|

entrepreneursfokus: Lena-mari josling

Ons het met Lena-Mari Josling gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit mekaar se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek dink die keerpunt het gespruit uit ’n diep bron van frustrasie en ’n hartsbegeerte om werklik te ervaar dat God ons voorsiener is.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Tydens my kraamverlof het ek by God se voete gesit en gebid vir ’n naam vir my onderneming. My doel met die onderneming is om die wêreld van werk positief te beïnvloed, sodat alle belanghebbendes daaruit kan oes.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het en hoe het jy dit oorkom?

Al het ek my onderneming reeds in 2018 geregistreer, het ek eers in 2020 voltyds begin bou. Toe het Covid-19 ook ingetree, wat dit nog moeiliker gemaak het om ’n onderneming van die grond af te kry. Ek moes vinnig aanpas en tegnologie bemeester om my dienste aanlyn te kan aanbied – ’n uitdaging op sigself.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

God is so getrou, ja! Ek het ’n droom gehad waarin ek geboorte gee aan ’n seun. Ek het dit as ’n profetiese teken gesien en geweet dat God die sukses van Katzar dryf – ek is net die rentmeester.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Katzar het die afgelope ses jaar werksomgewings geoptimaliseer, werknemerservaringe verbeter en vervullende werk gelewer.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Ons kies nie kant tussen werkgewer en werknemer nie, veral nie oor finansiële gewin nie. In plaas daarvan, soek ons ’n middelweg waar al die belanghebbendes kan baat vind.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Ek begin dikwels met werwingsdienste wat dan na menslikehulpbrondienste uitbrei. Namate vertroue opgebou word, brei ek uit na spesialis- of strategiese dienste. Ek sluit ook aan by groter konsultasiehuise wat oorvloei werk het. Ons dienslewering berus werklik op verwysings en aanbevelings wat van persoon na persoon oorgedra is.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

  • Ek doen dikwels werk namens ander konsultasiehuise in plaas daarvan om onder my eie naam te werk. Ek raak dikwels bekommerd oor die pyplyn en neem die eerste aanbod wat gemaak word. Ek moet waarskynlik meer vertrou op my eie vermoëns en benaderings.
  • Dit is moeilik om ’n grootskaalse diens aan te bied omdat mense veral koop wat jy persoonlik bied. Ek oorweeg om te kyk na dienste wat nie gebaseer is op my ure nie, soos annuïteitsinkomste.
  • Ek weet nie heeltemal hoe om my intellektuele eiendom te beskerm nie. Aangesien dit my “produk” is, wil ek graag die risiko’s beter bestuur.
  • Ek ervaar onsekerheid oor nuwe aanstellings. Dit is moeilik om die keerpunt te bepaal, aangesien ek dikwels eerder uitbrand as om nuwe mense aan te stel.
  • Ek het nog nooit werklik in bemarking belê nie en glo daar is groot potensiaal in hierdie area.
  • Ek het ook die behoefte om te bepaal hoe om beleggers te lok vir nuwe idees of konsepte. Moet ek die idee onder my huidige naam ontwikkel of nuwe ondernemings skep?

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Aanvanklik moes ek my pensioenfonds gebruik om die onderneming te begin, wat ’n moeilike stap was. Ek het oorgeskakel van ’n korporatiewe salaris na geen salaris vir byna ses maande wat gevoel het soos ’n paar stappe terug voordat ek vorentoe kon beweeg. Nou is ek geregistreer vir maatskappybelasting, het een permanente werknemer, een aanbod uitgestuur, en werk saam met twee vryskutkonsultante. Ons LinkedIn-volgers het onlangs 1 000 oorskry. Hoewel ek tans ’n mate van stagnasie ervaar, het my gedagtes sedert ek vir die kompetisie ingeskryf het in verskeie rigtings begin hardloop. Ek ondersoek ’n nuwe konsep wat ek moontlik voor 2025 wil uitrol, en besef dat ek meer mense moet aanstel om gereed te wees vir die werk wat voorlê.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Almal moet voordeel kan trek. Sedert ek ingeskryf het vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, kom daar voortdurend nuwe idees by my op. Dit is vir my belangrik dat hierdie idees finansieel haalbaar is, sonder om kliënte uit te buit. Etiese optrede is vir my ook van die grootste belang; daarom fokus ek daarop om waarde toe te voeg en my onderneming se reputasie te beskerm.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Aanvanklik het ek soms werk verniet gedoen, wat ’n groot fout was – mense het nie regtig verbind tot die diens of aksies nie. Later het ek te min gevra vir die dienste wat ek gelewer het, asof ek die waarde van my diens gekoppel het aan my eie selfbeeld. Meer onlangs het ek besef dat my verskaffers verskillende pryse hef vir internasionale kliënte, wat my winsgewendheid negatief beïnvloed het.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Ek besef ek het risiko’s maar dit is nie noodwendig elke dag op my prioriteitslys nie.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek is redelik direk en adviseer my werknemers – dit is belangrik dat my werknemers tot eie insig sal kom en gemagtig voel om hul eie besluite te neem.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Sielkundige veiligheid – dit word deur sterk vertroue en egtheid uitgebou.  

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ek spandeer gehaltetyd saam met my werknemers, gee gereeld terugvoer asook erkenning.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Ek probeer werklik myself in daardie persoon se skoene sit sodat ons die konflik kan ontlont.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Ek wil graag 100 werknemers in diens neem. Ek beplan ook om nooit al my eiers in een mandjie te sit nie, maar eerder verskeie ondernemings te besit wat my kompleksiteit sal stimuleer.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Een van ons hoofdienste is nou verbonde aan digitale transformasies. Ons fokus daarop om die gaping tussen mense se gedrag en tegnologie te verklein.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

In konsultasie moet jy bereid wees om soms vir die kliënt te sê wat hy nie noodwendig wil hoor nie. Ek werk hard aan ons geloofwaardigheid en streef daarna om altyd een stap vooruit te wees.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Ek het ’n nuwe konsep wat ek wil loods en sal dit waarskynlik, indien ek vorder na die finale rondte, met die paneel wil deel.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Nie in my eie krag nie, maar in stappe van gehoorsaamheid.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Dit is regtig een van my grootste uitdagings, aangesien ek streef na uitnemendheid in alles wat ek doen. Ek moet my gedagtes beter fokus sodat ek werklik teenwoordig kan wees tydens familietyd.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Jy is nie te jonk om te begin nie – hoe vroeër, hoe beter!

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Beslis werkskepping, en vir mense wat nie entrepreneurs is nie, ’n werksplek wat vervullend is!

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Leer om te rus, en nie moed op te gee nie.

As jy enige deel van jou reis kon oor doen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek sou waarskynlik direk na universiteit my eie onderneming wou begin het, maar mens glo nie altyd in jouself nie en daardie jare was dit mode om vir ’n groot korporatiewe firma te werk – nie meer so glansryk nie!

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Katzar, en Lena-Mari sal jou of jou organisasie in ’n beter toestand los as wat ons jou of jou organisasie gekry het.