|

entrepreneursfokus: Martie truter

Ons het met Martie Truter van HelloWoman gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek het van kleins af ’n groot liefde vir mense en wil almal altyd help. Dit spruit hoogs waarskynlik uit my kinderdae; my moeder was die skriba by die kerk en ek het tussen al die lidmate grootgeword. My ma het altyd haar onverdeelde aandag en liefde aan almal gegee, selfs op haar besigste tye, en die hele gemeenskap is tot vandag toe baie lief vir haar! Die impak van haar belegging in ander is blywend.

Met die opbou, ontwikkeling en bemagtiging van mense in gedagte het ek menslike hulpbronne as loopbaanrigting gekies. Tydens my honneursjaar het ek in die ingenieursbedryf begin werk. Ek het vinnig van menslikehulpbronassistent tot -bestuurder gevorder en mettertyd tot algemene bestuurder. Alle maatskappye, maar veral raadgewende ingenieurs, het baie swaar gekry in die politiese en ekonomiese omstandighede. Ek moes dag in en dag uit nee sê vir opleiding, bevordering, bonusse, en alle geleenthede om te groei. Afleggings en herstrukturering het die norm geword. Dit was ’n baie moeilike tyd in my lewe.

Op ’n dag het ek wakker geword en besef dit kan nie wees waar die Here my wil hê nie. My siel voel dood en ek wil nie gaan werk nie. Om konstant die draer van slegte nuus te wees, het soos ‘n donker wolk oor my gehang. Ek het begin soek na dinge wat my aandag kan aftrek en op ’n advertensie vir ’n grimeerkursus afgekom. Ter selfverryking het ek ingeskryf daarvoor, en dit het my lewe verander!

Na my eerste klas het ek weer besef hoe opgewonde die kreatiwiteit en skepping van iets moois my maak. Binne ’n maand nadat ek die kursus voltooi het, was my eerste groot produksie bespreek. Dit was vreesaanjaend, want met so min ondervinding weet jy eintlik nog nie weet wat jy doen nie. In dieselfde tyd het ’n personeelagentskap my genader vir ’n pos as menslikehulpbronkonsultant waar ek self my werksure kon vasstel. Ek het die aanbod aanvaar, en ’n werksweek met 20 uur fleksietyd het my in staat gestel om baie tyd en energie in my HelloWoman-handelsnaam te belê.

Bruidsgids, die grootste bruidstydskrif in ons land, het my ’n paar maande later gekontak met ‘n aanbod om die opkomende Bruidsgids-voorbladmodel se grimering te doen. Ek het die geleentheid al bewend met beide arms aangegryp. Die voorblad het vir my as kunstenaar veel meer geloofwaardigheid gewen as wat ek verwag het en my onderneming het begin om ’n bekende en vertroude naam in die troubedryf te word – ’n geskenk reg uit die Here se hand! Ek is gevra om demonstrasies op die verhoog te doen en artikels te skryf, en ek het ook by verskeie ander geleenthede betrokke geraak.

Presies ’n jaar later het ek besef my “kantlynonderneming” kan ’n groot deel van my maandelikse finansiële verpligtinge dek. Ek het die geloofsprong geneem, my huis verkoop en uit die korporatiewe wêreld getree. Dit was ’n tyd van oorgee, vertrou, afskaal en groot droom!

Toe raak die stadiger pas vir my ’n uitdaging. Ek het my kliënte se behoefte aan selfsorg en fynere skoonheidsversorging raakgesien en my gastekamer in ’n salon omskep. Ek het kursusse in velsorg, estetiese behandelinge, en ooghaarverlenging begin bywoon. Vinnig het hierdie bykomende dienste my dae en weke gevul.

Die HelloWoman-handelsnaam is toegewy aan hoë gehalte en dienste uit ’n spaarkamer het nie heeltemal daarby ingepas nie. Dit is hoe die konsep van ’n skoonheidsalon op ’n besigheidsperseel begin posvat het.

Ek het eendag in Olympusrylaan, Faerie Glen gery en die Here het die idee in my hart geplant dat ek ’n salon in hierdie straat moet oopmaak. Daar was ’n gebou met die mooiste, groot oopswaai-glasdeur omring met groen plante wat altyd my aandag getrek het. ‘n Kort rukkie daarna sien ek toe die einste gebou is te huur. Ek het die eienaar gekontak, en op 1 April 2021 het ek my eerste HelloWoman-salon met drie personeellede oopgemaak – op die perseel met die groot glasdeur en groenigheid alom. Soveel genade, soveel seën!

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Ek het in my wildste drome nooit gedink dat ek in die skoonheidswêreld sou beland nie. Waar ek begin het en waar my onderneming vandag is, is wêrelde uitmekaar.

’n Proses van subtiele idees en drome wat die Here in my hart geplant het, het my gebring waar ek vandag is. Hy het geleenthede oor my pad gebring en my geseën met die gawe om dit raak te sien. Met elke tree wat ek in die regte rigting gegee het, het die Here blokkie vir blokkie die groter plan aan my geopenbaar. En Hy doen dit steeds elke dag. My onderneming is werklik vir my ’n geloofsaak. Ek sê graag vir mense dat dit die Here se onderneming is en dat ek met ’n rustigheid in my hart vasklou aan die wete dat Hy vir my groot planne het.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het en hoe het jy dit oorkom?

My grootste struikelblok was van die begin af om kwaliteitpersoneel te bekom, vroue wat dieselfde werksetiek, werkstrots, pligsbesef en liefde vir ander het as ek. Ek het in die eerste twee jaar ’n ongesonde personeelomset gehad en dit was elke keer vir die onderneming ’n groot terugslag.

Ek het dit op ’n stadium ernstig oorweeg om tou op te gooi, want ek het besef my personeel se swak dienslewering gaan my handelsnaam blywende skade in die gemeenskap aandoen. Op ’n dag het ’n kliënt onwetend vir my nuwe hoop gebring. Sy het gesê om personeel aan te stel, is net soos om ’n lewensmaat te soek. Jy trou mos nie sommer net met die eerste persoon met wie jy uitgaan nie. Huweliksmaats moet bymekaar pas, en so is dit ook in die werksomgewing. Dit het my hoop gegee om aan te hou om personeel te roteer tot ek geskikte pasmaats gevind het.

Vandag is ek ongelooflik dankbaar om ’n groep dinamiese, besonder talentvolle vroue met ’n hart vir ander as deel van my onderneming te hê. Hulle pas so perfek soos ’n handskoen.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Omdat ek glo dat my persoonlike beroepsreis en my onderneming absoluut binne die Here se groter plan val en dat dit elke dag ’n konstante is, was ek nog altyd seker dat dinge sal groei en uitwerk. Waarskynlik sal dit nie lyk soos ek in die begin gedroom het nie, maar dit sal wees soos dit moet, en baie groter as wat ek ooit sou kon hoop.

Die onderneming self

Hoe sal jy jou onderneming beskryf vir iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

HelloWoman is ’n luukse skoonheids- en estetiese kliniek waar ons ’n volledige spektrum skoonheidsdienste aanbied. Dit strek van basiese dienste soos masserings en wenkbrouvorming tot gevorderde mediese prosedures soos Botox en vullers.

Ons is ’n dinamiese groep spesialiste in ons veld, en ons bied ’n topklaservaring wat begin, die oomblik as die voordeur oopgaan. Ons alomvattende dienste is resultaatgedrewe en sluit die nuutste tendense op die mark in. Ons bied ook vir ons kliënte ’n tuiste met heerlike cappuccino’s waarheen hulle kan kom net soos hulle is om te kom asemskep en om krag en hoop te vind vir môre.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Ek het vroeg in my lewe geleer om my pad nie met ander s’n te vergelyk nie. Dit is goed om te weet waarmee mededingers besig is, maar ons elkeen se pad lyk anders. Daar is genoeg son om oor elkeen van ons te skyn!

In die straat waar my kliniek geleë is, is daar nege ander salonne. Ek sê wel gereeld vir my personeel: ‟Ons het die keuse om te kompeteer met prys en handelsnaam. Wanneer ons met pryse meeding, het ons rede om bang te wees. Maar wanneer ons die beste doen wat ons kan, ons vaardighede bly ontwikkel om te verseker dat ons die beste is in wat ons doen, en ons seker maak dat ons vir die breë spektrum kliënt ’n werklike ervaring bied en bly bied, kompeteer ons met ons handelsnaam. En ek glo dit is wat my onderneming van ander onderskei. ’n Handelsnaam is ’n gevoel. En dit, glo ek, is ons troefkaart.”

Hoe trek jy kliënte en bou ’n lojale kliëntebasis?

As grondwerk was dit vir my belangrik om my handelsnaam se identiteit vas te stel. Ek het ’n sosialemediabemarkingspan wat seker maak die beeld wat uitgaan is tot op die fynste skrif en kleur eie aan die HelloWoman-identiteit sodat kliënte en toekomstige kliënte dit kan leer ken en herken.

Die kliniek het in die begin baie staatgemaak op die grimeerafdeling en baat natuurlik steeds daarby. Ons bemark baie strategies aan bruide, onder andere velvoorbereidingspakkette. Ons assosieer met groot name soos Bruidsgids waar ons weeklikse bemarkingsgeleenthede het. Ons stal ook tweejaarliks by Bruidsgids se groot Bruidskou uit waar ons bemarking gerig is op kliëntewerwing – met besonderse suksesmarges.

Een van my grootste kliënte is RichCon, die produksiemaatskappy van televisieproduksies soos Dr. Nou en Vat jou goed en trek!. Om verhoudings soos hierdie gesond te hou, is prioriteit.

Ons lewe in die era van sosiale media. Dit is dus van kardinale belang om ’n gesonde teenwoordigheid op sosiale platforms te behou.

Ons het gereeld promosies. Ons vier spesiale dae soos Vrouedag en Moedersdag en stuur groepboodskappe uit na ons kliënte.

Verder stuur ons vir elke kliënt ’n verjaarsdaggeskenkbewys en maak ’n punt daarvan om mylpale saam met ons kliënte te vier.

Een van die beste keuses wat ek gemaak het, was om my onderneming ’n “hub” te maak vir ander ondernemings wat met myne ineenvleg. Ons funksioneer onder die vaandel van HelloWoman en werk as een saam. So verkry ons toegang tot mekaar se kliënte. Ons het dus op enige gegewe tyd die kliëntebasis van minstens drie ondernemings tot ons beskikking. Saam reël ons promosies en kompetisies om mekaar te ondersteun en te help groei.

En dan natuurlik ligging, ligging, ligging. Ons perseel is baie goed geleë. Ek het seker gemaak die naamborde buite is opvallend en ons kry weekliks instapkliënte.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

My grootste uitdaging is tydsbestuur. Ek vermoed die meeste entrepreneurs is in dieselfde bootjie!

Omdat ’n mens soveel rolle moet en wil vervul, kan dit soms uitdagend word. Ek hou van roetine en gewoonte en verloor myself soms in die warboel van alles. Om die baadjie van diensleweraar, personeelbestuurder, finansiële bestuurder, bemarker, strateeg, aankoper, skoonmaker en nog vele meer aan te trek, kan soms rof raak! Omdat die onderneming my “babatjie” is en ek tog maar alleenkindeienskappe het, is ek geneig om sekere take self te wil verrig eerder as om te delegeer en te vertrou. Dit is ’n konstante leerskool vir my.

Groeiproses

Watter strategiese besluite het jy geneem om te verseker dat jou onderneming mettertyd groei?

Daar is ’n studie wat bewys dat spesifiek Suid-Afrikaners besigheid doen op grond van persoonlike verwysings. Facebook-groepe soos “Eks van die Ooste” bewys dit gereeld. Iemand sal vra: “Ek is op soek na ’n loodgieter. Enige aanbevelings?”, en op die aanbeveling van totale vreemdelinge sal hulle ’n verskaffer kies. ’n Mens kan daaroor giggel of jy kan ’n geleentheid daarin sien. Dit is waarom die identiteit en bekendheid van jou handelsnaam so belangrik is. Coca-Cola is ’n goeie voorbeeld. ’n Mens kan baie aspekte van die logo wegneem en die meeste mense sal dit steeds kan identifiseer. Ek het nog altyd baie sterk daarop gefokus. My primêre strategie was om my handelsnaam so bekend te maak dat dit die eerste naam is wat in mense se gedagtes opduik. En jy doen dit deur konsekwentheid en repetisie. Repetisie kweek bekendheid. Bekendheid is die opsie van keuse.

Deel van die verwysingskonsep, en ook die een met die grootste suksesmarge, is binnekringverwysings. Jy diens een kliënt en sy gaan deel haar ervaring met vyf vriendinne. As haar ervaring goor was, verloor jy die kliënt en waarskynlik al vyf haar vriendinne. Maar as haar ervaring uitstekend was, is daar ’n baie groot waarskynlikheid dat minstens twee van haar vriendinne kliënte sal word. Die strategie van ervaring is dus vir my van kardinale belang en my motto was van dag een af: Ons verkoop ’n ervaring. Ek kan met dankbaarheid getuig dat die verwysingsproses ’n noemenswaardige bydrae maak tot ons deurlopende groei.

Dit was baie moeilik om die strategiese besluit te neem om my sakemodel oop te maak sodat ander ondernemings kan deel vorm van HelloWoman Hub. Omdat dit nie ’n algemene verskynsel in die bedryf is nie, het die meeste mense gesê dit is riskant en dat ek my groei gaan beperk. Vir my was my onderneming se beeld en die verskil wat ons maak egter belangriker. Die tendens is dat die bestes in sekere aspekte van die skoonheidsbedryf vir hulself werk, onder andere spesifiek naeltegnikusse. My sakemodel vereis dat ek myself moet omring met die beste spesialiste in die veld, dus was dit op die ou end ’n eenvoudige keuse. Dit was een van my beste strategiese besluite tot dusver.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Ek probeer om te alle tye ingelig te wees oor opkomende tendense sodat ek kan evalueer of dit iets is wat ek in my onderneming wil inbring al dan nie. Mens wil een van die eerste wees wat nuwe tendense implementeer.

Ek het besonderse toerusting in my kliniek. Alle toerusting word goed nagevors, en ek maak seker dit is deur die gesondheidsraad goedgekeur.

Die skoonheidsbedryf is ongelukkig baie oppervlakkig. Om oud te word, is taboe. Die gebruik van Botox en vullers is aan die orde van die dag en is ’n prioriteit vir meisies so jonk as 21. Die tendens om enigiets waarmee jy nie tevrede is nie reg te spuit, styf te trek of op te blaas, ruk handuit en in die proses leer jong dames nooit goeie velsorgroetines aan nie. Ek glo dat ons ongelukkig so verkeerde sienswyses kweek en dinge soos selfoordeel, onsekerheid, ontevredenheid, vergelyking van die self met ander en selfs depressie bevorder.

Ek glo in balans. Ons is na God se beeld geskape, en om oud te word is ’n absolute voorreg. Daar is niks so mooi soos ’n vrou in haar veertigs wie se gesig begin karakter wys nie! As ’n mens in interne skoonheid belê, is eksterne skoonheid outomaties deel van die resultaat.

Ek het die keuse gemaak om wel dienste soos Botox en vullers te bied. Dit word gedoen deur ’n kosmetiese dokter met die mooiste hart vir mense wat oor my pad gekom het en wat net so passievol soos ek is oor balans. HelloWoman bied dus vir vroue alle moontlike hulpmiddels aan, maar ons kweek ’n kultuur van balans deur altyd ook in ons kliënte se psige te belê. Die wenresep is om die beste weergawe van jouself te wees sonder om dit te oordoen: – baie water, goeie dermakosmetiese velsorg tuis en gereelde salonbehandelinge gekombineer met indringende en nie-indringende kosmetiese prosedures.

Watter foute het jy gemaak en wat het jy daaruit geleer?

Meer as wat ek kan opnoem!

Die grootste fout wat ek gemaak het, was om te dink dat al my personeel aan my verwagtinge moet voldoen. Ek doen op ’n sekere manier besigheid, en ek het van hulle verwag om dit ook so te doen. Ek het om ’n koffietafel saam met ’n kosbare vriendin eendag besef dat hulle nie hier is vir my nie, maar ek is hier vir hulle. Dit het my hele bestuurstyl verander en ek het die rol begin inneem van mentor. Ek het ’n punt daarvan gemaak om elkeen diep te leer ken – wie hulle is, waaruit hulle aksies spruit, wat hulle drome is. Ek het streng minimum verwagtinge rakende alle aspekte van kliëntediens, maar verder as dit gee ek hulle graag elkeen die vryheid om hulself te wees en werklik tuis te voel. Soms moet ek ’n bietjie leiding gee, soms ’n bietjie harder druk. Maar soos ons gevestig raak, vloei alles gladder. Dit maak die wêreld se verskil aan my besigheid en my werksverhoudinge.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Omdat ek self ook redelik nuut in die bedryf is, is dit vir my belangrik om tendense te leer ken. Dit help met kontantvloei, veral in stiller maande.

Ek het ook besef dat ek die onderneming se dienste moet diversifiseer om seker te maak dat ek terugslae makliker kan bestuur, byvoorbeeld as ’n sleutelpersoon sou besluit om ons span te verlaat.

Ek het oor die jare ’n netwerk in die bedryf opgebou; ek glo dit is ’n vangnet as ek skielik dringende, kortstondige hulp nodig het.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek het ’n oopdeurbeleid. Elke lid van my span kan met enigiets na my toe kom. Ek neem graag die rol van mentor aan in die hoop dat ek ’n bietjie van my sakekennis en leierskapvaardighede aan elkeen kan oordra en hulle so help om hul ondernemings te bevorder. Ek sien myself graag as ’n leier wat deel is van ’n span, my mense se waarde besef en waardeer, lief is vir hulle en saam met hulle hard werk.

Ek is streng oor die reëls wat die kliënte raak, soos die kliniek se higiëne en hoe die verversings bedien word, maar my reëls is duidelik, regverdig en konsekwent.

Ek probeer my bes om te lei deur die voorbeeld wat ek stel. En ek maak ’n daadwerklike punt daarvan om elke lid van my span persoonlik raak te sien. Ons is vriendinne wat lekker maar hard saam werk, saam suksesse en teleurstellings vier, en vir mekaar omgee.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Wanneer ek dit oorweeg om my span uit te brei, vra ek altyd twee vrae: sal dit waarde toevoeg tot elke huidige lid van my span se ondernemig, en is dit in lyn met my handelsnaam. Om as ’n eenheid saam te funksioneer, is altyd my primêre oorweging.

Lede van my span moet oor baie definitiewe eienskappe beskik: Ons is vrouens wat ’n passie en talent het vir wat ons doen en wat bereid is om baie hard te werk. Ons is Godvresende vrouens wat mekaar se mooi en slegte eienskappe aanvaar en vier. Ek duld nie konstante konflik of ’n geskinder nie. En die belangrikste is of ons almal ’n passie vir ons kliënte en dienslewering het.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ek probeer my bes om vir my span ’n goeie voorbeeld te stel. Ek is duidelik oor my afhanklikheid van en vertroue op die Here, ek woeker hard, werk hard en bou verhoudinge as daar geleentheid is daarvoor.

Omdat ek ’n oopdeurbeleid het, weet my span dat hulle met enigiets na my toe kan kom, en hulle doen dit ook graag. Ek deel gereeld drukkies uit en vee trane af. Ek glo dan ook dat verhoudings verdiep as albei partye kwesbaar kan wees. Daarom is ek binne perke eerlik met hulle as ek siek is of persoonlik deur ’n moeilike tyd gaan. Dit is juis dan vir my belangrik om vir hulle te wys dat ’n mens kan opstaan, aantrek en aangaan, en steeds die verwagte, vriendelike diens van hoë gehalte aan ons kliënte lewer. Môre skyn die son weer.

Ek gee erkenning as dit verdien word. Ek komplimenteer graag, en ek gee graag raad en maak aanbevelings as ek sien dinge loop ’n bietjie skeef.

Ons het een keer ’n maand ’n spanvergadering waar ons al die toue bymekaartrek, en elkeen kans kry om in ’n veilige omgewing oor enigiets te praat.

Hoe hanteer jy uitdagings in jou span of organisasie?

Ons is baie dankbaar dat uitdagings in ons span werklik baie min en yl gesaai is.

Waar vrouens saamwerk, kan dit wel soms ’n bietjie onstuimig raak. As ’n probleem onder my aandag gebring word en ek besef dit is iets wat hulle nie self onder mekaar uitgesorteer kry nie, roep ek graag die betrokke partye een-een in om hulle kant te kom stel. Dit is meestal misverstande as gevolg van swak kommunikasie, en gelukkig kan dit vinnig uitgesorteer word.

Ek het ’n formele grieweprosedure in plek vir indien dit nodig is, maar gelukkig het ons werklik nog bitter min konflik beleef.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Die stigting van die HelloMan-uitbreiding is ’n groot droom wat van dag een af deel is van my langtermynbeplanning vir my handelsnaam! ’n Plek vir mans waar hulle hare, baard, hande en voete in ’n manlike omgewing versorg kan word terwyl hulle terselfdertyd ’n whisky saam met ’n vriend geniet!

Maar eers wil ons konsessies van die HelloWoman-handelsnaam in die Pretoria-omgewing en dan landswyd beskikbaar stel. Ek het reeds navrae en is baie opgewonde daaroor.

My kort- en langtermynvisie is om HelloHair en HelloBeauty by HelloWoman-salonne in verskeie aftreeoorde te plant. Ek het reeds op 1 April 2024 my eerste HelloHair by Bergvallei-aftreelandgoed in Montana oopgemaak, en op 1 September 2024 open my eerste HelloBeauty daar. Dit is ’n ongelooflike voorreg om ook aan ons pensionarisse iets te kan teruggee.

Ek het ’n groot behoefte aan kennis van die fynere besigheidsaspekte by studente in die skoonheidsbedryf geïdentifiseer. Omdat ek nog altyd ’n passie gehad het vir opleiding en bemagtiging, en omdat ek besef watse negatiewe impak die ekonomie tans op die bedryf het, is ek ook in gesprek met Isa Carstens om vir die studente ’n program te ontwikkel waartydens hulle vir praktiese opleiding na HelloWoman kan kom. Dan sal ons veral fokus op hulle sakekennis. Ek hoop om hiermee ook ’n groot impak op die studente en die bedryf te maak.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Tegnologie rakende kosmetiese toerusting speel ’n groot rol in my kliniek se huidige sukses en dit sal in die toekoms ook so wees. Kliënte besoek salonne en klinieke deesdae vir resultate en nie net vir bederf nie, en die nuutste tegnologie maak resultate moontlik. Omdat sosiale media so toeganklik is, is kliënte ook baie bewus van die verskillende opsies wat beskikbaar is en van die nuutste ontwikkelinge. Ek glo dat ek as die eienaar van ’n topkliniek aan die voorpunt van innovering moet probeer bly.

Ek beskik onder andere oor ’n Alma Rejuve-masjien wat veroudering teenwerk, vlekke verwyder en hare pynloos permanent verwyder. Ons het ook ’n EMS-masjien vir liggaamskontoere. Dit sal ’n voorreg wees om nog ’n paar alternatiewe estetiese toestelle te bekom.

Hoe bly jy relevant en mededingend in so ’n vinnig veranderende mark?

Sosiale media maak alles makliker. ‘n Mens kan sonder veel moeite die nuutste tendense oorsee (en op ons voorstoep) leer ken. Dit is ook vir my belangrik om te assosieer met kenners in die bedryf sodat ek ingelig kan bly. Ek doen ook moeite om kongresse en skoue by te woon, want dit is juis waar die relevante veranderinge sigbaar is.

Wat is jou volgende groot doelwit en hoe beplan jy om dit te bereik?

My groot doel voor oë is om my kliniek in Olympusrylaan wat nou net oor die drie jaar oud is administratief en sistematies die vlagskip van die konsessies te maak. Dit gaan navorsing en tyd verg, maar ek is baie opgewonde oor die nuwe dinge wat ek in die proses kan leer.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Ek was nog altyd so ’n bietjie van ’n beheervraat. Soms is dit in orde om die leisels so ’n bietjie te verslap of heeltemal oor te gee. Saam is ons sterker. Om myself met soortgelyke mense te omring, is van onskatbare waarde.

Hoe balanseer jy jou werk en persoonlike lewe?

In die begin was dit vir my ’n groot uitdaging. ’n Mens sê nie nee vir enige geleentheid nie, en ek offer maklik persoonlike tyd op as dit beteken dat die onderneming kan groei. Maar ek het geleer dat net jy alleen aanspreeklik is vir jou welstand en dat rus ononderhandelbaar is.

Ek werk ses dae per week en is baie selfsugtig oor my Sondae. Ek moet rus, maar ek moet ook belê in wat vir my kosbaar is buite my onderneming. Al het ek nie kinders van my eie nie, is ek ’n familiemens en ek het kosbare vriende. Tyd saam met hulle is van kardinale belang, want dit is waaruit ek energie en inspirasie put.

Ek maak ’n daadwerklike punt daarvan om minstens een keer in drie weke saam met ’n vriendin koffie te drink, en ek beplan twee tot drie wegbreke ’n jaar, al is dit net vir ’n langnaweek.

Watter advies sal jy aan aspirantentrepreneurs gee?

Die Here fluister, Hy skree nie. Spandeer tyd by sy voete sodat jy kan hoor wat Hy sê.

Moenie bang wees nie! Die meeste geleenthede wat die moeite werd is, was in die begin vreesaanjaend!

Moenie nee sê nie. Gryp enige geleentheid met beide hande aan!

Wees bereid om baie harder te werk as wat jy jou kan indink. Die lekker is dat dit nie soos werk voel nie!

Leef buitentoe. Energie het ’n manier om terug te kom na jou toe wanneer jy dit die minste verwag.

Bou vir jou ’n netwerk op en vra as jy iets nodig het. Mense mag nee sê, maar hulle doen dit meestal nie!

Jy hoef nie alles die eerste keer reg te kry nie; die meeste mense sukkel aan die begin. Hou net aan probeer.

Evalueer deurentyd en maak veranderinge waar nodig.

Omring jou met passievolle mense! Ons is die somtotaal van die vyf mense met wie ons die meeste tyd spandeer.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

My droom is om veral onder vroue bewusmaking te skep dat daar balans moet wees tussen innerlike en uiterlike skoonheid en selfaanvaarding. Dat vrouens (en mans) die waarde van selfsorg altyd sal onthou en prioritiseer, maar dat dit nooit die innerlike belegging sal oorskadu nie – eerder aanhelp. Ons vrouens is die kern van gesinne. Hoe ons onsself sien en oor onsself voel en praat, het ’n rimpeleffek. Ek hoop dat ek ’n impak kan maak sodat vrouens weer hulle selfwaarde sal ontdek in ’n ongelooflik kritiese en oppervlakkige wêreld.

Ek hoop om salonne te skep waar elke mens kan instap en van dag een af oorweldig word deur hoe welkom en geliefd hulle voel. Nes hulle is. ’n Plek waar kliënte kan kom kuier en kom asemhaal terwyl hulle hulself netjies kry. ’n Plek waar mense sal praat as hulle ’n oor wat luister nodig het, waar hulle sal huil as hulle ’n skouer nodig het, en waar hulle met ’n rustige hart kan uitstap wetende dat ’n hele groep vrouens saam met hulle bid vir wat ook al hulle nodig het of wat vir hulle moeilik is.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

’n Mens kry twee tipes mense: dié wat binnetoe leef en dié wat buitentoe leef. Om heelhartig in die kliëntedienswêreld buitentoe te leef, tap ongelooflik baie uit ’n mens. Baie dae voel jy oorgestimuleer en totaal leeg getap. Maar op die ou end is dit so vervullend. Ek kan werklik getuig: Hoe meer ek gee sonder om enigiets terug te verwag, hoe meer ontvang ek!

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek glo dat dinge gebeur soos dit moet. Soms is dit om ons te verryk en te seën, en soms is dit om ons te leer en te skaaf. Ek was die laaste paar jaar op ’n wipwa van terugslae en verstommende groei, en my hart is dankbaar vir elke liewe gebeurtenis! Op hierdie reis het ek persoonlik soveel gegroei; dit het ’n groot impak gehad op my uitkyk en hoe ek dinge benader.

Hoe wil jy hê moet mense jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

HelloWoman is hartsmense wat liefde en lig gesaai het.