|

entrepreneursfokus: corné nell

Ons het met Corné Nell van Rocket Boutique Distillery en Bitchin’ Tees gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die onderneming

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

In 2019, toe my jongste kind net een jaar oud was, het ek Bitchin’ Tees begin. Die realiteit van moederskap en die uitdaging om drie klein kinders te hanteer, was baie meer intens as wat ek verwag het. Die idee van stoute, passief-aggressiewe T-hemde het vir my ’n manier gebied om in ’n ligte trant uitdrukking te gee aan hierdie frustrasies. Ek het ook gedink dat die bestuur van my eie onderneming my die vryheid sou gee om my eie tyd beter te beheer, veral in ’n omgewing waar korporatiewe werk min begrip gehad het vir die eise van moederskap.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Die idee vir Bitchin’ Tees het ontstaan uit my persoonlike ervaring as ma, waar ek besef het dat daar ’n behoefte is aan stoute, humoristiese kledingstukke wat die realiteite van moederskap weerspieël.

Die idee vir Rocket Boutique Distillery het gekom nadat my man, Deon, en sy vriend Jean besluit het om mampoer te maak, en ons ons eerste gin tydens die inperking geskep het. Dit het my laat dink om ’n reeks vonkel- en pretgeure te skep wat mammas soos ek sou geniet. Ons het besluit om ook proesessies te hou wat so prettig as moontlik sou wees, geïnspireer deur ons eie ervarings in die Kaap.

Mense het ons begin vra vir oulike geskenkitems wat by ons vonkeljenewer pas, en so het ons die handelsnaam Bitchin’ Merch (BMerch) verander van Bitchin’ Tees na ’n breër reeks, insluitend geskenke, kledingstukke en spiritualieë.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Met BMerch was die grootste struikelblok om betroubare verskaffers te vind en die nodige kennis oor drukwerk op te doen. Ons het baie deur probeer-en-tref geleer en ook mense teëgekom wat ons nie kon vertrou nie.

Met Rocket Boutique Distillery was die grootste struikelblokke die COVID-19-pandemie, lisensiëring, befondsing, en die mededingende mark en afgunstige kompetisie. Ons het hierdie struikelblokke oorkom deur volharding, kreatiewe bemarking en persoonlike betrokkenheid in elke aspek van ons onderneming.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Die oomblik toe ons lisensie gekom het en ons begin het om herhalende kliënte te hê wat nie net vir een produk terugkom nie, maar ook vir die volle reeks ervarings wat ons bied. Dit het my laat besef dat ons iets unieks en waardevols skep.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

BMerch SA: Superkoel, unieke, kleurvolle geskenke wat met persoonlike aandag gemaak word, vol glans en liefde.
Rocket Boutique Distillery: ’n Boetiekdistilleerdery wat vakmanskap in selfgebroude spiritualieë (vonkeljenewer, whisky, brandewyn, rum en tequila) kombineer met innemende proesessies. Ons is mal oor ’n goeie avontuur.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Ons produkte is persoonlik en kreatief, met die eienaars direk betrokke by elke kliënt. Ons bied ’n intieme, praktiese ervaring, waar kliënte hulle eie idees kan bydra tot geskenke of drankervarings, en ons gebruik ons persoonlike verhale en waardes om lojaliteit te bou.

Dis ook uniek om ’n distilleerdery in die ooste van Johannesburg te hê – daar is tans nie so baie soos wat daar byvoorbeeld in die Wes-Kaap is nie.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Ons ontmoet ons kliënte op ’n weeklikse basis, by ons distilleerdery, of persoonlik by hulle huise wanneer ons proesessie het saam met hulle. Ons ontmoet ook ons kliënte aanlyn, via sosiale media, WhatsApp en e-pos waar ons dan hulle behoeftes bespreek vir die maak van geskenke of die beplan van hulle funksies. Ons lojaliteit kom van ons ware betrokkenheid en die bou van egte verhoudings, sowel aanlyn as persoonlik.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Een van die grootste uitdagings is om ons produkte in winkels, restaurante en drankwinkels te kry, gegewe die mededingende aard van die bedryf. Ons wil graag restaurante en kroeë bekend stel aan ons produk deur ons produk na hulle te neem en by hulle kliënte op die proef te stel teen geen koste nie.

Ander uitdagings wat ons tans ook raak, is die voortdurende onderbrekings in water- en elektrisiteitstoevoer by die distilleerdery. Ons het nou hierdie week ’n waterbergingstelsel geïnstalleer. Volgende op die lys is die installasie van sonkrag.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

My entrepreneursreis het in 2019 begin. In daardie stadium was ek al 10 jaar in die korporatiewe wêreld, waar ek as ’n belastingbestuurder gewerk het – ek het selfs ’n meestersgraad in Suid-Afrikaanse en Internasionale Belasting. Maar iets het ontbreek. My derde baba was toe net een jaar oud, en ek het besef dat nie almal die eise van moederskap in ’n korporatiewe omgewing verstaan nie. Dit het my laat besluit om my eie onderneming te begin.

Om drie seuntjies groot te maak en terselfdertyd by die werk te presteer, was uitdagend. Moederskap is ’n seën, maar niemand word toegelaat – en dit word steeds nie toegelaat nie – om te praat oor hoe moeilik dit werklik is om ’n ma te wees nie. Daarom het ek besluit om ’n onderneming genaamd Bitchin’ Tees te begin, waar ek passief-aggressiewe mamma-T-hemde gemaak het met slagspreuke soos “They whine, and I wine,” en “Not today, Satan”. Slagspreuk-T-hemde word minder gekritiseer as om werklik te sê hoe jy voel.

Toe, in Desember 2019, het my man en ons beste vriend besluit hulle wil iets prettigs doen – mampoer maak.

Hier is ’n klein tydlyn: Hulle het in Januarie 2020 ’n 25 liter-koperpot uit Spanje bestel, wat 10 weke sou neem om in Suid-Afrika afgelewer te word. Maar toe, 10 weke later, het Vlak 5 van die COVID 19-inperking begin.

Onthou jy? Iewers tussen Vlak 5 en Vlak 4 was daar ’n kort opheffing van die inperking, en almal het na Makro gestorm. Dit was toe dat ons pot oor die grense gekom het en ons ons eerste stooksel jenewer gemaak het. Terwyl baie ander mense besig was om hulle pynappelbier te vervolmaak, het ons moonshine begin maak!

Omdat ek reeds ’n mamma-gemeenskap vir Bitchin’ Tees gehad het, het ek besluit ek wil ’n vonkeljenewerreeks (Glitter Gin-reeks) skep wat alles oor sprokiesverhale, sonskyn en reënboë gaan – want ma’s kan ook pret hê! Na baie geure en vonkeleksperimente is ons Glitter & Moonshine-reeks van Bitchin’ Spirits gebore, en ons het ’n klein inperkingsprokiesverhaal geskryf om daarmee saam te gaan.

Dit was ook in hierdie stadium dat ons vriende begin vra het vir vonkelgeskenke om by hierdie fantastiese vonkeljenewer te pas. En so is Bitchin’ Merch gebore. Ons het die Bitchin’ Tees-handelsnaam na Bitchin’ Merch (BMerch afgekort) verander om Threads (ons gedrukte T-hemde), Favours (die pragtige geskenke wat ons maak) en Spirits (ons wonderlike vonkeljenewers) te dek.

In November 2020 het ons kleuterskool al die ma’s vir ’n damesaand uitgenooi, en die mammas was mal oor ons jenewer asook die stories wat daarmee gepaard gaan. Die idee van jenewerproesessies is gebore. Ons hou van proe-ervarings – nie net vir die produkte nie, maar vir die herinneringe wat dit skep. Ons gaan nie Kaap toe vir die berg of die see nie – ons gaan vir die wynplase!

Teen Februarie 2021 het ons drie pragtige proe-ervarings ontwikkel en begin adverteer. Hierdie ervarings het ons Bitchin Gin-reeks gedek, wat in twee dele verdeel was: Sweet, Spicy & Flowery en Fruity & Fresh.

Ons het ook begin eksperimenteer met whisky, brandewyn en rum, bekend as die Prohibition-reeks, wat ons derde proe-ervaring geword het.

Ons het nooit die reaksie verwag wat ons gekry het nie – dit was wild! Ons tuisproesessies het ’n veilige omgewing vir dames/mammas verseker om bymekaar te kom en iets nuuts te probeer. So het ons jong dames begin aanstel om ons reeks te leer ken en ook die proesessies aan te bied.

Teen middel-2021 moes ons ’n besluit neem: gaan ons dit as ’n stokperdjie hou, of dit omskep in ’n volwaardige onderneming? Jy sien, ’n rekenmeester, belastingvrou en ingenieur lyk nie goed in oranje tronkpakke nie! So is Rocket Boutique Distillery gebore.

Die lisensieproses was moeilik – om befondsing te kry, persele te beveilig, ’n volwaardige distilleerdery op te stel, en dan 14 maande lank nie toegelaat te word om dit te gebruik nie. Mense, dit was mal. Jy begin gewoonlik ’n onderneming om geld te maak, nie om dit weg te gooi nie!

Om ’n entrepreneur te wees, is nie glansryk nie. Om ’n entrepreneur te wees terwyl jy ’n voltydse werknemer, ’n ma, ’n vrou en ’n vriend is, is nie vir die wat flou van hart is nie. Teen Augustus 2022 moes een van ons bedank, want om hierdie onderneming te bestuur terwyl jy ’n voltydse werk het, was byna onmoontlik.

Daardie bedanking was ek. Almal grap altyd en sê hulle wil hulle werk bedank en mengeldrankies op die strand gaan verkoop – tegnies was dit wat ek gedoen het, net nie op die strand nie. Die skok op my sisteem is iets wat ek nie vir jou kan begin beskryf nie. Dit was geen grap nie.

Uiteindelik, op 4 November 2022, het ons vervaardigings- en verspreidingslisensie deurgekom. Ek onthou nog – ons was op pad op ’n naweekwegbreek saam met ons sakevennote en ook beste vriende toe ons die oproep gekry het!

Jy dink dalk dit is waar alles net in plek val, reg? Ons was wettig … maar nie heeltemal nie.

Januarie 2023 het ’n string verrassings gebring.

Eerstens ’n handelsmerkkwessie van ’n distilleerdery wat nog nie eers geregistreer was nie. Laat ek jou vertel, dit is nie lekker om jou eerste oproep ooit van ’n prokureur te kry nie.

Ek het ook my beste vriendin van 10 jaar gedurende hierdie tyd verloor – ’n harde les wat ek moes leer, dat nie alle vriendskappe vir besigheid gemaak is nie. Grense en wankommunikasie was die hoofredes dat ons vriendskap verbrokkel het, en ek was verpletter.

Van Januarie tot April 2023 was Rocket op die rand van ineenstorting weens die vreeslike ekonomiese situasie. Al ons produkte en ervarings is ’n luukse, en ons het ál ons bedryfskapitaal gebruik. Maar uit moeilike tye kom innovasie.

Ons het net aangehou en aangehou, al was dit glad nie glansryk nie.

Ons Make your own experience / Maak jou eie sessies is gebore – ’n manier om mense deur ons deure te kry deur hulle hulle eie bottels whisky, brandewyn, rum, jenewer en uiteindelik tequila te laat maak.

In Julie 2023 het ons die besluit geneem om nog ’n produkreeks by ons steeds groeiende innovasies te voeg. Ons wou tequila maak, en ons het die proses begin om agave-stroop uit Jalisco in Mexiko in te voer.

Rocket is genoem omdat ons avontuurlustig van gees is – altyd nuwe hoogtes bereik en nuwe grense in ons onderneming verken.

Vandag, vier jaar later, het ons ses produkreekse:

Glitter & Moonshine – Glitter Gin/Vonkeljenewer

Galaxy Spirits – Glitter Gin/Vonkeljenewer

Fynbos Fantasia – Fynbos Gin/Fynbosjenewer

Die Prohibition-versameling – Ons eie whisky, brandewyn en rum

Die Jalisco-versameling – Ons eie Mexikaanse agave-spiritualieë, oftewel tequila, gemaak van ingevoerde agave-stroop

Ons bied ook steeds proe-ervarings by die huis aan, en vir korporatiewe geleenthede.

Ons verwelkom ook die publiek weekliks by ons distilleerdery om lekker, innemende proe-ervarings te geniet en om hulle eie whisky, brandewyn, rum, jenewer en tequila te maak.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Innovasie en avontuur is die kern van ons onderneming, maar dit gaan altyd hand aan hand met ons waardes van integriteit, kwaliteit en klanttevredenheid. Ons bly getrou aan wie ons is en wat ons produkte verteenwoordig, maar ons dryf steeds vooruit deur nuwe en vars idees in ons produkte en ervarings in te bring. Tans probeer ons om elke ses maande met nuwe produkte en ervarings vorendag te kom.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Ons het uit vorige ervarings geleer dat groter nie noodwendig beter is nie. Ons het te lank gewag om sekere take uit te kontrakteer. As ons vroeër hulp ingeroep het, kon ons vinniger gegroei het. Ek het geleer dat dit belangrik is om hulp te aanvaar en nie alles self te probeer doen nie.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Risiko is onvermydelik in besigheid, maar ons hanteer dit deur deeglike navorsing te doen, buigsaam te wees en altyd ’n plan B, C en D gereed te hê. Ons omhels verandering en risiko’s as deel van die reis, want dit bring dikwels die grootste geleenthede. Ons het weeklikse en maandelikse sessies waar ons enige knelpunte en strategie nagaan om seker te maak dat ons ons doelwitte bereik.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek sien myself as ’n deelnemende leier. Ek is prakties betrokke by alle aspekte van die onderneming, maar gee ook my span die ruimte en vertroue om self te besluit en inisiatief te toon.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Vertroue, lojaliteit en passie is vir my die belangrikste. Ek wil hê my span moet nie net werknemers wees nie, maar mede-eienaars van die visie en missie van ons onderneming. Ek bou my span op mense wat omgee vir die produk en die kliënt, en wat innoverend kan dink.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ek inspireer en motiveer my werknemers deur hulle te betrek by die kreatiewe proses, hulle menings te vra en hulle harde werk te erken. Ek probeer ’n kultuur van trots en prestasie skep waar hulle hulself kan sien as deel van iets groters. As voorbeeld het ons maandelikse belonings vir die verkoopspersoon van die maand. Ons fasiliteer ook een keer per kwartaal ’n pretspanbou.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Uitdagings binne die span is onvermydelik, maar ons hanteer dit deur oop en eerlike kommunikasie aan te moedig, dadelik. Ek werk daaraan om ’n ondersteunende en positiewe werkkultuur te bevorder, waar uitdagings as groeigeleenthede gesien word eerder as struikelblokke.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Ons mik daarna om ons produkte in meer winkels en restaurante beskikbaar te stel. Ons het opgemerk dat die vraag na ons produkte toeneem wanneer ons bestaande kliënte daaroor begin navraag doen.

Verder wil ons graag ’n tweede lokaal oopmaak, wat deeglike beplanning en ongeveer twee jaar se werk sal verg, veral as mens die lisensiëringsprosesse in ag neem. Ons oorweeg tans of dit beter sal wees om te huur of ons eie plek te bou.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Tegnologie speel ’n groot rol in ons planne vir die toekoms. Ons benut tegnologie vir produksie-optimalisering, digitale bemarking en om aanlyn kliënte te bereik. Ons bly op hoogte van nuwe geure asook tegnologieë om ons prosesse te verbeter en ’n verpersoonlikte kliënte-ervaring te bied.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Deur voortdurende aanpassing. Ons pas aan by markveranderinge, bly innoverend en luister na ons kliënte om te verseker dat ons produkte en dienste aanhou om relevant en begeerlik te wees. Byvoorbeeld, wanneer ons navrae kry oor seker kleure en geure wat kliënte wil hê, dan doen ons die nodige navorsing om dit vir die kliënt te kan bied.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Ons is tans besig met opgraderings by ons distilleerdery in Germiston, wat sal lei tot meer kapasiteit vir ons huidige proe- en smaakgeleenthede. Ons beplan ook om vanaf die lentemaande ook op Sondae oop te wees vir die publiek. Ons wil ook graag meer betrokke raak by meer markte vir selfgemaakte kos en drank (Craft Food and Drink Markets). Hiervoor benodig ons ’n ligte vragmotor om al ons goed te voer.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer? Ek het geleer dat ek sterker is en meer deursettingsvermoë het as wat ek gedink het. Ek het ook geleer dat dit belangrik is om te luister na ander, en om mense te hê wat in jou hoek staan, en dat my passie vir kreatiwiteit en kliëntediens nie net ’n dryfkrag is nie, maar ook die kern van my sukses.

Grit & Grace.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Werk-lewe-balans is vir my eintlik meer soos ’n werk-lewe-dans! Dis oor hoe jy jou werk en persoonlike lewe saam kan laat werk. Ek probeer my dag so beplan dat ek my kinders kan sien en my werk kan doen sonder om oorweldig te voel. Soms is ek ’n ma, soms ’n baas, en soms albei op dieselfde tyd!

Watter advies sal jy gee aan aspirant-entrepreneurs?

Begin net.

Daag elke dag op.

Moenie bang wees om foute te maak nie; beskou dit as ’n leerskool. Wees volhardend, luister na jou kliënte, en bou ’n sterk netwerk van mense wat jou kan ondersteun. Wees geduldig en hou vas aan jou visie, maar wees ook gereed om aan te pas as dinge nie volgens plan verloop nie.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek wil mense inspireer om hulle drome na te jaag, ongeag die struikelblokke. Ek wil ook bydra tot die bevordering van kreatiwiteit en entrepreneurskap by jong dames van ons gemeenskap.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Die beste raad wat ek gekry het, was om groot drome in klein stappe op te breek – dit maak selfs die grootste projekte hanteerbaar en minder oorweldigend. Jy hoef nie alles op een dag te doen nie, maar jy moet elke dag iets doen.

Ons kan Rocket as voorbeeld gebruik. Ons het begin met een 25 liter-koperpot en een reeks vonkeljenewer. Vier jaar later het ons die hele distilleerdery opgerig, en ons het 12 produkontwikkelingskoperpotte waarop ons kan eksperimenteer, maar waarmee jy ook jou eie drank kan maak. Ons het ook ses produkreekse.

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ons het te lank gewag om sekere take uit te kontrakteer. As ons vroeër hulp ingeroep het, kon ons vinniger gegroei het. Ek het geleer dat dit belangrik is om hulp te aanvaar en nie alles self te probeer doen nie.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Ek wil hê mense moet my onderneming onthou as ’n plek van kreatiwiteit, vreugde en kwaliteit. Ek hoop om onthou te word as iemand wat passievol was oor wat sy gedoen het, en wat ’n positiewe verskil in die lewens van ander gemaak het deur haar produkte en diens. Ek wil hê my nalatenskap moet een wees van inspirasie en volharding, waar mense herinner word dat hulle drome moontlik is met genoeg passie en deursettingsvermoë.