|

entrepreneursfokus: michelle se kombuis

Ons het met Michelle Britz van Michelle se Kombuis gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

In 2019 was daar ’n hewige droogte in die Oos-Vrystaat. Dit het ons as as boere ook getref en ons onder finansiële druk geplaas. Ek was as kind reeds blootgestel aan entrepreneurskap en wou graag eendag my eie onderneming hê. Hierdie was die gulde geleentheid om my PASSIE, kosmaak, aan te wend en Michelle se Kombuis is gebore. Ek was vasbeslote dat dit suksesvol moet wees, anders was ons onder deur. Die ontstaan van Michelle se Kombuis is die uiting en liefde vir kosmaak. Dit het my in staat gestel om finansiële ondersteuning te bied aan my gesin tydens ’n baie moeilike tyd.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

In Januarie 2019 het my tannie in ’n gesprek genoem dat sy wens daar was iemand wat vir haar studentekind “Mammapakkies” kon maak. Binne twee weke het ek my onderneming op die been gebring. Omdat ek so groot liefde vir kosmaak het, was ek oortuig dat ek in hierdie bedryf wil werk. Ek het dit selfversekerd aangepak omdat ek reeds ses jaar ondervinding opgedoen het met spyseniering vir troues en ook ’n gastehuis bestuur het. Ek glo jy moet ’n passie hê vir wat jy doen, dan sal elke dag lekker en ’n plesier wees. Michelle se Kombuis se leuse is dan ook : “Leef jou passie!”

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Ek het te vinnig te veel geregte op my spyskaart gesit wat my onder geweldige druk geplaas het. Nadat ek afgeskaal en geleidelik saam my onderneming gegroei het, het ek meer produkte bygevoeg. Dit het baie tyd geverg om al die navorsing te doen (daar was niemand by wie ek kon raad vra nie) oor watter verpakking om te gebruik en waar ek die aankoop van produkte moet doen en om seker te maak ek kry die beste kwaliteitroumateriaal by die regte verskaffers, maar ná so paar maande het ek dit ook onder die knie gehad. Ek doen nou nog marknavorsing en prysvergelykings om seker te maak Michelle se Kombuis bly op die regte koers om ’n goeie winsgrens te behou.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Ek het geweet Michelle se Kombuis moet werk, ek het eenvoudig nie ’n ander keuse gehad as om dit ’n sukses te maak nie. Ná drie maande het ek al die geld wat ek ingesit het teruggekry! Vandaar af het Michelle se Kombuis net bly groei. Ses maande later was ons reeds goed aan die gang en met die ondersteuning van my man en familie het ek geweet dit sal ’n reusesukses wees. ’n Goeie ondersteuningsnetwerk is belangrik om ’n sukses in die lewe te maak.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Michelle se Kombuis se gevriesde etes proe soos huis. Ons geregte word met baie liefde voorberei. Die etes is grotendeels tradisionele boerekos, soos jou ma se kos. Ons kosse bevat geen preserveermiddels nie en word met die beste bestanddele en produkte voorberei. Dit is ideaal vir besige gesinne, studente en afgetredenes. Jy spaar tyd om ons etes aan te koop en voor te sit sodat jy meer tyd saam met jou geliefdes kan deurbring. Die vleisgeregte word nie afgeskeep nie en is propvol vleis, so jy kry waarde vir jou geld. Ons verseker ook die ononderbroke koelketting vanaf produksie tot aflewering om die kwaliteit van ons produkte te handhaaf.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Michelle se Kombuis het ’n groter verskeidenheid van geregte en produkte beskikbaar teenoor meeste van ons mededingers in die Vrystaat en ook landswyd met my mededingers soos Off the Gluten Path, Dinner Box, We are Food en Chef’s Box. Ons geregte word geken aan die waarde en kwaliteit wat jy kry.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Michelle se Kombuis doen betaalde sosialemedia-advertensies waar ons meeste nuwe kliënte verkry. Ons adverteer ook op Facebook (groepe), Instagram, ons webtuiste www.michellesekombuis.co.za en uitsendingslyste. Omdat ek baie van my bestellings wel deur WhatsApp ontvang, kan ek die vertrouens- en persoonlike konneksie met my kliënte bou wat vir my uiters belangrik is. Ek vra terugvoer van elke nuwe kliënt en sê dat hulle my in kennis moet stel as daar enige probleme is. Dit is die enigste manier hoe ek die kwaliteit van my produkte kan verseker. Die terugvoer is waarop ek my onderneming kan bou.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

In 2023 was daar geweldige toename in kospryse (roumateriaal), dit het my winsgrens baie beïnvloed. Brandstofpryse is ook ’n uitdaging, maar met goeie beplanning en die implementering van afleweringsfooie kon ons daardie probleem onder beheer kry.

Beurtkrag beïnvloed verkope omdat die kliënte nie meer in grootmaat bestel nie want hulle vrees dat hul skade kan lei as die etes moontlik ontvries.

Logistiek bly ook altyd ’n uitdaging omdat ek op ’n plattelandse dorp vanaf die plaas my onderneming bestuur. Ek werk dus rondom dit en probeer heeltyd die beste en maklikste opsies gebruik vir aflewering wat nie enige invloed sal hê op my diens of produk nie.

Ek moes die laaste twee maande dringend leer hoe om betaalde sosialemedia-advertensies te doen en moes ekstra hulp inkry toe die verkope drasties styg en produksie vermeerder.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei?

Ek het saam met my onderneming gegroei, van waar ek niks geweet het nie en alles moes leer om hoe om ’n onderneming te bestuur. Daar is nie iets soos vinnig ryk word nie en as jy nie kan voorsien wat jy beloof jou produk is nie, sal jy jou vingers verbrand. Soos my kliëntebasis gegroei het, het Michelle se Kombuis gegroei.

Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Elke jaar evalueer ek my onderneming en kyk waar ek dinge kan verander en verbeter. Dit word dan so in die beplanning ingesluit en vat ons dit stap vir stap. Ek het al geleer dat beplanning jou beste hanteringsmeganisme is.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Alles in die lewe verander konstant en gelukkig floreer ek op dit. Ek geniet dit om nuwe goed aan te leer en uitdagings aan te pak. Juis daaroor het ek weer vir die Entrepreneur van die Jaar ingeskryf. Dit plaas my buite my gemaksone en ek kan sien hoe ek as mens en sake-eienaar groei en ontwikkel in sulke geleenthede wat vir my gebied word.

Watter foute het jy gemaak, en wat het jy daaruit geleer?

Ek het te vinnig te groot probeer gaan. Nadat ek afgeskaal het en gevoel het ek het nou beheer oor als om kwaliteitprodukte te voorsien, het ek stelselmatig saam met my onderneming gegroei tot die sukses wat dit vandag is.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Ek probeer risiko’s heeltemal vermy. As ek iets nuuts aanpak, sal ek eers geweldig baie navorsing daaroor doen om onnodige skoolgeld te betaal.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek beskik oor die vermoë om geweldig hard te werk, en dit loop outomaties oor na my werknemers toe. Dit dryf hulle om elke dag hulle kant te bring en soveel meer! Hulle kyk op na my omdat ek hulle ook met respek behandel.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Deeglike beplanning en kommunikasie is van kardinale belang. Elkeen moet weet wat van hulle verwag word anders kan die span nie funksioneer nie.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Omdat ons kommunikasie tussen mekaar goed is en die werkomgewing lekker is motiveer ons mekaar. Hulle weet net soos hulle my nodig het, kan ek Michelle se Kombuis geensins suksesvol laat funksioneer sonder hulle nie. Hulle is my ondersteuningsnetwerk in die kombuis! Hulle geniet dit ook as ek vir hulle nuwe aspekte van die onderneming leer en ek meer verantwoordelikheid aan hulle toevertrou, dan voel hulle gewaardeer.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Ek en my span sit gereeld saam en bespreek enige probleme wat daar kan wees. Ons weet as daar iets is wat pla moet ons dadelik praat anders veroorsaak dit later groter twis of ongelukkigheid.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Daar is baie veranderinge wat nog moet plaasvind met betrekking tot my kombuis en logistiek vir aflewering, waaraan ons nou druk besig is om te werk. Ek wil graag my glutenvrye reeks nog uitbrei. Ek wil die resepte perfek kry om dit eendag moontlik  aan ’n groot kettingwinkel soos Woolworths te kan verkoop met ’n aansporing vir elke eenheid wat verkoop juis omdat hulle nie so wye verskeidenheid glutenvrye maaltye het nie. Daar is groeiende aanvraag vir dit in die hedendaagse lewe.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Soos my ma altyd sê jy is nooit te oud om iets nuuts te leer nie! Ek weet sosiale media is die bemarkingsmeganisme wat vandag nodig is om jou onderneming ten volle blootstelling te bied. Ek het twee maande gelede ’n kursus gedoen om op hoogte te kom met hoe om Michelle se Kombuis op die beste manier te bemark en nuwe kliënte te werf.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Marknavorsing, produk- en prysvergelyking is belangrik in my bedryf. Jy moet jou mededingers ken en innoverend dink om heeltyd beter as hulle te wees. Ek druk my eie stempel op my produkte en onderneming af en probeer nooit ’n mededinger namaak of hulle idees steel nie.

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Om Entrepreneur van die Jaar 2024 te wen! Ek gaan alles in my vermoë doen om dié keer als reg te doen en te bewys dat ek ’n uitmuntende entrepreneur is wat dit waardig is om die toekenning te ontvang. Deur die blootstelling wat ek daardeur gaan ontvang en met al die pryse wat daarmee gepaard gaan, sal ek Michelle se Kombuis makliker en vinniger kan kry op die vlak wat ek dit wil hê.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Dat daar niks is wat ek nie kan doen nie! Al weet ek nie hoe om iets te doen nie, dan vind ek uit en leer! Ek sal NOOIT nee sê vir ’n geleentheid wat oor my pad kom nie, maak nie saak hoe moeilik dit lyk of voel nie.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Beplanning, beplanning, beplanning!! Op hierdie oomblik waar ek nou drasties die onderneming moes vergroot het, is ek nog besig om my voete te vind. Ek weet my mikpunt is nie buitensporig nie en wel bereikbaar! Om nou saam met Michelle se Kombuis se groei my persoonlike lewe met my man, kinders en vriende te balanseer, is moeilik. Ek sien wel die lig aan die einde van die tonnel, dat ek weer meer tyd saam met my geliefdes kan deurbring. Hulle verstaan en ondersteun my in hierdie druktyd!

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Niks in die lewe kom van self nie. Gryp die geleentheid aan as dit na jou kant toe kom en wees bereid om te leer.  Sukses is die vrug van bitter harde werk. Leef jou passie, gaan voluit en doen dit waarvan jy hou en geniet, anders kan die werk later ondraaglik wees en jou vreugde steel.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Omdat ons ’n klein gemeenskap in Ficksburg is, weet ek dat ek reeds ’n groot inspirasie is vir die vroue hier. Meeste mense sê jy kan nie ’n sukses maak in so klein afgeleë dorpie nie (en dit het ek al baie gehoor, maar myself min daaraan gesteur). Ek motiveer hulle en wys dat dit wel moontlik is. Daar is alreeds soveel vroue wat hulle eie ondernemings vanaf die plaas begin het, want hulle weet dit is moontlik en doenbaar! Ek deel ook graag raad, want soos my man ALTYD sê: “As ons nie iets doen en help nie, wie sal dan?” Ons moet ons kant bring in ons gemeenskap. Saam kan ons bou aan ’n beter mensdom net met ons optrede teenoor ander.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Magriet Groenewald – my mentor en vriendin het vir my gesê toe ek Michelle se Kombuis begin het. Jy sê eenvoudig nooit nee vir ’n geleentheid nie, al weet jy nie hoe om dit te doen nie, dan leer jy vinnig! Dit is die beste raad wat ek nog ooit gekry het! Dit het my ook al in baie voordelige situasies geplaas soos dat ek op televisie kon verskyn en betrokke wees by baie van AfriForum Sakenetwerk se geleenthede wat Michelle se Kombuis die ekstra blootstelling gegee het om vinniger te groei.

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Daar is niks wat ek sou wou verander nie. Al die foute en leerskole is wat my in die laaste vyf en ’n half jaar gevorm het tot wie ek as mens vandag is. Ek is trots op myself en wat ek in die situasie en area waar ek geplaas is, kon vermag! My drome is groot en al gebeur dinge stadiger op die platteland, die agteros kom ook in die kraal.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

Die vriendelike vrou met die lekkerste kos. ’n Vrou wat ander geïnspireer het om meer vir hulle self te wil hê en bereik. ’n Volwaardige Spreuke 31-vrou!!