|

Entrepreneursfokus: Carmé myburgh

Ons het met Carmé Myburgh van Fynbos Wedding Shoppe gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek werk reeds vir ongeveer vyf jaar in die troubedryf saam met my vennoot en omdat ons so nou met bruide werk, kon ons die aanvraag raaksien vir ’n winkel soos Fynbos Wedding Shoppe. Bruide was opsoek na ’n winkel waar hulle al hulle bykomstighede op een plek kon koop. Bruide het veral gesukkel om skoene vir hulle groot dag te kry. Ek wou ook graag my eie onderneming begin en toe die geleentheid op my pad kom, het ek dadelik gespring en geweet dit is die regte tyd.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

My vennoot het oorspronklik skoene en japonne aangekoop om by haar onderneming te voeg wat rokke verkoop. Saam het ons besluit om eerder ’n nuwe onderneming te begin wat dan soveel meer produkte as net skoene en japonne kan bied. Saam het ons vervaardigers van juwele, haarstukke, belde en soveel meer gekry. Dit was wonderlik om elke keer ’n nuwe produk te ontvang en bekend te stel aan ons bruide. Dit maak jou ook opgewonde om aan te hou soek vir die regte produkte.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Een van my struikelblokke was tyd. Ek het nog voltyds by die Bridal Boutique gewerk en het baie keer aande en vroeg in die oggend gewerk aan Fynbos Wedding Shoppe. Gelukkig was die Boutique en Fynbos Wedding Shoppe op dieselfde perseel, so ek het ná werk gou bietjie by die Shoppe ook gewerk.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Ja, toe ek voltyds by die Shoppe begin werk het. Dit het ná ’n maand alreeds beter resultate getoon. Ek het geweet hoe meer tyd ek in die onderneming gaan belê hoe meer groei gaan ons sien.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Fynbos Wedding Shoppe verkoop alles wat ’n bruid nodig het vir haar trouvoorkoms, behalwe haar trourok.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Daar is ’n handjievol ondernemings wat al hierdie bykomstighede op een plek verkoop en nog minder wat ’n fisiese winkel het.

Bruide hou daarvan om produkte self te sien en skoene aan te pas voordat hulle besluit om te koop. Baie ondernemings verkoop een van die tipe produkte wat ons verkoop, maar daar is nie een onderneming wat alles op een plek, aanlyn en in ’n fisiese winkel, verkoop nie.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Behalwe vir ons puik produkte is kliëntediens vir ons uiters belangrik, omdat ’n bruid net een keer by ons gaan koop, maak ons baie staat daarop dat hulle ’n goeie ervaring het en hierdie ervaring deel met hulle vriendinne en familie wat ook op trou staan. Ons werf baie nuwe kliënte deur verwysings.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

My grootste uitdaging tans is weereens tyd. Die onderneming groei baie goed en dit raak moeilik om by alles uit te kom. Die goeie ding daarvan is dat ons binnekort sal kan bekostig om iemand in die winkel aan te stel wat kan help.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Die onderneming het baie goed begin groei vandat ek in Januarie 2024 voltyds by die onderneming begin werk het. Ons het ook stelselmatig ons begrotings vir Google- en Meta-advertensies aansienlik groter gemaak wat baie gehelp het. Ons het baie innoverend geraak met ons skoenreeks en bring self veranderinge aan wat uniek is aan Fynbos Wedding Shoppe, soos die pêrel- en satynbandjies op die skoene.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

In die troubedryf is innovasie baie belangrik omdat modes so gereeld verander. Ons maak wel seker dat die gehalte van ons produkte altyd van die beste bly. Van die dag wat ons Fynbos Wedding Shoppe oopgemaak het, is ons baie aanpasbaar. Ons produkreeks groei aanhoudend en ons maak seker dat ons nuwe en innoverende produkte aanhou wat inpas by die nuwe modes, terwyl ons seker maak dat ons produkte van die beste gehalte is.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Ons het al ’n paar produkte gehad wat glad nie verkoop het nie, so het ons geleer waarvan bruide hou en waarvan hulle nie hou nie.

Aan die begin was ons winspersentasies te klein. Ek het geleer dat alhoewel mens nie bruide wil indoen met jou winspersentasie nie, is dit belangrik om wel vooruit te beweeg in finansiële opsigte sodat jou onderneming kan groei.

Ons verpakking was nie van die beste gehalte nie. Ek het geleer dat die bruide nie net ’n mooi produk wil hê nie, maar dat hulle mooi verpakking van begin tot einde waardeer.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Kontantvloei is vir my baie belangrik en ek probeer altyd seker maak dat die onderneming ’n sekere bedrag in die bank behou. Ek probeer om nie oorhaastig besluite te neem nie. Ek maak ook seker dat wanneer ons risiko’s neem, dit op ’n verantwoordelike manier gedoen word en ons wel op iets kan terugval indien dit nie uitwerk soos beplan nie.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek verwys graag na Stephen Covey se boek “The 7 Habits of highly effective people”. Ek sal sê my leierskapstyl is ’n mengsel van delegering, aanspreeklikheid, lei deur voorbeeld en perfeksionisme. Ek probeer die beste weergawe van myself wees, want ek weet dit het ’n effek op almal wat betrokke is binne ons onderneming. Ek probeer ook konstant werk aan die sewe gewoontes wat ek weet ek nodig het om my en die onderneming suksesvol te maak.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Om te lei deur voorbeeld. Ek kan slegs my span lei as hulle my volg deur inspirasie. Indien ek my span die regte opleiding gee, is dit belangrik om hulle te vertrou wanneer ek sekere take aan hulle delegeer, geen spanlid hou daarvan om mikrobestuur te word nie. Dit is ook belangrik dat my spanlede weet hulle opinie en idees is waardevol, ek is ’n sukses saam met hulle en nie alleen nie.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Dit is belangrik dat die werksomgewing vreugdevol, maar ook waardevol is.

Ek wil hê my span moet weet dat ek waarde in hulle vind en dit doen ek deur danksegging asook motivering om te groei. Indien daar plek is vir groei binne die onderneming maak ek dit duidelik aan hulle sodat hulle weet waarnatoe hulle werk.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Kommunikasie. Ek glo dat konflik op die regte manier opgelos kan word en positief kan wees. Die beste manier is om deursigtig met my vennoot en span te wees en openlik oor konflik te kan kommunikeer. Dit is belangrik om oop te wees vir konflik en kritiek, want uit dit uit kom groei.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

My langtermynvisie is om ’n winkel in Kaapstad oop te maak.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Omdat ons ’n aanlyn winkel het, sal tegnologie altyd ’n belangrike rol in ons onderneming speel. Dit is belangrik om op hoogte te bly met nuwe ontwikkelinge as dit kom by tegnologie. Ons werk konstant aan ons webtuiste om voor te bly.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Ons is baie aanpasbaar, dit kan ook gesien word aan die vinnige groei wat ons die afgelope jaar beleef het. Ons is bewus van ons tekortkominge en maak seker dat ons daaraan werk sodat ons relevant kan bly.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

My volgende groot doelwit is om weg te beweeg van voorafbestellings en genoeg voorraad op te bou om slegs vanuit die winkel te verkoop. Die wengeld sal definitief help om daardie doelwit te bereik. Ons koop ook elke maand al hoe meer voorraad aan.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Die beste ding wat ek oor myself geleer het, is dat ek bekwaam is. Dit is maklik om in jouself te twyfel wanneer jy die reis begin om jou eie onderneming te begin en dit is ’n wonderlike gevoel om uiteindelik raak te sien dat jy dit goed doen en dat jy wel bekwaam is.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Ek het ’n student wat op naweke in die winkel werk. Dit is vir my belangrik om tyd te maak vir my man en kinders.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Moenie te vinnig opgee as dinge nie gaan soos wat jy beplan het nie. Gebruik die geleentheid om te leer en aan te pas. Dinge gebeur baie keer soos dit moet en nie soos jy beplan het nie. Die Here se plan is altyd beter as jou eie. Luister ook vir advies en moet nie net op jouself staatmaak nie. Dit is wonderlik om saam te werk aan planne en drome vir jou onderneming.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek gaan aanhou probeer om ’n geleentheid te gee vir die bedryfstudente in ons area. Ons gee hulle die geleentheid om hulle ure, met betaling, by ons te werk asook werksondervinding op te bou sodat hulle potlood effens skerper is teen die tyd wat hulle klaar geswot het. Soos al genoem, is ons een van die eerste ondernemings van ons soort in die troubedryf. Ons is seker dat daar ander ondernemings gaan volg, maar ons sal aanhou om die presedent te stel.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Hou net aan. Dit is baie maklik om in vandag se lewe nie tou op te gooi wanneer goed skeefloop of nie uitwerk soos wat jy dit graag wou hê nie. Maar dit is uiters belangrik om deur hierdie modder te beweeg en aan te hou werk en te baklei vir jou onderneming.

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek sou ons fisiese winkel oopgemaak het op ’n plek waar daar baie voete is.

Ons eerste winkel was in ’n kantoorblok, maar ons is tans besig om te trek na ’n groter perseel in ’n baie besige straat.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Ons verkoop mooi goed. Ons wil hê dat elke vrou of bruid daarbuite wat ons produkte dra, mooi en spesiaal moet voel. Daarom sit ons baie moeite in ons verpakking ook. Hierdie is nie net enige produk wat gekoop word nie, maar ’n produk vir ’n baie spesiale dag en dit word gesien as ’n aandenking wat hulle kan hou of eendag oordra.