Boekwinkels en gemeenskapsekonomie

Deur Alana Bailey

Die inperkings wat weens COVID-19 ingestel is, het wêreldwyd groot skade aan die ekonomie aangerig. Alle sektore is geraak, insluitend die uitgewers- en boekbedryf.

In 2019 is berig dat die wêreld se onafhanklike boekwinkels vir die tweede agtereenvolgende jaar groei getoon het, nadat dié sektor vir twintig jaar lank inkrimping getoon het. Dié groei kan toegeskryf word aan die gewildheid van boeke teenoor die van e-boeke wat weer toegeneem het. ’n Mens kan gewis met sekerheid aanvaar dat 2020 weer ’n jaar van agteruitgang sal wees, maar hierdie keer kan ons ’n virus blameer, en nie die wisselvallige lojaliteit van lesers nie.

Waarom is boekwinkels dan belangrik? Is hul nie maar dinosourusse wat moet plek maak vir kettingwinkels met boekafdelings en aanlyn winkels nie?

Bibliofiele in verskeie lande wy deesdae ’n bepaalde dag of week aan die bemarking van onafhanklike boekwinkels. In die Verenigde Koninkryk is die week van 22 Junie vanjaar as Week van die Onafhanklike Boekwinkel verklaar – juis toe boekwinkels na die inperkingstyd begin heropen het. Ter viering van dié spesiale geleentheid het die gewilde skrywer, Alexander McCall Smith, ’n gedig met die titel “Getting lost in a bookshop” geskryf. Daarin vertel hy dat mense in woestyne en oerwoude verdwaal, maar as hy kon kies, hy in ’n boekwinkel wil wegraak:

“I would not send for help

No SOS is necessary

When one is entirely happy with the company”[1]

Vir toegewyde boekliefhebbers en lesers is dié suiwer genot van verken en verdwaal in boekwinkels ’n bekende ervaring en iets wat ons tydens die moeilke inperkingstye intens gemis het.

Boekwinkels speel dan ook ’n unieke rol in die bemarking van publikasies. In 2015 het Kraal Uitgewers ’n peiling onder lesers gedoen om vas te stel waar kopers verkies om nuwe boeke te koop. ’n Oorweldigende persentasie het aangedui dat hul boeke in boekwinkels koop.

Die vraag wat daarby aansluit, was wat hul oorreed om ’n boek te kies. Die meerderheid (37%) het genoem dat hul die boek iewers sien en dit dan onbepland optel; verder is 32% deur resensies aangespoor om ’n spesifieke boek te koop; 16% deur mediaberigte; 9% deur vriende en familie se aanbevelings en 6% deur advertensies.

Dit bewys dus hoe belangrik ’n boekwinkel is, want dit skep ’n ruimte waar belangstellendes die geleentheid kry om rond te snuffel en “ontdekkings” te maak. In sy artikel “The wonder of getting lost in a bookshop” skryf Jonny McCormick dat ’n boekwinkel ’n unieke ervaring aan die koper bied. Aanlyn bestellings word deur gerief en vinnige aflewering gekenmerk, maar in ’n winkel word al die sintuie beloon. Kopers stel hul oop om onbepland boeke te vind wat op een of ander lewensgebied waarde tot hul bestaan sal voeg. Hy kom tot die gevolgtrekking dat aanlyn kope veral doelgedrewe is, terwyl ’n besoek aan ’n boekwinkel die koper se horisonne verbreed.

Aanlyn winkels en e-boeke het volgens die skrywer Mark Forsyth wel ’n belangrike bydrae tot die landskap van boekwinkels gemaak. Hy noem tereg dat boekomslae voor die koms van aanlyn winkels en e-boeke al hoe verveliger geword het. Skielik moes boeke met die vaal aanlyn weergawes kompeteer en het uitgewers meer moeite met die ontwerp van omslae en die uitleg van publikasies begin doen. Hy skryf dat boekwinkels nou mooier is as wat dit in die voorafgaande honderd jaar was.

McCormick noem ook dat boekwinkels romantiek na jou toe bring. Hy gee die wyse raad dat boeke ’n veel beter aandenking aan reise is, as ’n belaglike duur yskasmagneet. Ek kan dit beaam. Ek hoef maar net boeke op te tel wat ek tydens my reise gekoop het, om die oomblik, die winkel, die inhoud van die boek en die reis in herinnering te roep.

Ek kan een voorbeeld van so twintig jaar gelede noem. My hart was gebreek. Ek het see toe gegaan om beter te probeer voel, maar dit was koud, mistroostig en het aanhoudend gereën. Ek het nie beter gevoel nie en het skuiling in ’n boekwinkel op die boonste verdieping van ’n bouvallige winkelkompleks gaan soek. Die eienares was, soos alle goeie boekwinkeleienaars, ’n boeke- én mensekenner van formaat. Sy het my in ’n leunstoel ingeboeder voor ’n groot komvenster wat die grys see en lug omraam het. Sy het vir my ’n koppie koffie en Gabriel García Márquez se One Hundred Years of Solitude gebring.Kort voor lank het ek my só in die boek ingeleef dat hartseer en koue vergete was en my trane opgedroog het. Inderdaad, soos Jen Campbell in haar wonderlike The bookshop book skryf,

 “bookshops are

time machines

spaceships

story-makers

secret-keepers

dragon-tamers

dream-catchers

fact-finders

& safe places.”[2]

Wanneer ’n mens opsoek is na unieke boekwinkels, is Campbell se gids ’n goeie beginpunt, hoewel dit effe skraal is wat Suid-Afrikaanse opsies aanbetref. Dit is hier waar AfriForum Netwerk tot die boekwinkelsoekers se redding kom met hierdie lys vanuit ons eie kontrei:

  • ABC Boekwinkel (Klawer)
  • Graffiti Books & Stationery (Pretoria)
  • Kraal Uitgewers Boekwinkel (Centurion)
  • Littera/Lig in Duisternis Uitgewers (Brits)
  • Moments of Grace Christelike Boekwinkel (Richardsbaai)
  • Nita’s Tweedehandse Boekwinkel (Roodepoort)
  • Sharlene Books and Gifts (Bloemfontein)
  • Stationery Mecca (Pretoria)
  • The Book Corner (Pty) Ltd (Strand)
  • The Bookkeeper Shop (Pretoria)
  • The Neverending Bookshop (Germiston)

McCormick beklemtoon in die bogenoemde artikel waarom dit noodsaaklik is om winkels soos hierdie te ondersteun. Nie alleen is die personeel gewoonlik mense met ’n vurige liefde vir boeke en gevolglik ook deskundiges wat jou oor aankope kan adviseer nie, maar hul is ook inwoners van die omgewing. Deur onafhanklike boekwinkels te ondersteun, beloon jy die spesialiskennis van die persoon agter die toonbank, eerder as die kettingwinkelwerker wat ook waspoeier en broodroosters verkoop. Jou geld vloei nie weg na een of ander anonieme aankoopkantoor, êrens in ’n ander stad of selfs land nie, maar bly grotendeels in jou gemeenskap. Jy dra dus direk tot jou gemeenskap se ekonomie en welvaart by.

Met elke boek wat jy koop, beloon jy ook ’n skrywer se talent, ’n uitgewer en drukker se tegniese vaardighede en selfs die voortbestaan van die taal waarin die publikasie geskryf of vertaal is.

McCall Smith beskryf die afloop van ’n produktiewe boekwinkelbesoek so:

“Much later, laden with new friends

– which is what books essentially are –

I’d find my way to a counter

Reluctant to leave,

But knowing and grateful for the knowledge

That bookshops are still there …”[3]

En hopelik gaan hulle nog lank met ons wees!

——————-

 

Weet jy van nog boekwinkels in of buite die land wat Afrikaanse boeke aanhou? Laat weet ons by netwerk@afriforum.co.za of vir oulike boekwinkels in die buiteland wereldwyd@afriforum.co.za.

Vir lekker lees oor boekwinkels van oraloor:

______________________________________________

[1].             Smith A.M. 2020. Getting lost in a bookshop. Alexandermccallsmith.co.uk. 23 Junie. Beskikbaar by https://www.alexandermccallsmith.co.uk/news/getting-lost-bookshop/. Geraadpleeg op                      11 September 2020.

[2].             Campbell, J. 2014. The bookshop book. London:Constable.

[3].             Smith A.M. 2020. Getting lost in a bookshop. Alexandermccallsmith.co.uk. 23 Junie. Beskikbaar by https://www.alexandermccallsmith.co.uk/news/getting-lost-bookshop/. Geraadpleeg op                      11 September 2020.

Foto krediet: Alana Bailey