens inligting verantwoordelik bekend gemaak kan word;
  • om enige bepalings in ’n dienskontrak wat daarop ingestel is om sodanige bekendmaking te ontmoedig of te verbied, nietig te verklaar.

Daar word onder normale omstandighede van ’n werknemer verwag om inligting van die werkgewer vertroulik te hanteer en nie vir eie gewin aan te wend nie. Die Wet skep meganismes waarvolgens onbehoorlikhede deur ’n werknemer bekend gemaak word.

Vir doeleindes van die Wet beteken “bekendmaking” die bekendmaking van inligting deur ’n werknemer rakende enige optrede van ’n werkgewer of medewerknemer, waar hy/sy rede het om te glo dat die inligting een of meer van die volgende aantoon:

  • Dat ’n misdaad gepleeg is, gepleeg word of waarskynlik gepleeg gaan word.
  • Dat ’n persoon versuim, of waarskynlik gaan versuim, om aan ’n regsplig te voldoen.
  • Dat ’n onreg in die regspleging plaasvind of plaasgevind het of waarskynlik gaan plaasvind.
  • Dat die gesondheid of veiligheid van ’n individu in gevaar gestel is, gestel word of waarskynlik gestel gaan word.
  • Dat die omgewing beskadig is, beskadig word of waarskynlik beskadig gaan word.
  • Dat onbillike diskriminasie gepleeg word.
  • Dat enige aangeleentheid soos hierbo aangedui opsetlik verberg word, verberg is of waarskynlik verberg gaan word.

Wanneer is ’n bekendmaking beskermd en wat beteken dit?

’n Bekendmaking wat in goeie trou deur ’n werknemer gemaak word, is ’n beskermde bekendmaking indien die werknemer –

  • redelikerwyse glo dat die inligting wat bekend gemaak word en enige aantygings wat daarin vervat word, wesenlik waar is; en
  • dit nie vir persoonlike gewin nie (behalwe waar ’n beloning ingevolge ’n wet betaalbaar is).

Die bekendmaking moet aan een of meer van die volgende voorwaardes voldoen:

  • Die werknemer moet ten tyde van die bekendmaking rede hê om te glo dat hy as gevolg daarvan aan ’n beroepsnadeel onderwerp sal word indien hy die bekendmaking aan sy werkgewer sou doen.
  • Die werknemer moet rede hê om te glo dat bewysmateriaal met betrekking tot die onbehoorlikheid verberg of vernietig sal word indien hy dit aan sy werkgewer bekend maak.
  • Die werknemer moet reeds voorheen daardie inligting aan sy werkgewer of ’n liggaam soos die openbare beskermer of die ouditeur-generaal bekend gemaak het en daar is nie binne ’n redelike tyd stappe gedoen nie.
  • Die onbehoorlikheid moet van ’n buitengewone aard wees.

REDELIKHEID VAN ’N BEKENDMAKING

Die redelikheid van die bekendmaking word bepaal aan die hand van verskeie faktore soos:

  • Aan wie dit gemaak is.
  • Die erns van die onbehoorlikheid.
  • Of die onbehoorlikheid voortdurend is en of dit nog gaan plaasvind.
  • Of die bekendmaking strydig is met ’n vertrouensplig van die werkgewer teenoor ’n ander persoon (“’n derde”).
  • Die stappe wat reeds deur die werkgewer of ’n liggaam soos die ouditeur-generaal of die openbare beskermer na aanleiding van ’n vorige bekendmaking gedoen is.
  • Waar die werknemer die bekendmaking aan sy werkgewer gemaak het en of die werknemer aan die werkgewer se prosedures voldoen het.
  • Die openbare belang.

BEROEPSNADEEL

’n Beroepsnadeel beteken, in verhouding tot die beroepsomgewing van die werknemer:

  • om aan dissiplinêre stappe onderwerp te word;
  • om vanweë die bekendmaking ontslaan, geskors, gedegradeer, geteister of geïntimideer te word;
  • om verplasing of bevordering geweier te word;
  • om deur die werkgewer ’n getuigskrif geweier te word of van ’n nadelige getuigskrif voorsien te word;
  • om nadelig met betrekking tot sy diens, profesie of amp, met inbegrip van werkgeleenthede en werksekerheid, geraak te word.

Geen werknemer mag deur sy werkgewer aan ’n beroepsnadeel onderwerp word op grond daarvan of gedeeltelik op grond daarvan dat hy/sy ’n beskermde bekendmaking gedoen het nie. Sou ’n werknemer onder hierdie omstandighede ontslaan word, sal sodanige ontslag ’n outomaties onbillike ontslag vir doeleindes van die Wet op Arbeidsverhoudinge wees. ’n Werknemer wat ’n beskermde bekendmaking gedoen het, kan van ’n werkgewer vereis om hom/haar te verplaas vanaf die pos of posisie wat hy/sy beklee het, om beskerm te word teen enige moontlike beroepsnadeel of viktimisasie weens die bekendmaking. So ’n werknemer moet egter redelikerwys glo dat hy/sy nadelig geraak kan word as gevolg van die bekendmaking.

’n Werkgewer behoort dus ’n prosedure en beleidsdokument beskikbaar te hê waarvolgens beskermde bekendmakings gedoen kan word. Sulke prosedures kan verskeie vorme aanneem: dit kan ingevolge ’n spesiale bepaling in die werkgewer se grieweprosedure of ’n spesiale aanmeldingsmeganisme geskied. Sodanige prosedure moet egter met ’n groot mate van vertroulikheid gepaard gaan, anders sal werknemers, uit vrees vir vergelding, huiwerig wees om daarvan gebruik te maak. Die Wet bevestig dat ’n bekendmaking beskerm word indien dit in goeie trou gedoen word en wesenlik in ooreenstemming met die werkgewer se prosedures gedoen word. ’n Bekendmaking sal ook beskermd wees as dit in goeie trou aan die werkgewer gedoen word, selfs waar die werkgewer geen prosedure voorgeskryf het nie.

Vir enige navrae of advies oor so ’n proses en/of beleidsdokumente, skakel ons gerus, sodat een van ons deskundiges u kan bystaan.