|

entrepreneursfokus: ann-sue mostert

Ons het met Ann-Sue Mostert van Mostert Raubenheimer Ingelyf gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek het altyd op skool baie gepraat en uitgeblink in redenaars. Almal het altyd gesê ek is ’n regte prokureur. Met verskeie aanlegtoetse deur my skoolloopbaan het dit ook aangedui dat die regsberoep ’n goeie opsie vir my sal wees. Ek het toe reeds vroeg in skool al besluit om ’n prokureur te word. Ek was een van die heel eerste ses studente wat by Solidariteit se Helpende Hand ’n studiebeurs ontvang het, siende dat my pa oorlede is toe ek nog op skool was en my ma nie die fondse gehad het om my te laat studeer nie. Steve Hofmeyr het onder andere ook fondse geploeg in die Helpende Hand-projek en is dit een van die redes waarom ek graag ook terugploeg in die gemeenskap.

Ek het ook vanaf my matriekjaar deeltyds by ’n prokureursfirma begin werk om ondervinding op te doen en so ook gehelp om my eie studiekoste te betaal.

Die lewe het sy paaie met my gevat en ek het vir firmas gewerk en selfs my tone in die korporatiewe water gesteek, maar op daardie stadium het ek nog nie besef wat presies my passie is nie.

In 2019 is ek weg by my laaste werkgewer en het eintlik nie ’n ander keuse gehad as om op my eie te gaan nie. Ek het betrokke geraak by ’n nie-winsgewende organisasie, Unchain our Children, wat se oogmerk is om mishandelde vrouens en kinders te help.

Ek het ’n paar sake vir hierdie organisasie gedoen, waar ek dan namens die benadeelde vrou of kind sou optree … en net daar het ek geweet waar my passie lê. By kinders!

Ek het Mostert Prokureurs op die been gebring, en steeds ’n verskeidenheid tipe sake gedoen, maar my passie was om te fokus op kinders en om kinders te help. In 2020, so tussendeur Covid-19 het ek my wonderlike vennoot ingetrek en daar het Mostert Raubenheimer Ingelyf begin. My vennoot het vandaar gefokus op die ander tipe sake, terwyl ek my passie kon uitleef met familiereg.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Ek het klomp draaie geloop en nie geweet presies waar my passie lê nie, tot ek begin het om met kinders te werk, en ek het ook op daardie stadium my oudste seuntjie gehad. Ek het besef hoe lelik die wêreld en mense kan wees, en hoe weerloos kindertjies is. Ek het besluit ek wil ’n praktyk hê waar ek kinders kan help, al het ek ook besef dat my praktyk winsgewend gaan moet wees en dat ek eenvoudig nie NET gratis werk vir kinders kan doen nie. Ek het besef dat my passie nie noodwendig by ’n groot regsfirma gaan inpas nie, en dat ek dit self gaan moet laat werk.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Ek het my lewe gegee aan my passie en in die proses meer pro bono- (gratis) werk begin doen as wat ek normale betalende werk gedoen het. Dit het my amper my firma gekos.

Ek het op die harde manier geleer dat daar ’n balans moet wees tussen betalende kliënte en pro bono-werk. Ek en my vennoot het dus besluit dat ek slegs ’n sekere hoeveelheid pro bono-werk op ’n gegewe stadium kan doen.

Dit het harde werk gekos, maar ons het weer die skip gedraai!

Ek het ook aangesluit by Legal Aid se Judicare-stelsel, waar ek ook nou aangestel word om namens kliënte en ook kinders op te tree, en sodoende kan ek my passie uitleef en steeds ’n inkomste verdien.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Ek en my vennoot is beide kinders van die Here en luister graag as die Here met ons praat. My gryse ou moeder het gebid vir die perfekte vennoot en die Here het hom gestuur. Sy bid ook gereeld vir ons firma. Een nag het sy ’n droom gehad oor die firma en die sukses wat ons nog gaan behaal. Net daar het ek daardie droom myne gemaak en geweet dat dit ’n sukses sal wees!

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

’n Prokureursfirma met omgee! ’n Kliënt of twee verwys na my as “die prokureur met die omgeehart” en dit is vir my ’n groot kompliment.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Ons is nie net ’n gewone prokureursfirma nie. Ons fokus op kliëntediens en betrek ons kliënte by die proses. Ons probeer om ons kliënte op hul gemak te stel, want die hof kan ’n baie intimiderende plek wees.

Ek het ’n gawe om kliënte kalm te hou en ’n ding te verduidelik sodat dit vir ’n persoon wat nie regskennis het nie, sin maak.

Ek raak emosioneel betrokke by my sake en gee alles om te help, veral as daar kinders betrokke is. My kliënte het almal byvoorbeeld my selfoonnommer en hulle weet dat hulle altyd die vrymoedigheid kan hê om my dag of nag te kontak as daar iets dringend opduik.

Ek is ’n baie empatiese mens, en doen nie net wat ek doen vir die geld nie. Ek doen dit omdat ek omgee en ’n passie het. Ek dink dit is wat kliënte aangetrokke laat voel.

Ek lê baie aande en huil oor die lelik wat aangaan in my sake. Ek lê baie aande en bid vir kliënte en kinders, sonder dat hulle dit eers weet. DIT MAAK MY ANDERS!

Ek is ’n geregistreerde mediator wat fokus op familieregmediasie. Ek sal altyd eers poog om ’n saak te medieer en sodoende kan ek steeds ’n inkomste verdien, terwyl ek die kliënte baie hartseer en koste bespaar.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Ek hanteer nie net ’n saak nie. Ek maak seker my kliënt is gemaklik en weet presies wat volgende gaan gebeur. Ek betrek hulle by die proses en gee gereeld terugvoer.

Ek bied ook aan my kliënte ’n skouer om op te huil, ’n klankbord, ’n empatiese oor en ’n EERLIKE opinie.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Die ekonomie is maar ’n groot uitdaging. Mense het eenvoudig nie derduisende rande om regskoste te betaal nie. Ons ervaar ook baie uitdagings by die howe en Meesterskantore ens. Daar is byvoorbeeld ’n groot tekort aan regters en sake vir die Hooggeregshof word tans vir 2029 geplaas.

Covid-19 was ook ’n moeilike tyd en het verseker nie die onderneming aangehelp nie.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Ons personeelgroep het gegroei en bestaan tans uit my en my mededirekteur, twee wonderlike prokureurs wat nie bang is om te werk nie, ’n persoonlike assistent wat eintlik die firma se hoeksteen is en ’n student wat volgende jaar haar klerkskap by ons begin.

Die belangrikste strategiese besluite wat ons geneem het was eerstens om deposito’s te begin vra. Ek veral, was geneig om mense dadelik jammer te kry en dan in te spring en te begin werk. Dit het dan ongelukkig male sonder tal gebeur dat ek die saak suksesvol afhandel en na maande se soebat vir betaling op die ou einde die rekening moes afskryf as slegte skuld.

Tweedens moes ek die besluit neem en die kopskuif maak om nie NET pro bono-werk te doen nie. Ek moes besef dat pro bono-werk nie die firma winsgewend gaan maak en kos op die tafel gaan sit nie.

Soos genoem het ek ook aangesluit by Legal Aid se Judicare en kan nou vir kliënte en kinders wat die hulp nodig het optree, en steeds ’n inkomste daaruit verdien.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Van ons kernwaardes is eerlikheid, kliëntediens, empatie en etiek.

Ek sal nooit my waardes waarmee ek grootgemaak is opgee ter wille van ’n saak of kliënt nie. En ons kliënte weet dit.

Ons het onlangs in samewerking met Facilegis ook begin om werkswinkels aan te bied vir klerke en nuwe prokureurs, wat ten doel het om die nuwelinge in die beroep die beginsels van etiek en kliënte diens te leer en hulle te help om die basiese beginsels van “prokureur wees” onder die knie te kry.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Ek het gewerk sonder om deposito’s te vra en mense net te maklik vertrou en dit het my duur te staan gekom.

Ek het ook my passie uitgeleef deur pro bono-werk te doen, en die “werk vir ’n inkomste” bietjie agterwee gelaat.

Nou vra ons deposito’s (tensy ons regtig besef die fondse is nie beskikbaar nie en ’n afbetalingsooreenkoms aangaan) en ek balanseer my pro bono-sake en betalende werk.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Ons probeer om in die beter maande fondse weg te sit vir die minder beter maande.

Ons het ook verskeie versekering in plek.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek het ’n baie unieke leierskapstyl. Ek doen glad nie mikrobestuur of loer oor my personeel se skouers nie. Ons het ook glad nie vaste werksure nie en almal kan van die huis af werk as hulle sou wil. Die belangrikste is eenvoudig dat die werk gedoen moet word en kliënte tevrede en ingelig moet wees.

Ek help baie eerder ’n personeellid reg met ’n grappie eerder as deur waarskuwings en uittrapsessies. Ons nooi personeel uit om vir raad te kom vra of te kom praat as iets pla, en ek kan met gemak sê dat ons personeel inderdaad die vrymoedigheid het om met ons te praat.  

Ons firma is werklik soos ’n familie. Ons eet elke Maandag etenstyd saam, ons bid saam vir die firma en salf ook gereeld ons kantore. En al ons personeel staan bankvas agter ons!

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Dit is vir my belangrik dat almal in die span dieselfde beginsels en waardes moet hê. Dit is vir my belangrik dat elke lid van die span sy deel doen sonder dat ons nodig het om oor enige iemand se skouers te loer.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ons hou gereelde byeenkomste. Eet elke Maandag saam om die week wat voorlê te bespreek. Ons hou gereeld ’n funksie of eet sommer net uit om ons werknemers te bedank vir hul harde werk.

Ons prokureurs werk ook op ’n kommissiebasis, wat natuurlik ook ’n goeie motivering is.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

BID. Ons bid en vra leiding en beplan dan vandaar af hoe ons die uitdaging gaan aanpas. Ons as direkteure praat ook gereeld. Sonder my vennoot en ons Vader sou ek NOOIT deur die uitdagings kon kom nie.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Ons wil graag ons span nog uitbrei en meer mense ’n geleentheid gee om by ons familie aan te sluit.

My visie is eerstens om ’n suksesvolle onderneming te bedryf waaruit ons as direkteure ’n stabiele inkomste kan ontvang.

My langtermynvisie is om eendag ’n afdeling te hê wat slegs pro bono-familie werk doen vir kinders en minderbevoorregte mense wat werklik nie regskoste kan bekostig nie.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Ons maak al hoe meer gebruik van Teams en Zoom om konsultasies te doen en ons span se dagboeke word ook met mekaar verbind sodat almal te alle tye weet waar almal is.

Ons grootste bemarking vind ook op sosiale media plaas.

Selfs ons litigasie en boekhouprogramme is al aanlyn en ons kliëntelêers word aanlyn beskikbaar gestel vir almal in die firma om aan te werk.

Ek glo in die toekoms gaan dinge net meer en meer tegnologies raak.

Ek is ook ’n familieregmediator, en dit wil voorkom of mediasies ook nou meer en meer aanlyn begin plaasvind.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Ek het twee kliënte wat altyd sê “as jy lees, kan jy presteer”. Ons probeer altyd om op hoogte te bly met nuwe sake en direktiewe deur te lees.

Ek is ook tans besig om ’n ekstra kursus met betrekking tot my mediasie te doen sodat ek meer mediasies kan doen.

Ek is ook in my tweede jaar, besig met my meestersgraad in Familiereg, omdat ek graag op hoogte wil wees met dinge in die veld waarin ek werk.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Ek wil graag in 2025 my Meestersgraad voltooi. Harde werk en goeie tydsbestuur is al hoe ek dit gaan regkry.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Harde werk werp vrugte af en ek is tot alles in staat solank as wat ek my beste gee en daarvoor werk!

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Ek probeer hard om nie my werk huis toe te vat nie. As ek die kantoordeur toetrek in die middae, trek ek my prokureurspakkie uit en trek my mamma- en vroupakkie aan. Dit gebeur soms dat kliënte my na-ure kontak, en my man verstaan dit. Ek sal dan bepaal of dit so dringend is dat ek dadelik aandag moet gee, anders sal ek die boodskap of oproep laat oorstaan tot die volgende oggend.

Een van die redes waarom ek my eie firma begin het, was juis sodat ek ’n betrokke mamma kan wees. Ek is dus daar as die skool bel omdat een van my kinders siek is. Ek is langs die rugbyveld en swembad. Ek is betrokke by die skool en help die skool met projekte.

Ek glo dat ek ’n gesonde balans handhaaf en weereens staan my werksmense bankvas agter my.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Geen droom is te groot nie. As jy dit kan droom, kan jy dit doen.

As jy jou passie uitleef, sal jy nooit hoef te “werk” nie.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek hoop om ander prokureurs ook te inspireer om pro bono-werk te doen, soos dit in hulle vermoë is.

Ons firma en ons hele span neem ook elke jaar deel aan twee kersprojekte en sodoende ploeg ons terug in die gemeenskap in.

Een van die projekte is my “baba” wat ek sedert ek op my eie gegaan het in 2019 begin het. Elke einde van die jaar vorder ons fondse in en kry borge om geskenkbokse vol te maak vir minderbevoorregte kinders.

Ons hele span trek daai dag rooi en groen aan en gaan deel geskenke uit by verskeie kampe en ons kies dan elke jaar ook een kamp waar ons dan vir die hele kamp kos gee. Ons het wonderlike borge wat ons hiermee help. Ons grootste ondersteuners is Availabed en Inkulu Constructions.

Hierdie projek het begin in 2019 met 12 skoenbokse wat uitgegee is. Die projek het al so gegroei dat ons Desember 2023 oor die 70 geskenke met benodighede, skryfbehoeftes en speelgoed kon uitgee. Ek hoop om hierdie projek net groter en groter te laat groei.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

As jy dit kan droom, kan jy dit doen.

As jy jou passie uitleef, hoef jy nie ’n dag in jou lewe te werk nie.

Ek het dit nou eerstehands beleef. My werk voel nie soos werk nie … ek geniet elke oomblik van my werk!

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek sou nooit in die korporatiewe wêreld gaan werk het nie, en my passie lankal reeds begin uitleef het in my werk.

Ek sou ook vroeër begin het om deposito’s te vra en besef het dat ek nie noodwendig almal kan vertrou nie.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Ek sal graag onthou wil word as die prokureur met die omgeehart. My kliënte en mense wat my ken, ken my hart en weet hoe hard ek werk en baklei vir kinders. My kliënte weet dat ek werklik omgee en nie net in die beroep is vir die geld nie. Dit is hoe ek onthou wil word!