Entrepreneursfokus: Dra Afrikaner

Vanjaar het AfriForum Sakenetwerk die geleentheid gehad om aan Dra Afrikaner ’n Tinteltong Toekenning te oorhandig. Dra Afrikaner het in 2019 ontstaan. Hulle het spesifiek op hierdie naam besluit omdat hulle Afrikaans wou terugbring en daarom die naam Dra Afrikaner, soos hulle sê “Dra jou trots op jou bors”.

Jandrè (eienaar van Dra Afrikaner) was nog altyd bestem om met Afrikaners te boer; dis deel van wie hy is. Sedert 2019 dien die Afrikanerbees ook as die fondasie waarop Dra Afrikaner hulle onderneming bou.

Dra Afrikaner se produkte word soos volg beskryf:

’n Afrikanerbees is gehard, uniek, trots en langlewend. Dra Afrikaner streef daarna om die einste kenmerke in hulle produkte uit te beeld. Dra Afrikaner se produkte is trots Suid-Afrikaans en word vervaardig uit top-gehalte materiale wat wind en weer sal trotseer, maar so taai soos wat die produkte is, so sag is dit op die oog.

“Afrikanerbloed vloei al vir dekades deur ons are.”

Dra Afrikaner ervaar die volgende uitdagings:

In die klerebedryf is dit moeilik om as ’n jong onderneming die regte verskaffers te kry wat kwaliteit en kwantiteit bymekaar kan bring, asook ’n goeie diens kan lewer. Ons kan vir die eerste keer na drie jaar sê ons het die regte mense in ons span.

Dit is nie altyd maklik om al jou kliënte tevrede te stel nie, want almal se smaak verskil. Ons as Dra Afrikaner streef daarna om ’n wye verskeidenheid produkte te bied vir elke kliënt se smaak.

“Meeste van ons vrees gewoonlik enige vorm van uitdaging, maar elke hindernis kan ’n geleentheid skep – mits ons dit op ’n positiewe wyse benader.“

Hou die volgende produkte dop:

Op hierdie oomblik hou Dra Afrikaner net kop bo water met al hulle pakkies van huidige produkte wat hul betyds by kliënte moet uitkry. Dra Afrikaner is hard aan die werk aan ’n gholfreeks en a.g.v. heelwat navraag gaan ons ook binnekort ons “Afrikanertjie”-kinderreeks hervat.

Koop hiér vir jou Dra Afrikaner produkte – https://dra-afrikaner.co.za/