|

ENTREPRENEURSFOKUS: AWIE KROG

Ons het met Awie Krog van Craft Braai gesels oor sy entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

My inspirasie was noodgedwonge of liefs te danke aan die Covid 19-tydperk waar afleggings aan die orde van die dag was. Die Here het die gelykenis in Johannes 21:6 op my hart gedruk waar Hy vir die dissipels gesê het hulle moet hul net aan die anderkant van die skuit gooi, daar sal hulle vis uittrek. Die gelykenis was vir my in hierdie uitdagende besluitnemingstyd so van pas. Nie net was my braaisakkiekonsep uit net gemaak nie, maar ook die feit dat ek uit ’n gemaksone myself moes herontwerp in my nuwe vindingryke reis van ware entrepreneurskap.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Die idee het ontstaan uit die uitdaging wat braaiers het om kleiner kosse en ook ’n groter verskeidenheid kosse op die braai voor te kan berei. Om anders te kan braai en ’n lekker oplossing vir kampeerders.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Die uitdaging wat ons Transnet-hawens bied om roumateriaal in te bring uit Denemarke, gekoppel aan die balans van kontantvloei. Ons hawens speel ’n groot rol om roumateriale in te bring om effektief plaaslik te kan vervaardig wat direk ’n impak het op werkskepping in Suid-Afrika.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Die dag toe ek in 2020 by Irene-mark gesit het waar iemand my eerste braaisakkie gekoop het. Ek moes nog by dieselfde mark sit en vervaardig om voor te bly met voorraad.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Het jy al maalvleis gebraai? Springmielies op die braai? Lekker plaaslik vervaardigde unieke produkte. Kaart of kontant?

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Die patent is revolusionêr van aard waar geen ander produk in dieselfde klas van uniekheid funksioneer nie.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Deur die produk direk na die kliënt te neem by skoue, feeste en markte waar ons die produk demonstreer en verduidelik. Met ’n uitgangspunt dat ons nie ’n produk verkoop nie, maar dat ons ’n resep verduidelik en dan die kliënt ’n “tool” in die hand sit om die resep te kan maak. Ons het tot op hede 764 markdae in wind, reën en stof agter die rug. Lang ure, baie praat en luister wat die kliënt se behoeftes is.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Kontantvloei a.g.v. Desember 2023 waar drie skeepsvragte van my roumateriaal in die hawe gelê het oor November/Desember. ’n Tyd toe my onderneming reeds 15 markte betaal en gereël was. Ek moes ses markte gekanselleer het oor daardie tydperk en die kontantvloei voel ek nou.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Die suksesvolle bemarkingstrategie om die produk aan te bied by markte, skoue en feeste het vrugte afgewerp wat gelei het na die vestiging van ’n suksesvolle erkenbare handelsmerk wat aanlyn winkelverkope verseker. Ons is gemiddeld 160 dae ’n jaar weg van die huis af waar ons toer van skou tot mark tot fees. Ons doen dit in ’n 1979 Slipstream-opvoukaravaantjie om so ’n gastehuisgeldjie te spaar en terug te ploeg in die onderneming.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

As entrepreneur moet jy kan afskakel. My gesin is my alles en mens kan maklik in vervoering raak as ’n nuwe idee jou beet kry. Lang ure en min slaap kan mens wegrokkel van geliefdes. Bly op jou knieë en bly ’n lekker mens.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Dag een het ek gedink ek weet alles van entrepreneurskap en besigheid wat slegs ’n boublok is van entrepreneurskap. Elke dag daarna tot nou het ek agtergekom ek weet eintlik niks en dat kennis opdoen, te netwerk en te leer, deel is van die ongelooflike reis. Deur te netwerk en professionele hulp wat reeds beskikbaar is te gebruik bv. kennis oor patente en handelsmerke, is goud werd.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

’n Ware entrepreneur moet gemaklik raak met die ongemaklikheid wat risiko vir jou bied. Neem elke dag berekende besluite deur moontlike positiewe of negatiewe uitkomste te emuleer. Entrepreneurskap loop hand aan hand met risiko, anders is jy net nog ’n sake-eienaar.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Lei deur jou voorbeeld. Doen self eers die werk wat jy aanbied sodat jy jou maatstaf van verwagting reeds gekalibreer het.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Die span moet inkoop in jou toekomsvisie en missie vir hulle eie gewin en persoonlike groei.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Wees gaaf met jouself. Deur ’n konstante rustige mens te wees, ’n anker in empatie en vriendelikheid loop ’n ver pad. ’n Gelukkige werknemer verseker ’n gelukkige handelsmerk.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?’

Met ’n bottel rooiwyn om ’n braai.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

My kop is vol idees en ek wil aanhou om my skerp kante rond te hou om nuwe unieke produkte te bly uitrol. ’n Produk ’n jaar klink vir my na ’n lekker uitdaging.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Sosiale media speel ’n groot rol as winkelvenster van jou onderneming. Dit maak deure oop op nie net produkvlak nie, maar mense leer die mense agter die skerms ken. Mense koop nie net ’n produk nie, maar ’n stukkie van jou storie, tegnologie speel ’n groot rol waar ’n AI-geskepte “braai girl” met ’n bier en ’n braaitang nogal sag op die oog kan wees. 😉

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Bly teenwoordig in jou onderneming, hou aan planne maak om gehalte te verseker in die groei “scale”-proses.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Groot planne wat ek nie nou al kan deel nie, maar as entrepreneur moet jy nooit uit drie goed uit hardloop nie, planne, pelle en ys.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Ek kan vir maande met slegs vier ure se slaap ’n aand goed funksioneer die volgende dag.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Entrepreneurskap is so groot deel van mens dat dit jou tyd kan insluk. Maak tyd vir jou geliefdes en ek vind myself weer in die bos waar ek myself kan kalibreer vir die volgende uitdaging.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Raak gemaklik met die ongemaklikheid wat entrepreneurskaprisiko bied. Maak nie saak hoe klein jou idee is nie, as jy glo in jou produk en jy jou produk met passie op alle vlakke aanpak, kan jy net die vrugte pluk. Skep ’n handelsmerk wat kan groei op mens en wat jou inspirasie sal word om op te staan in die oggend.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

My groot droom is om ons plaaslik spesiale, behoeftige jong seuns en dogters, wat nie in die samelewing reg kom met werk nie, ’n werk te kan aanbied om hulle sodoende te help integreer in die samelewing. So sal hulle ouers ook die geleentheid kry om finansieel voor te kom en hulle eie drome die lig te laat sien.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

“I have not failed. I’ve just found 10 000 ways that won’t work.” – Thomas Edison. Sukses het nie ’n teenoorgestelde soos warm – koud, hard – sag nie. Om te misluk of faal is nie die teenoorgestelde van sukses nie, maar ’n boublok wat deel is van sukses.

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek moes al lankal my idees ’n werklikheid gemaak het. Dankie Covid 19 wat my geforseer het om in te spring.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

As entrepreneur glo ek dat mens nie na sukses toe werk nie, waar sukses reeds behaal is met aanvang van jou suksesvolle plan. Die opgewondenheid in die vraag “Cool, wat is volgende?” het my tot hier gebring.