| |

Entrepreneursfokus: Annalize Thiart

Ons het met Annalize Thiart van ANNABeleef gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Wat my geïnspireer het, was die feit dat ek nog altyd aan myself wou bewys dat ek daartoe in staat is om my kreatiewe passie vir kuns, blomme, dekor, my liefde vir mense, kos en hekel en brei te volg en ’n onderneming daarmee te begin. Ek het vir ’n baie lang tyd daaroor gedroom om my eie visie en idees in ’n werklikheid te omskep en die vryheid te hê om dit te doen. Ek dink die meeste inspirasie kom van ’n plek waar ek ’n verskil in mense se lewens wil maak en wil graag my eie onderneming as platform daarvoor gebruik. My huisgesin en familie is seker my grootste inspirasie en dryfkrag agter ANNABeleef. Hulle is die wind onder my vlerke! My droom was om dit voor 50 te verwesenlik!

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Nood leer bid. Ek het ’n suksesvolle onderneming vanuit ’n perseel in ’n winkelkompleks bedryf, maar weens omstandighede buite my beheer is die huurkontrak nie hernu nie. Om kontinuïteit te behou, het ek besluit om onmiddellik van die huis af voort te gaan. Van huisplante en geskenke, het ek besluit om dit anders te hanteer en het dit gegroei na ’n volwaardige koffiewinkel/restaurant met ’n ander aanslag.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

My gesondheid (lupus), groot kapitale uitleg (toerusting, produkte, klein personeel, bemarking) en baie kompetisie. Ek probeer ’n positiewe ingesteldheid behou en so gesond moontlik leef. As gesin het ons opofferinge gemaak en sekere luukse bederfies uitgeskakel (uiteet, wegbreek, duur geskenk, ens.). Kompetisie is gesond en ek het ’n mooi verhouding met soortgelyke ondernemings. Met besonderse gehaltekos en voortreflike diens keer kliënte gereeld terug. Ons bied ’n rustige en veilige atmosfeer met genoeg pragtige ruimtes in ’n ruim historiese gebou wat ANNA spesiaal maak.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Ja, toe dit begin gons in die dorp oor ANNABeleef se uniekheid.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

ANNABeleef is ’n koffiewinkel/restaurant anders as die gewone. Nie net is dit geleë in ’n historiese gebou met ’n ryke geskiedenis (oudste gebou in Worcester, eerste leenplaas in Worcester, gebruik as wynkelder, later ’n tronk, eerste skougronde in Worcester) nie. ANNA bied intieme vertonings in haar klein teater en dien as kunsgalery vir plaaslike kunstenaars. Ons bied verskeie werkswinkels (hekel-, borduur-, brei-, koekversiering-, keramiekwerkswinkel) aan en hou tema-aande. Ons is baie betrokke in ons gemeenskap en het al verskeie sopkombuisaksies geloods. Op Mandela-dag het ons in samewerking met Worcester se toerismekantoor sop aan behoeftiges voorsien. Ons dien as opleidingsentrum vir gasvryheidstudente om hul prakties te doen. Ons voorsien op ’n gereelde basis aan minderbevoorregtes in agtergeblewe woongebiede klaargemaakte kos en kosprodukte. Ons bied van tyd tot tyd by ANNA die geleentheid aan plaaslike kunstenaars om hul talent met die gemeenskap te deel. Ons gee ’n veilige omgewing vir siggestremde baristas om praktiese ervaring op te doen.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Unieke en wye verskeidenheid aktiwiteite wat hier plaasvind.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Bied spesiale aanbiedinge aan (bv. 60-plussers afslag elke dag). Stel ANNA beskikbaar vir fotosessies, intieme funksies en dinkskrums vir ondernemings. Gee individuele aandag. Reik uit per WhatsApp (ANNA-nuusbrief), Facebook en Instagram.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Die feit dat ek sekere dienste moet uitkontrakteur, aangesien my span nie groot genoeg is nie (het byvoorbeeld nie ’n sjef op die oomblik nie en moet self hierdie funksie vervul). Finansies bly ’n groot uitdaging.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Ek moes my sitplekruimte binne en buite aanvul deur ekstra tafels, stoele, sambrele, ens. aan te koop. My spyskaart uitbrei, kombuistoerusting aanvul (yskaste, stowe, eetgerei). Vir my kliënte se gerief moes verwarmers in die winter en verkoeling vir die somer aangekoop word.

Ons het die sekuriteit opgeknap en kamaras geïnstalleer wat die hele buitene ruimte dek. Kliënte parkeer binne ANNA se gronde. Permanente tuindienste is aangestel (ons ondersteun die Instituut vir Blindes se tuinspan). Meer kelnerinne en skoonmaakpersoneel is aangestel. Ons het ook ons boekhoustelsel bygewerk en uitgebrei. Ek het die dienste van ’n boekhouer bekom.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

In my strewe om vooruit te gaan hoop ek om nie dit wat my aanvanklike doel was … om die gemeenskap van Worcester te bedien en te betrek … agter te laat nie. Die Instituut vir Blindes was van die begin af my groeivennoot en ek glo hierdie verbintenis sal tot altwee se voordeel bly strek.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Ek het verkeerde geskenke aangekoop wat ek gedink het kan werk, maar nie verkoop het nie. Ek het besef ek moet meer marknavorsing doen.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Oorkapitaliseer is seker altyd ’n risiko en daarom probeer ek nie onnodige skuld aangaan nie en ploeg alle kontant op hierdie stadium terug in ANNA.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

My span weet ek is toeganklik. Hulle het vrymoedigheid om met hul eie idees vorendag te kom. Ek is oop vir hulle idees, maar op die ou end neem ek die finale besluit.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Ek hou daarvan dat almal betrokke moet wees.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ek betrek hulle by sekere besluitneming. Hou koffiekuiers waar ons gereeld selfevaluering doen.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Ek is ferm, maar regverdig.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Om die hart van Worcester te wees, waar elke koppie koffie en elke gereg ’n herinnering skep en elke besoek ’n gemeenskapsverbintenis versterk. Ons streef daarna om die beste koffiewinkel/restaurant in die dorp te wees. Ons wil bekend wees vir ons uitsonderlike koffie, eetgoed, diens en unieke geskenke. Ons wil voortdurend plaaslike talent ondersteun.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Ek streef daarna om nog beter toerusting te bekom, soos bv. ’n verkooppuntstelsel. Tegnologie bied die geleentheid om bemarking en advertensie tot ’n hoër vlak te neem. Tegnologie het bygedra dat ons ons spyskaart ook in braille kon druk en waarop ons baie trots is.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Ek is gedurig besig om innoverend te dink om nuwe moontlikhede te ondersoek wat waarde tot my onderneming kan toevoeg. Ek leer graag van ander. Ek skroom nie om raad te vra by suksesvolle entrepreneurs nie. Ek woon werksessies by wat my sakemodel bevoordeel. Ek hou van wat ek doen en is passievol oor my onderneming.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Ek wil ANNABeleef ’n handelsnaam maak en werk tans aan my eie klerereeks. Die Instituut vir Blindes gaan my behulpsaam wees met die ontwerp en druk van QR-kodes op my etikette sodat dit toeganklik is vir siggestremdes ten opsigte van groottes, kleur en tipe materiaal wat gebruik is. Ons is ook opgewonde oor die moontlikheid om binnekort in samewerking met die Instituut vir Blindes ’n eie wynreeks beskikbaar te stel.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Ek kan uit my gemaksone beweeg.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Dit is ’n uitdaging en ek probeer maar net balans handhaaf deur nie een van die twee af te skeep nie.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Moenie bang wees nie! Wees reg vir baie ure insit. Glo daar is lig aan die einde van die tonnel en weet dat dit JOU breinkind is. Bly glo dat jy bo sal uitkom al gaan dit soms rof. Werk hard en geniet die reis!

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Sonder die gemeenskap kan my onderneming nie ’n sukses wees nie. Daarom poog ons om elke dag konstant goeie diens te lewer en ons naam uit te dra.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Moenie dinge oordink en kompliseer nie. Hanteer die uitdagings soos dit kom.

As jy enige deel van jou reis kon oor doen, wat sou jy anders gedoen het?

Vroeër in my lewe met hierdie reis begin het. Dalk formele opleiding in sekere aspekte van die besigheid oorweeg het.

Hoe wil jy hê mense moet jou besigheid en jou nalatenskap onthou?

Sy het alles gegee!