|

entrepreneursfokus: colene pretorius

Ons het met Colene Pretorius van Eersteklas gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

My kinders! Ek wou ’n inkomste genereer terwyl ek steeds deel van my kinders se lewens kan wees en vir hulle ’n inspirasie wees.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Dit het alles begin met ’n winkeleienaar wat nie meer kans gesien het vir die daaglikse lang pad in dorp toe nie, myself by ’n kruispad en ’n vriendin met ’n blink idee. Saam het ons drie vroue aan ’n plan begin werk om ’n pragtige plattelandse geskenkwinkeltjie se horisonne te verbreed en in ’n aanlyn winkel te omskep.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Finansies, logistiek en onkunde was groot struikelblokke. Ons het ons spaargeld ingesit, afbetalingsooreenkomste gesluit waar nodig en logistieke uitdagings deur goeie kommunikasie oorkom.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Ja, die eerste keer toe iemand my op ’n mark herken het van my advertensies, het ek geweet ek is op die regte pad.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

’n Aanlyn geskenkwinkel vir eersteklasvroue, deur eersteklasvroue.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Persoonlikheid. Elke pakkie word persoonlik opgemaak, met ’n handgeskrewe (of handgestempelde) dankiekaartjie en sover moontlik probeer ek altyd ’n klein dankiegeskenkie bysit. Pakkies word opgemaak van herwinde materiaal, bv. ’n meelsak waaraan ’n bietjie flair gegee is.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Ek kontak elke kliënt persoonlik, bedank hulle vir hulle ondersteuning en nooi hulle om sosiale media te volg en resensies te los.

 Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Om my webblad in orde te hou. Dit voel of iemand die skaapkraal se hek oop vergeet het en nou vreet die skape my tuin op …

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Ek het op kwaliteit en uniekheid gefokus, mettertyd die aanbod van produkte uitgebrei en my medestigter uitgekoop, wat my meer kreatiewe vryheid gegee het om my visie sonder kompromie uit te leef. Ek het ook die besluit geneem om volhoubare verpakking te gebruik, wat ’n unieke, persoonlike gevoel gee aan elke bestelling. Dit het gelei het tot ’n lojale kliëntebasis wat my waardes deel.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Ek sorg dat elke nuwe idee my geloof en beginsels weerspieël. Innovasie is noodsaaklik om relevant en mededingend te bly, maar ek sal nooit toelaat dat dit die fondament van my onderneming ondermyn nie. 

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Aan die begin van my reis het ek die fout gemaak om vir alles en almal ja te sê. Ek was so gretig om tevrede kliënte en goeie verhoudings met verskaffers te hê dat ek dikwels te maklik toegegee het, wat daartoe gelei het dat ek nie genoeg vertroue in myself en my produkte gehad het om standpunt in te neem nie. Ek het dikwels te vinnig afslag aangebied net om verkope te kry, en dit het die waarde van my produkte verminder.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Ek is geneig is om soms impulsiewe en emosionele besluite te neem, wat nie altyd die beste vir my onderneming is nie. Daarom het ek besef hoe belangrik dit is om ’n gebalanseerde benadering te volg. In plaas daarvan om net op my gevoelens te reageer, maak ek nou seker dat ek ’n oomblik neem om stil te staan en die situasie van alle kante te oorweeg.

My man is my steunpilaar en ’n baie nugter denker. Sy kalmte in moeilike situasies is ’n groot seën vir my, dus raadpleeg ek hom gereeld vir ’n objektiewe opinie. Verder vertrou ek ook op my geloof en bid ek gereeld vir wysheid, insig en leiding in my onderneming.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek sou my leierskapstyl beskryf as ’n kombinasie van empatie en passie. Ek fokus graag op samewerking en ondersteuning en glo daarin om ander te inspireer deur self ’n voorbeeld te stel sodat gemeenskaplike doelwitte deur samewerking bereik kan word.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Wanneer ek ’n span moet bou, is daar vier kernwaardes wat vir my ononderhandelbaar is: vertroue, bekwaamheid, professionalisme en toewyding.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Alhoewel ek nog nie werknemers het nie, probeer ek steeds ’n omgewing skep waar my verskaffers voel hulle word gehoor en waardeer. Ek luister graag na hulle idees en gee erkenning wanneer hulle bydraes lewer. Wanneer ek ’n idee moet afskiet, hou ek daarvan om ’n verduideliking te gee vir my besluit – dit gaan vir my oor eerlikheid en deursigtigheid.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Met koffie. Haha. In alle erns, daar is maar altyd uitdagings, en ek probeer ’n gebalanseerde benadering volg. Ek stel duidelike grense en kommunikeer dit effektief, sodat almal weet wat verwag word. Dit help om misverstande te voorkom en verseker dat ons almal op dieselfde bladsy is.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Om volhoubaar te groei, nie net in omset nie, maar ook in die impak wat Eersteklas op mense se lewens maak. Ek wil graag sterk, direkte kontakte opbou sodat ek produkte teen ’n mededingende prys aan kliënte kan verskaf.

My langtermynvisie is om Eersteklas Aanlyn te vestig as dié toonaangewende aanlyn platform vir unieke, gehalteprodukte en pragtige dekor in Suid-Afrika.

Watter rol speel tegnologie in jou besigheidsplanne vir die toekoms?

Aangesien ek slegs aanlyn wil handel dryf, is die effektiewe gebruik van tegnologie van kardinale belang! Ek gebruik tegnologie nie net om my produkte aan ’n wyer mark beskikbaar te stel nie, maar ook om kliëntedata te ontleed. Sodoende kan ek die kliënte-ervaring verbeter en mededingend bly. Ek beplan om voort te gaan met die optimalisering van my webwerf om dit gebruikersvriendelik en visueel aantreklik te maak,

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Ek bly ingelig oor nuwe tendense, veral op die gebied van digitale bemarking en e-handel, deur na podsendings te luister, mededingers se webblaaie te bestudeer en deel te neem aan aanlyn kursusse. Verder beskou ek my kliënte se behoeftes en voorkeure as my kompas. Ek luister na hulle terugvoer, monitor hulle koopgewoontes en pas my produkaanbod en dienste sover as moontlik aan om aan hulle verwagtinge te voldoen.       

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Om Entrepreneur van die Jaar te wen, natuurlik!! En daarna wil ek graag direkte lyne opbou vir die invoer van produkte soos erdeware om my onderneming nog verder uit te brei. Ek beplan om dit te bereik deur elke moontlike geleentheid aan te gryp om te leer, slim en ingeligte besluite te neem, en voortdurend op my werk te fokus om my visie te verwesenlik.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Ek het geleer dat ek veel sterker is as wat ek ooit gedink het! My entrepreneursreis het my verder laat besef dat ek ’n kreatiewe dryfkrag het wat my daartoe in staat stel om uitdagings te oorkom en nuwe geleenthede te benut. Ek het geleer dat my geloof, deursettingsvermoë en bereidwilligheid om te leer, my grootste bates is.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Met moeite … aangesien my werk by die huis is, is dit nie altyd maklik nie. Ek ondervind dat dit belangrik is om duidelike grense te stel en bepaalde tye te identifiseer vir my onderneming en vir my gesin. Beplanning en organisasie help om te verseker dat ek produktief is wanneer ek werk, sodat ek met ’n geruste hart kan afskakel en ontspan, veral op Sondae, wanneer ek nie werk nie.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Jy weet nie alles nie. Vertrou op jou visie, maar wees altyd bereid om aan te pas en te leer terwyl jy op die uitkyk is vir ’n geleentheid!

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek hoop om ’n betekenisvolle impak op my gemeenskap en die breër bedryf te maak deur vroue te bemagtig en hulle ’n platform te bied om hulle handewerk aan die wêreld te bied. Deur plaaslike kuns en handwerk te ondersteun, wil ek graag help om ekonomiese geleenthede te skep en ’n gemeenskap van vroue te bou wat mekaar inspireer en ondersteun.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Dat my foute myne is en dat ek volle eienaarskap daarvan moet neem.

Dit het my geleer dat om foute te maak, deel is van die leer- en groeiproses. Sonder enige foute sou ek nie waardevolle lesse kon leer wat my in staat gestel het om my onderneming te laat groei nie. Op grond daarvan kon ek ’n mentaliteit ontwikkel waar ek nie bang is om risiko’s te loop nie, omdat ek weet dat elke fout ’n geleentheid is om te leer en sterker te word.

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Niks nie. My reis is nie noodwendig maklik nie, maar dit is die uitdagings wat ons oorkom wat uiteindelik lei tot waar ons is. Ek glo vas dat dinge uitwerk soos wat dit moet, daarom tob ek nie te veel oor dinge wat ek dink ek anders kon of moes doen nie, want ek weet ek is presies waar die Liewe Vader my nou wil hê.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Ek sal graag wil hê dat mense my onderneming moet onthou as ’n handelsmerk wat met geloof, integriteit, liefde en ’n diep respek vir vakmanskap en gemeenskap opgebou is. My nalatenskap moet een wees van ’n vrou wat haar drome met moed en deursettingsvermoë nagestreef het, wat ander vroue bemagtig het om dieselfde te doen en wat ’n blywende impak op haar gemeenskap gemaak het. Ek sal graag onthou wil word as iemand wat met passie geleef het en getoon het dat sukses en omgee hand aan hand kan gaan.