entrepreneursfokus: jolene snyman
Ons het met Jolene Snyman van ONEWellness gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.
Die begin
Ek was die trotse eienaar van Pienkvoet-Pret Montana. Hier is ek telkemale gevra waar die mammas byvoorbeeld swemklasse met hulle babas kan neem of waar hulle kan gaan vir spraakterapie, waar is ’n oulike partytjievenue vir kinders onder 3 jaar, ens. Hier het die plan toe gekom om ’n kleinhoewe te koop wat al die verskeie dienste en fasiliteite huisves wat ’n mamma en baba nodig het. Alles op een plek en geen gewonder waar hul die nodige dienste sou kry nie. Die op- en afryery sou dus ook uitgeskakel word.
Om ’n lang storie kort te maak, dié droom het op die laaste minuut platgeval. My grootste struikelblok was om “oor myself te kom”, nie meer kwaad vir die Here te wees nie en aan te beweeg. Om ’n nog langer storie kort te maak, ek het my tak Pienkvoet-Pret Montana verkoop, Covid het gebeur en OneWeigh Montana/Moot het oor my pad gekom.
Ek het besluit om die franchise te koop en hoe meer ek die pad met my kliënte gestap het, hoe meer het hulle byvoorbeeld vir my gevra vir ’n plek waar hulle vitamiendrups kan kry, kan gaan vir kolonterapie, bloedtoetse, naels en hare. En dis hier waar die “vergete” droom weer lewendig geword het. Dis hier waar ek toe besef dat die Here daardie profetiese visie van die BabyHub reeds vroeër vir my gegee het, maar dat dit toe nie vir die BabyHub was nie, maar wel vir die ONEWellness Centre!
Ek het geweet dis ’n puik plan, maar toe ek binne twee of drie weke vandat ek besluit het om die kans te waag en ’n ONEWellness Centre oop te maak, twaalf verskillende vrouens met sestien verskillende dienste tussen ons bymekaarkry (hulle het na my toe gekom en nie ek na hulle nie), hulle kontrak teken, ek kontrak teken vir ons nuwe perseel en ek ’n R400 000 se lening by ’n privaat persoon via WhatsApp (wat ek toe nog slegs twee keer vlugtig ontmoet het) kry vir die inrig van die perseel, het ek geweet dit kan niks anders as suksesvol wees nie. Want jy sien, God het jare terug die plan gegee en nou was die tyd ryp!
Die onderneming self
Ek antwoord die volgende vier vrae as ’n geheel.
ONEWellness Centre is ’n eenstopwinkel. Ons bied verskeie dienste aan, van gesondheid en skoonheid tot fiksheid en holistiese sorg, alles onder een gerieflike dak.
Ek weet eerstens dat ons enig in ons soort is in ons area. Jy kan byna al die dienste wat ons verskaf êrens anders kry, maar nêrens kry jy dit als onder een dak nie. Dit opsigself onderskei ons verseker van die res.
Maar ek glo ook wat ons onderskei is die “gevoel” in ons sentrum. Ek weet eintlik nie hoe om dit te beskryf nie, beslis nie sonder om “Holy moly” te sê nie. Almal wat ons besoek se terugvoer is altyd, “Hier is so ’n lekker gevoel by julle”. Omdat ek weet die plek het reguit uit die Here se hand en op Sy tyd tot stand gekom, weet ek die Heilige Gees word hier deur elke liewe persoon aangevoel. Dis ’n plek van besigheid, maar dit voel soos familie en elke kliënt voel soos ’n vriendin/vriend.
Behalwe dat ons kliënte soos vriende voel en dit lojaliteit verhoog, bied ons ook baie spesiale aanbiedinge. Ons gee ook afslag as jy iemand verwys of as jy by die een diens ’n kliënt is en nou een van ons ander dienste ook begin gebruik. So, die kliënt kom dalk om haar hare te doen, maar voor sy haar oë uitvee is sy dalk deel van ons oefenklasse, koop sy koffie of sap by ons gesondheidskroeg en stap sy die pad met ons lewensafrigter!
Omdat ek so ’n ontsaglike liefde vir mense het en baie lojaal is, is my grootste uitdaging nog altyd gewees om dit nie persoonlik te neem as ’n kliënt dalk nie meer van my produkte of dienste gebruik maak nie. Ek sal wel introspeksie doen en seker maak of my produkte en dienste steeds van topgehalte is en indien dit is moet ek weet dit gaan dalk net bloot oor finansies vir daardie kliënt of tyd of ander faktore en nie omdat ek nie goed genoeg was nie.
Groeiproses
Aanvanklik was my fisiese kantoortjie slegs 2,5 m x 2,5 m groot en het ek net een diens, OneWeigh-konsultasieinmediese gewigsverlies gedoen. Die huur was spotgoedkoop en ek sou dit kon bekostig om dit elke maand te betaal al sou ek net een kliënt gehad het. Dit het dus baie stremming van finansies van my skouers afgehaal en kon ek net fokus om die beste diens te lewer.
Na so jaar en ’n half het ek die besluit geneem om ’n 60 vierkante meter area te huur en uit te brei. Die rede hiervoor was dat ek altyd my kliënte Silver Lakes toe moes verwys vir kolonterapie, omdat ons nie die diens in ons area het nie. Maar nou was een van my kliënte ’n kolonterapeut wat ’n kantoorspasie gesoek het in die “dorp”. Ons het toe saam die kans gewaag om die nuwe groter area te huur en dus kon ons kliënte sommer van my na haar toe stap of anders om. Onmiddellik het dit die potensiaal vir ons elkeen gegee om ons kliëntebasis te verdubbel net deur kliënte na mekaar toe te verwys.
Saam met die skuif, het ek ook die stap geneem en OneJoureny IV drip therapy oop te maak op die perseel. Nog ’n diens wat die aanvanklike gewig- en kolondienste gekomplementeer het en dus ook ’n moontlikheid geskep het vir nog kliënte vir die ander dienste.
Dit was nie lank daarna nie toe ek hoor ek dat een van my kinders se maats se ma ’n lewendebloedanalis is en dat haar praktyk by Wolwespruit is. Ek besef toe dat ek nie weet van iemand wat dit doen in ons area nie. Aangesien die diens ook al die ander dienste komplementeer wat ons reeds verskaf, het ek toe my kantoor een maal per week gratis vir haar aangebied. Weereens was my doel om nog “voete” te trek vir al die dienste wat ons nie noodwendig sou gehad het nie.
En nou sit ons in byna 280 vierkante meter kantoorspasie met ’n totaal van 16 dienste onder een dak! Ek sal nie sê dat ek strategiese beplanning gedoen het of doen nie. Dit is nie werklik deel van my persoonlikheid nie, maar ek los die beplanning vir die Here en dan “doen” ek. Ek bou verhoudings met mense en doen dan graag besigheid saam. En ek sal eerder waag en verloor as wat ek nie waag nie.
Ek koppel my onderneming se innovasie (nuwe idees, benaderings en dienste) heel eerste aan my kliënte se behoeftes. Is die produk of diens van kwaliteit en is die persoon wat dit verskaf ’n kundige op haar gebied? Is die diens of produk billik, met ander woorde, is dit goed geprys en bekostigbaar? Is die produk of diens volhoubaar? En baie belangrik, is daar integriteit gekoppel aan elke diens, produk en persoon wat hier by ons ONEWellness Centre gebied word? Etiese standaarde en eerlikheid is baie belangrik, want so bou mens vennootskappe in die onderneming en vertroue word by elke kliënt ingeboesem.
Ek dink my grootste foute wat ek al gemaak het in die onderneming was finansieel van aard. Ek het nie grootgeword in ’n huishouding waar ons regtig geleer het hoe om met geld te werk nie. En omdat ek nog nooit in my lewe vir ’n vaste salaris gewerk het nie, lewe ek nog altyd volgens die inkomste van die week of maand. As dit ’n goeie maand was, het ons groot gegaan en in slegte maand het ons glad nie gegaan nie. Ek is nog steeds nie baie slim met finansies nie, maar ek probeer klein dingetjies toepas en stap vir stap beter te word.
Ek neem graag kanse en omdat ek maklik ’n kans sal neem, het ek al baie verloor in my lewe, veral finansieel. Maar ek glo, “If you want to walk on water, you have to get out of the boat.” Ek het egter oor die jare “rustiger” geword en besef dat ek meer berekende risiko’s moet neem. Ek het seker gemaak dat die huurinkomste van al die ondernemings aan wie ek onderverhuur ’n bietjie meer inbring as die totale huur wat ek aan my verhuurder moet betaal. Dus kan ek ’n surplus opbou vir die maand wat een van my huurders dalk laat of glad nie betaal nie.
Alhoewel ek nie werknemers onder my het nie, het ons wel ’n ontvangsdame en verskeie dienste, wat nie net een persoon nodig het om te voorsien nie. Ek verminder byvoorbeeld die risiko dat die ontvangs sal stilstaan sou ons ontvangsdame die dag af of weg is, deur ’n atmosfeer te skep en te onderhou tussen al die sake-eienaars in ons ONEWellness Centre waar ons mekaar behulpsaam is en op verskeie gebiede ondersteunend is. Almal hier by ons spring gewillig in om mekaar uit te help in tye wat dit nodig is.
Ek weet persoonlike gesondheid en welstand is belangrik, dus probeer ek na die beste van my vermoë die risiko vermy om dalk uit te brand deur na myself te kyk. Ek maak tyd vir my gesin, ek eet redelik gesond, oefen, praat met die Here, vra hulp as dit nodig is en vind rus en helderheid by my vriendinne.
Leierskap en span
Ek sou my leierskapstyl beskryf as ’n laissez faire-styl. Ek kies die mense met wie ek besigheid wil doen of mee saam wil werk. En ek kies die mense volgens my kernwaardes. Dus voel ek ek het nie regtig nodig om jou te lei nie, want ek weet jy is ’n kundige op jou gebied en ’n goeie mens. Ek lê die basiese fondasie wat eintlik algemene kennis is neer, bv. voorkoms, reuk, taal, gedrag, ens. Daarna laat ek die mense toe om op hul eie te werk en hul eie besluite te neem. Ek vertrou hulle met hulle eie ondernemings, sperdatums ens. Ek sal wel advies en ondersteuning gee indien dit nodig is. Ek sal voorstelle maak, maar nie voorskrywend wees nie.
Ek moet wel sê dat ek ietwat van ’n burokratiese styl ook in my het. Ek sal dus intree as ek sien iemand het leiding nodig of as hul nie gedissiplineerd, gemotiveerd of hul tyd effektief benut nie. Ek glo dat ’n ketting net so sterk is soos sy swakste skakel en dus moet ek inspring en help as die een skakel die ketting in gedrang kan bring.
Wat vir my belangrik is as ek ’n span bou, kom weer neer op my kernwaardes. Ek is ook baie bevoorreg in die sin dat ek werklik omring is met goeie mense en ek glo en vertrou dat die Here die regte mense altyd oor my pad bring.
Ek dink ek inspireer en motiveer die mense om my deur net myself te wees. Ek vra as ek nie weet nie, ek help as ek kan, ek kry hulp as ek nie kan help nie en ek deel maklik myself in elke opsig. Ek is nie “fake” nie en ek gee nie voor nie. Ek glo ek lei deur voorbeeld. Ek werk self hard en hanteer elke kliënt soos wat ek wil hê die ander mense die kliënte moet hanteer. Dan is ek ook ’n “cheerleader” van formaat! Ek gee baie maklik opregte komplimente en bemoediging. Ek glo in “give honour to whom honour is due”. Enige iemand wil erkenning hê en voel hulle word raakgesien en dit inspireer en motiveer mense.
Ek hanteer uitdagings sommer reguit en op die man af. Ek hou nie van draaitjies en kringetjies nie. Ek glo daaraan om die probleem te identifiseer, te evalueer en dan uit te sorteer so vinnig as moontlik met so min as moontlik skade aan enige iemand of produk.
Die toekoms
My langtermynvisie is om nog ONEWellness Centres op te rig regoor die land. Ek dink die idee wat ons hier het is fenomenaal. Deur nog sentrums op te rig, kry nog ander ondernemings die geleentheid om soos ons saam met ander ondernemings te werk en vir mekaar “voete” en besigheid te stuur.
Sosiale media en bemarking is belangrik en gratis, maar tegnologie is nie my sterkpunt nie en dus het ek mense wat my help daarmee. Verder werk ons hier fisies met mense en glo ons aan die persoonlike in persoon aandag wat so vinnig “oud modies” word. Maar dit is baie gerieflik en voordelig om tegnologie te gebruik om bv. via Zoom of WhatsApp-video-oproepe, ens. in verbinding te tree met ’n kliënt wat dalk ver is. So tegnologie is baie belangrik, maar ons eerste fokus is altyd om in persoon bymekaar te kom.
Ons bly relevant en mededingend in die vinnig veranderende mark omdat ons eerstens verhoudings bou met ons kliënte en hul vertroue het. Die beste advertensie bly steeds “by word of mouth”. Verder is elkeen in die ONEWellness Centre ’n kundige op hul gebied en in hul eie reg dinamies. So elkeen streef daarna om beter en beter te wees en die nodige kursusse by te woon, boeke te lees, ens. Omdat ek so lief is vir mense luister ek na mense se behoeftes en as ek dit kan voorsien, veral in besigheid, maak ek dit gebeur.
Behalwe om nog baie sentrums op te rig is my volgende doelwit om die ongebruikte leë spasie aan die agterkant van ons sentrum te omskep in ’n area wat nog inkomste genereer.
Persoonlike reis
Ek het geweet ek is ’n sterk persoon, maar my entrepreneursreis het my geleer dat ek baie sterker is as wat ek gedink het! Ek het geleer jy kan altyd opstaan en oor begin. Dis nie noodwendig lekker nie en soms is dit baie vernederend om te gefaal het, maar dis baie belonend om weer op jou voete te kom. Ek het ook geleer dat die gesegde “winners never quit” nie akkuraat is nie. Dit is eerder “winners know when to quit”. En dit sal ook my advies wees aan enige entrepreneur. Moenie te trots wees om te erken as iets nie werk nie. Laat gaan dit eerder voor dit jou heeltemal ten gronde bring en probeer weer.
Om jou persoonlike lewe en werk te balanseer is nie altyd maklik nie. Inteendeel, daar was ’n tyd in my lewe wat daar geen balans was nie. Maar iemand het eendag gesê, “ons werk nie in die ICU-eenheid nie, niemand gaan doodgaan as jy tyd vir jouself vat nie.” Dit en tyd het my geleer om werk by die werk te los en huis by die huis te doen. Ek is bevoorreg om vir myself te werk en dus skeduleer ek my afsprake rondom my kinders se aktiwiteite. Daar is wel seisoene wat vroeë oggende en laat aande verg, maar ek fokus daarop dat dit nie die standaard word nie. Ek deel ook my werk met my man en my kinders en hulle word deel van my werk. Soms vra ek hulle hulp en ander tye hul raad, en so glo ek voel hulle ook ingekoop by my onderneming en leer hulle ook by my en ons bymekaar.
Die impak wat ek op my gemeenskap is absoluut ’n positiewe een. Mense kom na my toe want hulle is oorgewig, ongelukkig met hulself en party verrig alledaagse take met moeite. Hulle kom na my toe oor hul “liggame”, maar ek glo dat ek die siel en die gees ook voed en versorg in die reis wat ek met hulle stap. Ek glo die mense is gelukkiger en meer selfversekerd oor hulself en dus dra dit ook oor aan die mense in hulle onmiddellike omgewing en vorm dit ’n positiewe rimpeleffek.
Slotsom
“Honesty is the best policy” is beslis van die beste raad wat ek nog ooit gekry het. Wees eerlik oor wie en wat jy is as mens, as onderneming, jou produkte en dienste ens. Mense sien as jy voorgee of oneerlik is, so wees net eerlik. Die ander raad wat ek ook al gekry het was, “Jy is nie die beste of slimste in alles nie, so vra kenners in hul gebied om te help of vir raad”. Ek vra dus graag en roep maklik om hulp.
Soos ek vroeër genoem het, was ek nie baie goed met finansies in die verlede nie. Dus sou ek die area anders wou gehad het as ek kon. Ek sou vroeër in my lewe begin oefen het om beter met geld te werk en meer kennis in die verband wou opdoen.
Ek sou graag wou hê mense moet my onderneming onthou as ’n plek waar hulle altyd welkom gevoel het. Waar hulle waarde vir hul geld gekry het. Waar hulle veilig gevoel het en gevoel het asof hulle regtig gehoor en gesien is en aan hul behoeftes voorsien is.
Ek hoop my nalatenskap sal een wees waarop my kinders trots sal wees. Dat hulle daarna sal streef om soos hul ma besigheid te doen, te werk en mens te wees.