|

Entrepreneursfokus: Marezelda combrinck

Ons het met Marezelda Combrinck van Wikkelvingers, gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

My passie vir opvoeding, stimulasie en kinderontwikkeling het die idee by my laat posvat.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Ek weet kindertjies (en mammas) vat altyd so baie goed saam wanneer daar gereis word met die vliegtuig of kar, en mens wonder altyd het jy genoeg goedjies om jou baba/kleuter mee besig te hou en dan twyfel jy ook nog of jy nie die TV/tablet te veel aansit tydens die reis nie. En dis hoe ek my idee gekry het om stimulasie oral saam te neem.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Ek dink nie ek het werklik struikelblokke ervaar nie.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Ja, die oomblik toe ek terugvoer van mammas kry wat wys of sê dat hulle kindertjies dit so baie geniet en dat die doel wat ek voor oë gehad het met my emmertjies, werklikheid word.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat daarvan nog nie gehoor het nie?

Ek sou heel eerste gesels oor wat my laat “tick” … kinderontwikkeling! En dan verduidelik en sê dit is waarom ek hierdie unieke saamry- opvoedkundige emmers asook die Wikkel-Jolyt-Saamry-Bord begin ontwerp het. ’n Alles-in-een emmer om kleine vingertjies enige plek mee besig te hou. Die Wikkel-Jolyt-Saamry-Bord is die perfekte grootte om in die motor of vliegtuig op die skoot te pas.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Die feit dat dit heeltemal uniek is en die perfekte grootte en funksionele aktiwiteite het, sodat dit letterlik oral saamgeneem kan word.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Ek plaas baie “reviews” wat ek by mammas kry op my sosiale media, ek gaan plaas hulle stories weer, ek gesels persoonlik met my kliënte op WhatsApp en sal gereeld kommentaar lewer op ons maatjies se vordering. Ek glo ek bou ’n lojale kliëntebasis omrede die mammas terugkeer en weer emmers aankoop.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Ek het nie regtig baie uitdagings nie, alles loop mooi en na wense. As daar ietsie is, is dit dat ek agterkom dat talle ondernemings my posplasings, woorde en invalshoek van reis met opvoedkundige speelgoed gebruik en so hulle produk probeer verkoop. Dit laat my verslae en moedeloos voel.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

’n Groot strategiese besluit vir my was toe ek my emmers tweetalig gemaak het. Ek wou graag eksklusief Afrikaans wees, maar het besef om meer handjies en breine slim te maak, ek die Engelse weergawe ook moet skryf.

Ek skryf gereeld nuwe emmerprogramme en het so drie maande gelede met The Nanny Movement saamgewerk om Nanny-emmers aan die kinderoppassers wat hulle werkwinkels voltooi het, te bied. So, ek het uitgebrei deur Nanny-emmers te skryf. En dan doen ek jaarliks “collabs” met ondernemings soos Pienkvoet-Pret en Brave Little Baby. Ek skryf gereeld nuwe programme vir sekere geleenthede. En dan doen ek ook vele markte. Die markte bied baie geleentheid om te sorg dat my emmers in soveel meer hande kan wees.

Ek het ook die Wikkel-Jolyt-Saamry-Bord ontwerp, wat ’n “busyboard” is, maar die perfekte mate het sodat dit op die kleintjie se skoot in die motor of vliegtuig pas.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Ek bly getrou aan myself en hou aan doen waarin ek glo. Ek probeer om nie te veel aan die kompetisie rondom my te dink nie.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Ek sou graag my webtuiste in Engels ook wou hê, maar omdat ek aan die begin slegs Afrikaans geskryf het, is dit nou net in Afrikaans met Engelse aftreklyste.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

My bederfbare produkte in my emmers berei ek eers voor sodra daardie tipe emmer bestel is.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Sag maar ferm en weet wat ek wil hê.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Dat ek respek afdwing op ’n vreedsame manier.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ek het geen werknemers nie, maar my man help my met allerhande handewerk wat gebou moet word, ens. Ons ken mekaar bitter goed en hy weet wat is wanneer vir my belangrik.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Soos ek genoem het, my man weet wat ek wanneer met watter emmer of bord wil hê en daarom is daar nie moeilike uitdagings vir my nie.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Ek sal so graag wil hê dat Wikkelvingers se naam die eerste naam is wat sal opkom wanneer mammas gesels en vra waar kry ek opvoedkundige speelgoed vir die langpad of vir my kinderoppasser.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Tegnologie sal altyd deel wees van my onderneming, omrede ek dit nodig het om my produkte by mammas se voordeure te kry asook om my produk te adverteer.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Ek sorg altyd dat ek vorendag kom met ’n nuwe idee waaraan niemand anders nog gedink het nie.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Ek sal graag ’n Hospitaal-emmer aan hospitale/mediese fondse wil voorlê wat dan tydens opname aan elke baba/kleuter gegee word en dit sy/haar eiendom bly, wat dan die oordra van kieme beperk. En stimulasie vind ook plaas in daardie omgewing.

Ek sal graag ook aan ouetehuise ’n emmer wil verskaf wat daardie vingers kan stimuleer, asook die kognitiewe denke. Ek dink nog aan ’n strategie om dit uit te voer.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Oe … deursettingsvermoë, innovasie en aanhou en aanhou en aanhou!

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Wanneer ek in die oggend begin werk, sal ek werk totdat my kinders by die huis kom in die middae, gewoonlik so 16:00, en dan is my aandag by my persoonlike lewe. Gelukkig steun my hele gesin my onderneming en help oral en gaan saam na markte en gee raad en moedig my daagliks aan.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Moenie dink dat jou idee klein of nietig is nie, glo in jouself, hê die regte ondersteuningstruktuur en die meeste van alles, GLO in jou eie produk.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Dat ek werklik ’n inspirasie sal wees met wat ek met my produk bied. Ek wens ek kan elke glimlag sien wanneer my produk oopgemaak of gebruik word.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Om aan te hou glo in wat ek doen, en nie bang te wees nie.

As jy enige deel van jou reis kon oor doen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek dink nie ek sal enigiets anders doen nie.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

As mense aan my en my onderneming dink, moet die eerste woord waaraan hulle dink WOW WOW WOW wees …