|

entrepreneursfokus: chanel vogl

Ons het met Chanel Vogl van Ovo Protein gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Die inspirasie vir Ovo het gekom van ’n persoonlike uitdaging, ’n passie vir gesond eet en ’n gesonder leefwyse, en omgee vir ander mense. Ek het gesien dat daar ’n behoefte in die mark is vir ’n alternatief vir eierwit, wat mense kan help om hul gesondheidsdoelwitte te kan bereik.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

In 2020 het ek deelgeneem aan ’n somergesondheidsuitdaging saam met ’n groep wonderlike dames. Een van ons etes het ’n omelet ingesluit met een eier en twee eierwitte, wat dadelik baie vrae laat ontstaan het: “Waar kry julle eierwitte? Ons het nie ’n Woolies nie” en “Wat maak julle met die geel? Ek kan dit nie net weggooi nie!”

Die gedagte om die eiergeel te mors, was ’n groot probleem vir ons almal – vir my ook! Ons kon net nie vrede maak met die idee om die eiergeel weg te gooi nie. Ons het probeer om vloeibare eierwit te koop, dit te vries, en dan vir die dames in Kuruman te koerier. Maar dit het nie gewerk nie – daardie vloeibare eierwit was grillerig om te gebruik en het te vinnig sleg geword.

Ek was vasberade om ’n alternatief te vind, nie net vir myself nie, maar ook vir die dames wat in plekke sonder maklike toegang tot eierwitprodukte bly. Destyds was daar nie ’n groot verskeidenheid eierwitprodukte beskikbaar nie, en dié wat wel bestaan het, was belaglik duur.

En so is die idee van Ovo – Portugees vir eier – gebore.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Een van die eerste struikelblokke wat ek teëgekom het, was om ’n produk op te spoor wat aan my spesifieke vereistes voldoen het. Daar is baie eierwitpoeierprodukte beskikbaar in die bakmark, maar die meeste daarvan is vol bymiddels om te rys, te skuim, of te bind – niks van dit was vir my geskik nie. Ek het ’n suiwer produk gesoek, sonder enige bymiddels, wat die proteïeninhoud kon behou.

Ek het ongeveer 20 verskillende produkte bestel en getoets, totdat ek uiteindelik die regte een gevind het. Ek het my kredietkaart tot die uiterste gestrek om my eerste 25 kg boks eieralbumen te koop. Ek het ook van daardie kredietkaart gebruik gemaak om 1 000 swart seëlsakkies te bestel. ’n Werknemer het my gehelp om tussen swart en wit sakkies te kies – sy het gesê, “Swart, dit lyk soos Woolies.” Ek was histeries toe al die sakkies uiteindelik gearriveer het! Ek het gewonder wat ek met soveel sakkies sou maak. Laastens het ek plakkers ontwerp en laat druk.

Hierdie uitdagings het ek met deursettingsvermoë en pure “hardegatgeid” oorkom. Ek was vasbeslote om ’n oplossing vir die mark te bring en het in my hart geglo dat mense net so mal oor die produk sou wees soos ek.

Maar toe gebeur daar iets wat ek nie verwag het nie. Ek het my produk aan ’n kennis in die liggaamsboubedryf voorgestel, en hoewel hy aanvanklik opgewonde was, het sy negatiewe opmerkings en kritiek vinnig die wind uit my seile geneem. Ek het verwag dat my produk oornag bekend sou wees en van die rakke sou af vlieg, maar dit was nie die geval nie. Dit was ’n groot teleurstelling.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

’n Dierbare vriendin van my het ’n kliënt gehad wat by Mopani Apteek gewerk het. Sy het met hierdie dame gesels en my in kontak met haar gesit. Kort daarna het Mopani Apteek hul eerste bestelling geplaas, en my produk was nie net aanlyn op hul webwerf beskikbaar nie, maar ook fisies op die rakke in die winkel!

Dit was op daardie oomblik dat ek besef het: Ovo het die potensiaal om op al die rakke in Suid-Afrika te wees. Hierdie deurbraak het my die vertroue gegee dat my droom regtig bewaarheid kan word.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Ovo Protein is ’n gesondheidsonderneming wat spesialiseer in eierwitpoeier. Perfek vir mense wat ’n skoon, hoëproteïenproduk soek vir aanvulling. Ons fokus op gehalte, gerief, en veelsydigheid in ons aanbod.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Tans is daar geen opsie soos Ovo Protein-eierwitpoeier nie. Ons produk is suiwer, vetvry, laag in koolhidrate, en sonder enige bymiddels, geursels of preserveermiddels, en dit is die ideale proteïenaanvulling vir ’n verskeidenheid dieetplanne en vir mense met spesifieke dieetvereistes en/of sensitiwiteite of allergieë.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

My fokus lê sterk op die opbou van ’n hegte gemeenskap rondom Ovo Protein, eerder as net op bemarking. Met elke bestelling wat ek ontvang, skryf ek persoonlik ’n briefie aan die kliënt. In hierdie briefie bedank ek hul vir hul ondersteuning, en moedig ek hulle aan om hul resepte en idees met ons te deel en ons op sosiale media te merk “tag”.

Niks so lekker soos ’n handgeskrewe briefie in ons gejaagde lewe! Dit bring persoonlike aanraking en ’n bietjie ekstra liefde na elke interaksie.

Dit is altyd lekker om te sien hoe kliënte hul Ovo-pakkies saam met die briefie op sosiale media deel. Elke “post, like, en share” bring vir my soveel vreugde, want dit wys hoe betrokke en entoesiasties die Ovo-gemeenskap is. Ons sosialemediaplatforms is aktief, met gereelde plasings wat ons klante inspireer om hul kreatiwiteit in die kombuis te deel.

Dit is vir my ongelooflik om te sien hoe die Ovo-gemeenskap groei, en hoe mense hul resepte met ons deel. In Augustus 2024 het ons ’n digitale kookboek bekendgestel waarin baie van ons kliënte se resepte verskyn. Dit is ’n bewys van hoe waardevol ons kliënte se bydraes is, en dit versterk die gevoel van gemeenskap.

Ek voel al of ek baie van my gereelde klante persoonlik ken, aangesien hulle elke maand terugkom om weer te bestel. Dit is ’n wonderlike gevoel om te sien hoe hulle nie net terugkom nie, maar ook hul vriende en familie na ons verwys.

Ons stuur elke twee weke e-posse aan ons klantelys, waar ons hulle op hoogte hou van nuwe produkte, wenke en resepte. Hierdie e-posse dien as ’n manier om ons klante te inspireer om Ovo Protein deel van hul daaglikse roetine te maak.

Ons suksesvolste interaksies het plaasgevind deur saam te werk met “smaakmakers” of beïnvloeders wat ons produk aan hul volgers bekendstel. Hierdie samewerking skep nie net groter blootstelling nie, maar gee ons ook die geleentheid om gelukkige trekkings te hou en ons klante te beloon vir hul betrokkenheid op ons sosiale platforms.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Ons het onlangs ons handelsmerk en verpakking bygewerk en dit was ’n opwindende reis! Ons het elke aspek sorgvuldig oorweeg om seker te maak dat die nuwe handelsmerk en verpakking gereed is vir die groot kleinhandelsmark daar buite.

Ons het die verpakking ontwerp en gedruk, en daarna het ons dit laat invoer – iets wat regtig ’n groot uitdaging was. Terwyl ons vir die nuwe verpakking gewag het, het ek ook ’n geakkrediteerde verpakkingsfasiliteit opgespoor en onderhandel, en alles reggekry vir sodra die verpakking sou aankom.

En dan was daar die webwerf – wat ’n nagmerrie op sy eie was! Die proses het ons baie tyd en moeite gekos, maar die resultate is absoluut die moeite werd. Ons is opgewonde oor die nuwe voorkoms en sover is die terugvoer van al die veranderinge baie positief.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Soos enige onderneming het ons klein begin. Naweke het ek en my gesin ons storie aangepak – letterlik! Met stortkappies op ons koppe en voorskote aan, het ons ’n 25 kg boks eierwit in 125 x 200 g pakkies verdeel. Ek het die pakkies gevul en geweeg, my man het hulle met ’n hitteseëlaar verseël, en ons seuntjie het hulle netjies in bokse gepak. Elke gesinslid het ’n taak gehad, en ons het almal ons roetine vervolmaak.

In Nelspruit was daar geen verpakkingsfasiliteite beskikbaar nie, en ons kon nie bekostig om hulp in te roep nie, so ons het die werk self gedoen. Die eerste plakkers vir die verpakking het ek self ontwerp – iets waaroor ek nou net kan lag, want hulle was regtig nie mooi nie.

Toe het ’n vriendin ingespring en die tweede rondte plakkers vir my ontwerp. Haar betaling? ’n Bottel brandewyn – haar keuse – en iets wat ek kon bekostig. Saam met hierdie nuwe ontwerp het ek ook ons eerste strepieskode gekoop. Nou was ons produk amptelik.

Elke maand het ons 125 swart seëlsakkies met plakkers aan die voor- en agterkant versier, daarna die eierwitte gepak, geseël en geglo dat elke pakkie sou verkoop. ’n Paar maande later het klante begin vra vir groter verpakkings, aangesien die klein 200 g pakkies te vinnig opraak. So het ons die 1 kg pakkies bekendgestel, wat tot vandag toe ons topverkoper bly.

Aan die einde van 2022 het ons na Centurion verhuis, en ek het my werk opgegee om my volle aandag aan die onderneming te gee en dit ’n prioriteit te maak. Dit was die oomblik wat ek besluit het dat Ovo gereed is om na die volgende vlak te beweeg. Ek het gevoel dat die onderneming gereed was vir groei en het seker gemaak dat ons voorbereid is vir daardie groot deurbraak. Ek het die handelsmerk, verpakking, webwerf en verpakkingsfasiliteit alles bygewerk, sodat ons kon fokus op die kleinhandelmark.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Ons kernwaarde is om suiwer, gehalte- en bekostigbare produkte na die mark te bring.

Wanneer ek kyk na nuwe produkte of aanbiedinge, maak ek seker dat ons waardes deurskemer in elke aanbod.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Ek het groot verwagtinge gehad. Ek het geglo dat die produk dadelik sou vlam vat en binne ’n oogwink ’n treffer sou wees – so erg dat dit my aanlyn winkel en webwerf sou laat kraak onder die druk van al die verkeer. Toe dit nie gebeur nie, en ek ook nog negatiewe kritiek van ’n liggaamsbouer ontvang het, het ek begin twyfel – nie net in die produk en die onderneming nie, maar ook in myself. Daardie eerste stukkie negatiewe terugvoer het my amper laat opgee.

Met tyd het ek egter ’n belangrike les geleer: Daar is niemand soos ek nie, geen onderneming soos myne nie, en geen produk soos myne nie. Ek is uniek, en dit maak alles wat ek aanpak ook uniek en spesiaal.

Ek was so bang om te misluk, maar ek het besef dat selfs al sou die onderneming of produk nie die sukses behaal wat ek gehoop het nie, ek steeds sterk sou bly staan. Die onderneming definieer nie wie ek is nie – dit is ek wat die onderneming definieer.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Ek is beslis ’n waaghals, die tipe persoon wat bereid is om my oë toe te knyp en die sprong te waag wanneer die geleentheid voor my staan. Risikobestuur in my onderneming gaan oor die balans tussen dapperheid en deurdagte beplanning.

Ek glo sterk daaraan dat wie nie waag nie, wen nie. Ek verstaan ook dat blinde waagstukke nie altyd wys is nie. Daarom maak ek seker dat ek my huiswerk deeglik doen voordat ek enige groot besluite neem. Ek bestudeer die koste, ek analiseer die moontlike terugslae, en ek ontwikkel ’n soliede plan B vir ingeval dinge nie uitwerk soos beplan nie. Hierdie voorbereiding gee my die vertroue om die sprong te waag, selfs wanneer die uitkoms onseker is.

Tot dusver was ek baie gelukkig, en al die groot risiko’s wat ek geneem het, het goed uitgedraai. Dit kom neer op die kombinasie van harde werk, deeglike navorsing, en baie geloof dat dinge reg sal uitwerk. Ek is altyd gereed om aan te pas en oplossings te vind, selfs as daar onverwags uitdagings opduik. My benadering tot risiko is een van moed en berekende aksie, want ek glo dat dit die sleutel tot sukses is.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Tans is ek die enigste weknemer by Ovo Protein. Ek doen alles self. En soms kan ek nogal ’n rissiepit met myself wees.

Alle grappies op ’n stokkie!

Ek is streng, maar regverdig. ’n Ding word reg gedoen asook deeglik en noukeurig.

Ek is goed daarmee om te kommunikeer, en maak seker dat al die betrokke partye in my onderneming op dieselfde bladsy is. Dit is vir my belangrik dat almal wat deel is van Ovo voordeel trek, en voel dat hulle ook ’n verskil maak.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Ek fokus op: Passie vir mense. Passie vir die produk. Mense wat my visie deel en sterk werksetiek het.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Dis vir my baie belangrik dat mense weet dat ek hul insette en harde werk waardeer.

Ek fokus op gereelde kommunikasie, en skep ’n positiewe werksomgewing waar elkeen se bydraes erken word.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Ek fokus daarop om oop en eerlike kommunikasie te bevorder, konflik te bestuur deur probleme vinnig en met empatie aan te spreek, en oplossingsgerig te wees.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Ek is so opgewonde om te sien hoe hierdie baba van my begin hardloop! My doel is om die onderneming verder uit te brei in die kleinhandelsmark, nuwe produkte te ontwikkel, en my impak op die gesondheids- en welstandbedryf te vergroot. Ek wil hê dat Ovo ’n stapelvoedsel in elke spens regoor die land moet wees – iets wat elke gesin kan vertrou en waardeer as deel van ’n gesonde leefstyl.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Tegnologie is reeds ’n groot deel van my onderneming. Ons gebruik dit vir aanlyn verkope, om klanteterugvoer te monitor, en ook om verkope te bevorder. Tegnologie raak meer gevorderd by die dag, en ek glo dis ’n wonderlike werktuig om te gebruik vir alledaagse take, maar ook vir datahantering en ontleding van jou produk, jou verbruiker en onderneming self.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Deurlopende marknavorsing, en aanpassing by nuwe gesondheidstendense – daar is elke week ’n nuwe voedsel- en dieetneiging. Ek probeer gereeld om te sien hoe my produk by die nuwe tendense kan aanklank vind en hoe ek my produk kan bemark aan daardie teikengroep.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

My volgende groot doelwit is om verder in die kleinhandelsmark uit te brei, veral na groot supermarkgroepe. Ek het ook ’n nuwe produk in gedagte wat ek graag wil ontwikkel en later bekendstel.

In die laaste paar maande het ek baie hard gewerk aan die bywerking van die handelsmerk, verpakking en webwerf. Die volgende stap is om die regte vennootskappe te vestig om hierdie doelwitte te bereik. Ek beplan om strategiese kontakte te maak en saam te werk met sleutelspelers in die kleinhandelsbedryf om my produk op groot supermarkrakke te kry.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Ek het geleer om aan te pas, vas te byt in moeilike tye, en altyd in my visie te glo, selfs wanneer ander dit nie doen nie.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Ek probeer my tyd effektief te bestuur en dan ook grense te stel tussen werk en persoonlike tyd. Dit is vir my baie belangrik om tyd te maak vir my familie en selfversorging – ’n gesonde lyf, huisves ’n gesonde gees – ek oefen graag en maak seker dat ek elke oggend eerste daarby uitkom.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Wees hardekwas-vasberade, wees bereidwillig om te leer en aan te pas. Bly altyd getrou aan jou kernwaardes en visie.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

My hoop is om mense te inspireer na gesonder eetgewoontes en om hoëproteïenetes toeganklik te maak vir almal. Gesonder lewenstyle te bevorder, werksgeleenthede in my gemeenskap te skep, en ’n positiewe bydrae tot die gesondheid-en-welstand-sektor te maak.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

“Mense vorm die hart van enige onderneming” – Ek streef daarna om elke klant en verskaffer soos ’n gewaardeerde gas in my huis te laat voel. Daardie klein bietjie persoonlike aandag en tyd in ons wêreld met sy ewige vinnige tempo is wat saak maak. Dis daardie oomblikke wanneer jy met ’n mens verbind, wat jy regtig leef.

As jy enige deel van jou reis kon oor doen, wat sou jy anders gedoen het?

As ek enige deel van my reis kon oordoen, sou ek minder gespanne wees en meer moeite doen om elke oomblik en gebeurtenis ten volle te geniet. Ek sou graag meer teenwoordig wou wees, bewus van die klein suksesse en leerervarings langs die pad. In plaas daarvan om voortdurend vooruit te jaag na die volgende doelwit, sou ek meer tyd wou spandeer aan die waarde van elke stap op die pad na sukses.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Ek wil hê dat mense my onderneming moet onthou as een wat met hart en siel geskep is – ’n onderneming wat nie net produkte verkoop het nie, maar werklik mense se lewens aangeraak en verbeter het. Ek wil hê mense moet onthou hoe ons elke klant as deel van ons familie beskou het, en hoe ons daarna gestreef het om elke interaksie spesiaal en betekenisvol te maak.

Meer as net die sukses van die onderneming, wil ek hê dat my nalatenskap een van deursettingsvermoë en passie moet wees. Ek wil onthou word as iemand wat nie opgegee het toe dit moeilik gegaan het nie, maar eerder daardie uitdagings gebruik het om sterker en wyser te word. My hoop is dat my reis ander inspireer om in hul eie unieke pad te glo, om met moed en liefde hul drome na te streef, en om die wêreld ’n bietjie beter te maak – net soos ek met Ovo probeer het.

Daarmee saam wil ek ook hê dat my seuntjie weet dat my bloed deur sy are bruis – dat sy mamma ’n sterk vrou is, en daarom is hy ook sterk. Ek hoop dat ek vir hom ’n voorbeeld kan wees van wat dit beteken om nooit op te gee nie, om met integriteit en liefde te lei, en om te glo in sy eie krag en potensiaal.