|

entrepreneursfokus: mara le roux

Ons het met Mara le Roux van Klipheuwel Farm Venue gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

My dogter het in 2017 getrou. Na ’n eindelose gesoek na die regte venue (grootte, prys en ligging), het ek besluit ’n ongebruikte pakstoor op die plaas, Klipheuwel in die Hexriviervallei, sou kon werk. Op daardie stadium was dit ’n regte “pakstoor”. Alles wat nie gebruik is nie, is daarin gestoor.

My dogter is hartstogtelik lief vir die plaas en ek het besef dat dit net gepas sou wees dat sy haar “mooiste” dag ook op die plaas kon vier.

Ons eerste groot struikelblok was om die skoonfamilie te oortuig dat ons betyds klaar sal wees! Die tweede groot struikelblok was om die stoor leeg te kry. Jare se gemors en verwaarlosing het veroorsaak dat daar veel meer as ’n laag verf nodig was. Omdat daar nie die nodige fondse was nie, het ons self ingespring en baie hard gewerk. Ons het net vyf maande gehad om die venue nommerpas te maak. Vragte papier ensovoorts is weggery en het bygedra tot die befondsing.

Ná die troue, in Oktober 2018, het die hubaarste vrygesel in die omgewing by AltydLIG, Klipheuwel getrou. Dit was ’n aha-oomblik toe ek besef dat daar ander mense is vir wie dit ook mooi en goed was. Met hierdie geleentheid, is die plaashekke vir die eerste keer oopgemaak vir die publiek en het agritoerisme op Klipheuwel Farm begin.

Hierna het ek ou perdestalle in twee selfsorgkothuise omskep (2019), die ou plaashuis is in 2020 en 2021 in twee selfsorgeenhede verander en die ganskamp het ’n kampeerterrein met ’n pragtige ablusieblok geword (2019). Tydens die Covid 19-inperking, het ek letterlik na die berge gevlug en begin om wandelpaaie in die berg te bou en so is die Hex Trails gebore. Daar is verskeie wandelpaaie met verskillende afstande en moeilikheidsgrade.

Die onderneming self

By Klipheuwel Farm Venue, bedryf ek ’n venue en selfsorgverblyf waar jy die rustigheid, vrede en hartlikheid van ’n plaas kan beleef en ondervind. Die wandelpaaie in die berg (mountain trails) word deur mense gestap of gehardloop en daar is elke Dinsdag- en Donderdagaand ’n gratis stap/draf sodat almal wat wil, die mooi en rustigheid kan beleef.

Die mooi van die Hexriviervallei is nog nie ontdek nie. Die waarde van Klipheuwel Farm Venue lê in die diversiteit. Alhoewel die Hexrivier nog nie ’n toerismebestemming is nie, wil ek dit deur middel van al die bedrywighede verander en maak dat mense hier stop en die natuur en rustigheid geniet in ’n area wat meer bekend is vir sy verbouing van tafeldruiwe as toerisme. Klipheuwel Farm Venue bied verblyf- en onthaalopsies, kampering, verskeie stap-/drafroetes in die berge asook die geleentheid om gedurende die oesmaande, druiwe te pluk, uit te knip en self in houers te pak. Mense word tydens die geleentheid ook ingelig oor die uitdagings van die verbouing van tafeldruiwe.

Deur op verskeie platforms en onder al die ondernemings se verskillende afdelings te adverteer, bereik ons ’n groter kliëntebasis as wanneer ons net as AltydLIG, Klipheuwel sou adverteer. Ons hou ook een maal per kwartaal ’n markdag waar ’n roete op die plaas gestap of gedraf word.

Die grootste uitdaging waarmee ons op die oomblik sukkel, is dat ’n provinsiale brug wat toegang tot Klipheuwel bied, weggespoel het en nog nie weer herstel is nie. Dit veroorsaak dat niemand daar kan kom nie, ook nie om landbougrond te bewerk nie.

Waar ons aanvanklik net die venue gehad het, het ons besef dat ons weens ons ligging, ook verblyf aan gaste moet verskaf. Vier ou perdestalle is omskep in twee klein kothuise. Byna ’n jaar later het ek begin om die ou plaashuis te omskep in selfsorgverblyf. Ek het gewerk met wat ek het. Dit was baie moeilik om met ’n klein begroting die beste van dit te maak. Die versoeking was groot om ’n lening aan te gaan. Ek het besluit om te werk met wat ek het, een van my beginsels.

In 2020 en 2021 het ek wandelpaaie begin maak in ons pragtige berge.

Innovasie vs. kernwaardes

Daar is verskeie kernwaardes wat vir my ononderhandelbaar is.

  • Familie
  • Eerlikheid
  • Vriendelikheid
  • Vreugde
  • Gasvryheid
  • Nederigheid
  • Goedhartigheid

As ek besef ek kort een van dié, begin ek van voor af en kyk wat ek verkeerd doen. Nooit voorspoed ten koste van iemand anders nie. Gelukkig hou my man en kinders my ook verantwoordbaar.

Van my grootste foute wat ek al gemaak het, was om ander met my sake-idees te vertrou. Dit het my duur te staan gekom. Ek vergeet ook maklik waar ek begin het en sien dan nie my groei raak nie.

Dit is nie altyd maklik om risiko te herken nie. Dit hang ook af wat met risiko bedoel word. Ek het ’n gesegde wat ek graag gebruik: Dis makliker om in jou motor se truspieëltjie te kyk, as deur jou motor se voorruit wat heel moontlik vuil is. In Engels: “Hind sight is cheap”. ’n Mens werk met feite wat jy tans het en maak daarvolgens besluite.

Ek probeer om altyd finansieel ’n neseier te hê en gebruik my man en kinders as klankbord. Tans is daar baie herstelwerk wat gedoen moet word asook verbeteringe. Kan die een wag ten koste van die ander? Ek glo nie. In ’n baie mededingende beroep, kan jy dit nie bekostig nie.

Leierskap

Ek luister graag na nuwe idees en sal dit selfs probeer. Ek hou daarvan om mense te leer en seker te maak hulle verstaan wat moet gebeur. Dit is nie altyd maklik om met mense te werk nie. Baie geduld en ’n goeie humorsin is nodig.

Wanneer ek ’n span bou, is dit vir my belangrik dat almal gelukkig is en verstaan waaroor dit gaan. Verskille/probleme kan altyd uitgepraat word.

Inspirasie en motivering kan soms uitdagend wees. Deur erkenning aan mense te gee, beteken soms meer as ’n finansiële verhoging.

Uitdagings word aan almal gekommunikeer. As span moet ons bewus wees van uitdagings sowel as oorwinnings.

Die toekoms

Ek wil die onderneming sodanig uitbou dat dit ’n bestemming word en een van my kinders dit kan bedryf.

As boervrou, word ek wel deur die plaas en plaasbedrywighede beïnvloed. Ons werk met ’n groot span mense op die plaas. Ek is bewus daarvan dat masjienerie en tegnologie my lewe baie makliker kan maak, maar dit kan ook lei tot werkverliese. In ’n land soos Suid-Afrika, moet jy sensitief hieroor wees. As dit egter gaan oor die inspan van tegnologie vir bemarking, is ek voor in die koor. Op 60 is ek besig om te leer hoe om myself te bemark deur ’n kursus te volg by Magriet Groenewald van magriet.co. Ek het reeds so baie geleer, maar is daagliks bewus van hoeveel daar nog te leer is.

Mededingendheid is een van die grootste uitdagings in die troubedryf. Om in ’n sekere rigting te bly voortbeur mag nie die moeite werd wees nie, maar soms is volharding net nodig. Doen dan bestekopname en besluit of deursettingsvermoë of ’n verandering in rigting nodig is. Ek sou graag ons staproetes sodanig wil uitbrei dat dit oor ’n aantal dae gestap kan word en die verblyf dan ook beter benut word.

Nuwe giere moet dopgehou word. As dit lewensvatbaar is, maak ek dit graag deel van ons bv. die twee warmwaterbaddens (hot tubs) wat ek in 2022 aangekoop het.

My grootste doelwit is om die Hexriviervallei in so ’n mate blootstelling te gee, dat dit ’n toeristebestemming word. Op persoonlike vlak wil ek ’n kenner word op my gebied. Iemand wat met gesag ’n ander opkomende entrepreneur kan help en raad gee.

Die belangrikste wat ek in myself ontdek het, is dat ek gegroei en wel ontwikkel het. Iemand wat vir my gestem het in die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, het dit so opgesom: “Ek stem graag vir jou, want ek weet waar jy begin het en het die groei in jou en jou onderneming beleef”. Ek besef egter ek het nog baie om te leer. Gelukkig is ’n mens nooit te oud daarvoor nie.

Dit is nie altyd maklik om jou persoonlike lewe van jou werk te skei nie. Wanneer jy self jou inkomste moet genereer, raak jou werk gou jou lewe. Ek skakel egter maklik my selfoon af vir ’n wegbreek. My geestesgesondheid is ononderhandelbaar. My rus en vrede gaan soek ek wanneer ek stiltetyd hou. Ek ken die Een wat al my laste op Hom sal neem.

Vir aspirantentrepreneurs sal ek sê glo heel eerste in jouself. Dis belangrik om mense om jou te hê wat in jou glo. Sluit aan by iemand soos Magriet Groenewald. Die “familie” wat jy daar maak is meestal in dieselfde bootjie as jy en is geduldig met jou al leer jy stadig.

Ek hoop werklik dat die Hexriviervallei as toeristebestemming sal groei en dat mense hul batterye hier sal kan kom herlaai. Die vallei het so baie om te bied.

Slotsom

My skoonpa se leuse was: “Wie die kleine nie ag, kan die grote nie verwag”. Ek is tevrede met klein oorwinnings en al groei ek stadig, groei ek. Dit is altyd moeilik om finansiële keuses te maak. Leen jy geld om alles op een slag te verbeter? Of doen jy dit soos wat jou onderneming groei en jy het nie skuld nie? Boerdery het my geleer dat dit nie altyd goed gaan nie. Natuurlik het die jare op ’n plaas my denke beïnvloed, want ek is ook afhanklik van die natuur en seisoene.

As ek weer kon begin, sou ek vroeër ’n bemarking-en-beplanningskursus, asook ’n sosialemediakursus gedoen het.

Mense moet my onthou vir my liefde vir my familie, my liefde vir mense en die plaaslewe en hoe ek gepoog het om die Hexriviervallei te bemark. De Doorns en gevolglik die Hexriviervallei, is meer bekend vir al die negatiewe wat hier gebeur, as vir al die wonderlike opheffingswerk, pragtige natuur, majestueuse berge en grootste tafeldruiwe-area. Ek wil hê die Hexvallei moet ’n toerismebestemming word.