|

entrepreneursfokus: cameryn linde

Ons het met Cameryn Linde van Wild Flower Boutique gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek het nog altyd daarvan gehou om produkte te verkoop, en in 2023 (die jaar na my matriekjaar) het ek op Saterdae by ’n klere- en bykomstighedewinkel gewerk en ek het besef my passie is om stylvolle klere en bykomstighede te verkoop. Ek het toe besluit dat ek my eie onderneming gaan begin waar ek my eie styl produkte gaan verkoop.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Aan die begin was die hoeveelheid voorraad ’n groot struikelblok omdat die verkope drasties meer was as verwag en ek kon nie byhou met al die voorraad en verkope nie. Toe ek die onderneming net begin het, was kapitaal ook ’n groot struikelblok. Ons het elke struikelblok oorkom deur baie beplanning te doen rakende kapitaal, bestellings en voorraad.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Die eerste dag toe daar bestellings geplaas is, het ek baie gemotiveerd gevoel en het ek klaar gevoel dat Wild Flower Boutique baie suksesvol sal wees. Die dag toe ek die finale finansiële besluit geneem het om ’n webtuiste te laat maak vir die onderneming, het ek geweet dat Wild Flower Boutique tot dusver suksesvol is en ook sal wees in die toekoms.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

As jy op soek is na die stylvolste oorbelle, handsakkies en soveel meer, dan is Wild Flower Boutique die plek! Ons verkoop stylvolle produkte en lewer topgehalte diens.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Ek as eienaar maak seker dat ons luister na wat ons kliënte soek en dat ons wel die diens en produkte lewer wat hulle vra. Ons het ook noue “verhoudinge” met ons kliënte, wat definitief anders is as ons mededingers s’n. Ek maak seker om die onderneming soveel as moontlik te laat groei maar om die diens van ’n klein onderneming te lewer. Ons produkte se kwaliteit is van topgehalte en ons maak ook seker dat ons iets het vir almal en vir elke mark. Ons verkoop ook handgemaakte items, waar ons mededingers nie noodwendig die kapasiteit het om self items te maak nie.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Ons het onlangs die onderneming se oorspronklike INSTAGRAM-blad verloor. Ons het binne minder as een jaar meer as 2 000 volgers daarop gehad en moes toe ’n nuwe blad oopmaak. Die uitdaging het ons beslis nie geknak nie, maar wel gemotiveer om nou nog harder te werk om dit weer in ’n korter tydperk te kan bereik.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Wild Flower Boutique het sy webtuiste in April 2024 oopgemaak, wat vir my as eienaar en vir kliënte aangedui het dat dit nodig was vir die onderneming, en die rede daarvoor is dat die onderneming  in minder as ’n jaar drasties gegroei het. Dit was uiters belangrik dat ons nog ’n platform vir die onderneming en kliënte skep waarop daar bestellings geplaas kan word en soveel meer. Die webtuiste was deel van die strategiese besluit en het definitief tot dusver die groei van die onderneming aangedui.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Ek maak seker dat innovasie en my kernwaardes hand aan hand loop. In my onderneming kan innovasie plaasvind slegs wanneer jou kernwaardes reg is. Voorbeeld: My onderneming sal groei as ek eerlik is en op ’n eerlike manier besigheid doen.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Daar was al vele produkte wat ek gedink het goed sal verkoop, maar dan verkoop dit glad nie by ons nie, en dit het my geleer om baie marknavorsing te doen rakende die style wat in die mode is en wat goed verkoop by my onderneming se direkte kompetisie.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Wanneer ek risiko’s in my onderneming moet hanteer, sal ek met ’n mentor gaan praat.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek is nie iemand wat daarvan hou om te baklei nie. Ek hou daarvan om met mense te onderhandel en om met mekaar te praat om die beste vir almal te kan gee.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Dit is vir my uiters belangrik dat die moontlike werknemers van my onderneming lojaal en eerlik sal optree omdat dit van die waardes is wat ek as eienaar van die onderneming uitleef en wat ook deel is van die onderneming. Die werknemers moet ook glo in my onderneming en dieselfde waardes uitleef.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ek is tans die eienaar en werknemer van my onderneming omdat die onderneming nog baie jonk is. Ek het ook twee ambassadeurs wat Wild Flower Boutique verteenwoordig. Ek motiveer die “span” deur elke week doelwitte te gee wat ons moet probeer om suksesvol te bereik.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Wanneer daar uitdagings binne my span of organisasie is, sal ek dadelik daaroor probeer praat sodat mens dadelik die uitdaging kan uitsorteer of ligter maak.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Die langtermynvisie vir my besigheid is om binne vier of vyf jaar ’n winkel te kan oopmaak en om dan ’n werknemer(s) te kan aanstel en om op so ’n manier te kan groei en meer winkels te kan oopmaak.

Watter rol speel tegnologie in jou besigheidsplanne vir die toekoms?

Tegnologie speel ’n baie groot rol in die toekomsplanne vir my onderneming. Ons gebruik daagliks sosiale media vir bemarkingdoeleindes. Sosiale media sal die onderneming definitief in die toekoms help om meer te groei en om meer doelwitte en drome te bereik omdat ons teikenmark meestal op Instagram (byvoorbeeld) is.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Ek hou sosiale media daagliks dop en kyk wat Wild Flower se mededingers aanhou, en ek kyk ook na pryse van verskillende items en neem daarvolgens ’n besluit rakende byvoorbeeld die nuwe styl oorbelle wat die beste verkoop, om dit dan ook in voorraad te hou.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Die volgende groot doelwit is om ’n winkel oop te maak. Om die groot doelwit te kan bereik, moet bemarking van topgehalte wees om soveel as moontlik kliënte oor sosiale media te kan kry. Sosiale media speel ’n baie groot rol in my onderneming. Ek sal ook seker maak Wild Flower is by verskeie markte en geleenthede waar mens baie potensiële kliënte kan kry wat die droom vir Wild Flower Boutique moontlik kan maak.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Ek is baie dankbaar vir die entrepreneursreis wat gemaak het dat ek baie nuwe goed oor myself kon leer. Ek het geleer om geduldig te wees omdat sekere keuses in besigheid lank vat om te neem en idees lank vat om te ontwikkel. Ek het ook geleer om na mense se behoeftes en begeertes te luister en om te lewer wat mense vra.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Dit is die meeste van die tyd baie moeilik om werk en my persoonlike lewe te balanseer. Ek is tans ’n student (19 jaar oud, word 20) en om te studeer en te werk en ’n persoonlike lewe te hê is nie maklik nie, maar ek stel weekliks vir my ’n skedule op om tydsgewys makliker by alles te kan uitkom.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie. Dit is soms die beste goed wat op die onmoontlikste tye gebeur. As jy nie probeer nie, sal jy ook nooit weet nie.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek hoop om vir ander vroue of meisies te kan wys hoe dit is om goed oor jouself te voel deur die basiese items te kan gebruik. Sodra mens goed voel oor jouself, is jy ook bereid om jouself mooi te laat lyk. Ek wil ook vir vroue dit moontlik maak om teen bekostigbare pryse vir hulsef stylvolle bykomstighede te kan kry sodat hulle ook deel vorm van die Wild Flower Boutique.

(My onderneming se naam som dit eintlik baie mooi op: maak nie saak wat in jou lewe gebeur of al gebeur het nie, maak nie saak hoe jy oor jouself voel nie, maak nie saak wat mense van jou dink nie, jy bly steeds ’n blommetjie, en al blom jy nie altyd nie, daar is altyd nog ’n kans om te kan blom. Neem die dinge in die lewe wat vir jou as persoon goed is, en jy sal soos ’n blommetjie blom, soos water wat nog ’n kans vir ’n blommetjie gee om te groei.)

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Die beste raad wat ek al ooit gekry het en wat my onderneming drasties beïnvloed het, is die volgende : “Niks is ooit onmoontlik nie!”

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek sou definitief die beginstadium wou oordoen as ek geweet het wat ek tans weet. Ek sou meer tyd in die onderneming ingesit het en sou dalk ook meer aandag aan sosiale media gegee het.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Ek sal wil hê mense moet my asook my onderneming onthou as die persoon wat altyd bereid was om die ekstra myl te stap om die mense of kliënte altyd gelukkig te hou.