|

Entrepreneursfokus: Ronel bowles

Ons het met Ronel Bowles van Strive en PETCARE gesels oor haar entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede- entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Vandat ek begin het om ander se troeteldiere op te pas, het ek dit werklik baie geniet om hulle te kon help. Ek het vinnig besef dat daar ’n groot aanvraag is vir hierdie diens en dit het my geïnspireer om die geleentheid aan te gryp en die diens op groot skaal aan te bied. Aangesien ek self as persoonlike afrigter werk, het dit onmiddellik die geleentheid geskep om ook aan ander jongmense ’n inkomste te kon bied. En watter beter plek as Pretoria waar duisende Afrikaanssprekende studente naarstigtelik op soek is na ’n ekstra geldjie, maar sonder dat die werk met hul studies sal inmeng. My ma is ook vir my ’n groot inspirasie en ek het deur haar geleer om hard te werk en dat enigiets moontlik is wanneer jy bereid is om die werk in te sit.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Ek is ’n persoonlike afrigter van beroep. ’n Paar van my kliënte wat ek by hul huise afrig, het ’n behoefte aan ’n betroubare persoon gehad om na hul diere om te sien wanneer hulle met vakansie gaan. Ek wou graag die diens aan hulle lewer en vinnig was dit nodig om nog jongmense betrokke te kry om in die groeiende aanvraag vir hierdie diens te kon voorsien.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het, en hoe het jy dit oorkom?

Vertroue: Aan die begin was dit vir my baie moeilik om ander mense te vertrou om onder my onderneming – PETCARE – se naam puik diens te lewer. Ek was bang dat hulle die kliënte sou teleurstel en dit ’n negatiewe refleksie op my, sowel as my onderneming sou wees. Ek het dit oorkom deur persoonlike, sterk verhoudings met elke diere-oppasser in my diens te bou en te sorg dat ek te alle tye bewus is van elke aspek in my onderneming, sonder om my oppassers te oorskadu. Deur streng reëls neer te lê en daarby te hou, kon ek verseker dat my kliënte se diere en wonings altyd in goeie hande gelaat word.

Was daar ’n spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Vir seker! Dit was Desember 2023 toe ons meer as 80 besprekings gehad het nog voordat die vakansiemaand aangebreek het! Aan die begin het ek gedink PETCARE gaan net oor vakansietye besig wees, maar die Here se plan was groter! PETCARE het vanjaar nog nie een keer minder as 30 besprekings per maand gehad nie.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf aan iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

Ons leuse is: “We meet your need”. PETCARE is ’n onderneming wat meer as jul plig doen om aan jou ’n allesomvattende diens, binne die gerief van jou eie huis te bied. Ons oppassers kom bly by jou troeteldier (of dit nou ’n hond, kat, hamsters of selfs slange is!), in die veiligheid van hul bekende omgewing waar hulle gemaklik is. Die feit dat ons oppassers by jou huis na jou diere kom omsien, beteken vir ons kliënte baie, omdat talle troeteldiere alreeds getraumatiseer is wanneer hul eienaars afwesig is. Die feit dat die diere dan in hul bekende omgewing kan leef, maak ons uniek. PETCARE se span lewer puik diens waar geen van die oppassers rook of drink nie. Jou huis en diere is in goeie hande.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

PETCARE se personeel is die beste en lewer uitstaande gehaltediens. Ons kliënte weet te alle tye wat met hul diere aangaan deur middel van deurentydse kommunikasie (hetsy foto’s of video’s). Elke kliënt ontmoet sy oppasser vooraf persoonlik en kan ook sien hoe die oppasser met die betrokke troeteldier oor die weg kom. Meeste mededingers versorg jou dier by hul perseel – dus eindig honde en katte in hokkie op. PETCARE kom na jou huis toe sodat jou dier nie ontwrig word nie.

Hoe betrek jy jou kliënte en bou jy ’n lojale kliëntebasis?

Ons maak staat op terugvoering van elke kliënt ná afloop van elke diens. As eienaar is dit vir my belangrik om te weet hoe kliënte ons diens ondervind het, en ook voorstelle vir addisionele diens ter harte neem. Jy weet jy het ’n wenresep wanneer dieselfde kliënte waarmee jy ’n jaar terug begin het, steeds net van jou dienste gebruikmaak. Die hoeveelheid navrae wat ons ontvang deur middel van “word-of-mouth”-komplimente deur ons staande kliëntebasis, bevestig ook die hoë standaard van ons diens. Ons pryse is bekostigbaar en daar was nog nooit enige klagtes oor oppassers wat kliënte se huise nie in tiptop toestand oorhandig het nie.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Die grootste uitdaging is eintlik baie positief. Die onderneming groei steeds teen ’n vinnige tempo en terwyl ek eintlik ’n persoonlike afrigter is, moes ek vinnig stelsels en tegnologie in plek kry om te help met afsprake en besprekings. Die waarde van webtuistes of toeps waar kliënte aanlyn kan bespreek, kan nie oorbeklemtoon word nie. Intussen het ek ook ’n jaar en ’n half gelede getrou met ’n man met twee hondekinders, plus die twee ondernemings wat suksesvol bestuur moet word. Goeie tydbestuur is dus deurslaggewend en ’n konstante uitdaging.

Groeiproses

Hoe het jou onderneming mettertyd gegroei? Watter strategiese besluite het jy geneem om groei te verseker?

Die aanvraag vir PETCARE se unieke dienste het sedert Desember 2023 drasties gegroei. Toe die besprekings sedert Oktober 2023 begin invloei het, moes ek baie addisionele oppassers binne ’n kort tydjie werf, oplei en aanstel. Ek het oornag besef dat ons kapasiteit geweldig is en dis toe ek besef het dat PETCARE lankal nie meer net ’n ekstra meevallertjie is nie, maar ’n volskaalse onderneming met ’n groeiende behoefte in die gemeenskap van Pretoria. Ons moes ook vinnig ons dienste uitbrei na naburige streke om verdere groei te kon verseker.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

In PETCARE se geval is dit krities om te besef dat troeteldiere vir meeste mense eerder soos nog ’n kind in die gesin gesien word. Almal soek die beste vir hul kind, en niks minder word vir hul troeteldiere verwag nie. Ons kernwaardes sal nooit verander nie – want ons lewer een unieke, allesomvattende diens – om na jou geliefde diere om te sien by jou huis.

Watter foute het jy gemaak en wat het jy daaruit geleer?

Ek is werklik geseënd en bevoorreg om te kan sê dat daar tot op hede nog nie foute gemaak is nie. Die onderneming se resep en basis is eintlik eenvoudig – maak seker dat die oppassers opgelei is, betroubaar is en presies weet wat van hulle verwag word – en daar is min ruimte vir foute. Ek kan wel sê dat ek intussen seker maak dat ek altyd ’n oppasser op bystand het vir in geval die oppasser wat aan diens is, in ’n noodsituasie beland en dus nie kan opdaag vir sy/haar bespreking nie.

Hoe hanteer jy risiko in jou onderneming?

Daar is ’n paar risiko’s wat ons in ag neem. Daar is altyd die risiko van misdadigers wat ’n oppasser na ’n onbekende adres kan lok om te beroof van persoonlike items soos selfone ens. PETCARE het dus permanente bestuurders (senior leiers) wat altyd ’n oppasser vergesel na nuwe kliënte vir die eerste ontmoeting. Ek sal nooit ’n oppasser alleen na ’n nuwe kliënt toe stuur nie. Aangesien elke oppasser vooraf gekeur word, weet elkeen dat die gebruik van sigarette en drank onder geen omstandighede geduld word nie. Kliënte maak hul huise se deure vir ons oop en elke oppasser moet 100% vertrou kan word dat hulle nie partytjies in die huis gaan hou, of skade gaan aanrig nie.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek is – voor enigiets anders – ’n kind van die Here. Ek is eerlik en reguit met my span. Ek glo daaraan om elkeen die geleentheid te bied om met voorstelle te kom hoe ons PETCARE se dienste kan uitbrei of selfs verbeter. Ek glo daaraan om met my eie handelinge eerder ’n voorbeeld te stel, in plaas van om bevele uit te deel. Alles wat ek van my span verwag, verwag ek ook van myself. Wanneer ek met potensiële nuwe oppassers ’n onderhoud voer, vind ek uit of hierdie persone dieselfde waardes as ek het en ook die onderneming se belange op die hart sal dra asof dit hul eie onderneming is. Ek gee my span die geleentheid om elkeen hul eie vaardighede te ontwikkel en ook gesonde werksverhoudings met hul kliënte te bou. Hierdeur word toekomstige besprekings verseker as daar ook goeie verhoudinge en vertroue tussen my kliënte en werkers bestaan.

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ’n span bou?

Oop kommunikasie, eerlikheid, ’n goeie werksverhouding, spanwerk, goeie beginsels.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Meeste van my werknemers is studente en dit is belangrik dat die werksverhouding nie eensydig is nie. Die werkgewer sowel as die werknemer moet by die ooreenkoms baat. Ek moet buigsaam wees in die sin van skofte of aftyd. Dit gebeur met tye dat studente op kort kennisgewing ’n bespreking moet kanselleer as gevolg van siekte of dringende studies. Dit gaan nie help as ek kwaad word of hulle probeer dwing om by die ooreenkoms te bly nie. Ek is bevoorreg om ’n toegewyde span te hê wat dit regtig geniet om vir PETCARE te werk. Vir studente is dit lekker om oor naweke of vakansies uit besige koshuise te kan ontsnap en in die rustigheid van ’n kliënt se woning op studies te kan konsentreer, terwyl hulle die troeteldiere versorg. Ek maak ’n punt daarvan om gereeld met elke oppasser te gesels na afloop van dienste, sodat hul uitdagings tydens daardie spesifieke bespreking onder my aandag gebring kan word. Waar nodig, maak ek aanpassings sodat die werknemer met sy volgende bespreking beter toegerus is. Elke werknemer van PETCARE het ook ’n ope kommunikasielyn na sy bestuurder met wie hy kan praat oor enige kwessies terwyl hy aan diens is. As ’n dier byvoorbeeld siek is of snaaks optree, voel die oppasser nooit aan sy eie genade oorgelaat nie – die bestuurder en ekself is altyd tot hul beskikking om te help met advies of om betrokke te raak waar nodig.

Hoe hanteer jy uitdagings binne jou span of organisasie?

Binne PETCARE is daar nie juis geleentheid vir konflik tussen werknemers nie, aangesien elkeen sy eie kliënt se diere oppas. Ek kan maar net met dankbaarheid glimlag wanneer ek van “kantoorpolitiek” by ander ondernemings hoor. Ons het nie sulke gevalle waar werknemers op mekaar se tone trap nie. Indien daar wel enige uitdagings tussen ’n kliënt en oppasser opduik, sal ek dit onmiddellik in persoon opvolg. Ek sal seker maak dat ek albei se kante van die storie hoor voordat ek enige besluite neem. Ek glo ook aan tweede kanse. Dis nie “reg of weg” by my nie. Ek laat ruimte vir foute, want dis ook deur foute dat groei plaasvind. My werknemers is meestal jong studente en ek stel nie onregverdige eise aan hulle nie.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Ek sal graag wil sien dat PETCARE as ’n onderneming regoor Suid-Afrika uitbrei. Ons dienste is uniek en daar is nie baie wat kans sien om kliënte se diere binne hul eie huise te gaan oppas nie. My droom is om PETCARE-konsessies regoor die land te hê. Daar is in elke provinsie ’n oorvloed van universiteite met studente wat werklik kan doen met ’n ekstra inkomste terwyl hulle studeer. Daar is nie orals geleentheid vir Afrikaanssprekende studente nie. Die dae wat studente in die betrokke dorp as kelners by restaurante gewerk het, is lankal getel. Met ’n PETCARE-tak in elke provinsie, kan ek aan hierdie jongmense van Suid-Afrika ’n geleentheid bied om ’n gesonde, eerbare manier van inkomste te verdien.

Watter rol speel tegnologie in jou sakeplanne vir die toekoms?

Ek dink ek het dit al genoem. Die belangrikheid en waarde van tegnologie in my tipe onderneming kan nie oorbeklemtoon word nie. Aangesien my oppassers almal deeltydse werknemers is (hulle almal studeer nog) en slegs betrokke is by die versorging van die diere, bly die administratiewe sake en besprekings my verantwoordelikheid. Die onderneming moet deurentyd bemark word; besprekings moet aanlyn kan plaasvind en opgevolg word; afsprake vir ontmoetings met nuwe kliënte, en kommunikasie tussen kliënt en oppasser moet plaasvind. Ons gebruik alreeds verskeie platforms, maar ’n toep wat spesifiek vir PETCARE se doeleindes en behoeftes ontwerp is, sal my lewe aansienlik makliker maak! Verder sou ek graag so gou moontlik ’n volwaardige webtuiste wou skep wat deurentyds op datum gehou word met nuwe foto’s en video’s, ensovoorts.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ’n vinnig veranderende mark?

Deur die beste diens te lewer – beter as die res – en om oop te wees vir verandering en heeltyd aan te pas en te verander. PETCARE se dienste is nie “vas” nie, want elke kliënt en sy dier kom met hul eie unieke behoeftes. Aldus ons leuse “We meet YOUR need”. Die ding van “Nee, ons doen nie dit nie, of ons doen nie dat nie”, bestaan nie by PETCARE nie. As jou kietsiekat twee lepels kaviaar om middernag moet kry, dan doen ons dit!

Wat is jou volgende groot doelwit, en hoe beplan jy om dit te bereik?

Verlede jaar Desember het PETCARE net oor die 80 kliënte gelukkig gehou. Vanjaar mik ons vir 180 besprekings. Om dit te kan bereik, het ek alreeds begin om nog oppassers aan te stel en in hul opleiding te belê. As ’n span hou ons gereeld ’n dinkskrum om innoverende maniere te vind om ons taak te vergemaklik en makliker stelsels daar te stel. Verder is dit ook vir my krities om die toep vir PETCARE ontwerp te kry, want dit sal baie waarde toevoeg en besprekings vergemaklik.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Ek besef dat te veel jongmense nie genoeg in hulself glo as hulle nie ’n graad agter hul naam het nie. Ek het reeds op skool geweet dat ek ’n persoonlike afrigter wil word. Nooit het ek kon droom dat iets soos ’n pandemie (Covid-19) ’n mens se inkomste oornag kan affekteer nie. Dis egter die vermoë om ’n geleentheid raak te sien, wat mense soms mee sukkel. My reis met PETCARE het my opnuut laat besef dat God ’n beter plan vir my lewe het as wat ek ooit kon dink of besef. Ek het geleer om in myself te glo en dat basiese beginsels soos dryfkrag, motivering, geloof en deursettingsvermoë genoeg is om ’n sukses van enigiets te maak. Dit is: “God qualifies the called” en nie ’n saak van “God calls the qualified” nie.

Hoe balanseer jy werk en persoonlike lewe?

Dis maar ’n moeilike enetjie want met PETCARE werk ons meestal naweke en vakansies. Ek is bevoorreg om ’n man te hê wat werklik verstaan wat die onderneming van my eis. Ek maak ’n punt daarvan om my aftyd ten volle te benut en dan my volle aandag aan my man en my eie huislewe te gee. Dis belangrik om bedagsaam te wees binne die huwelik. Daar is ’n tyd vir werk, speel en rus.

Watter advies sal jy gee aan aspirantentrepreneurs?

Begin net! Hou jou oë oop vir geleenthede. Mens het nie nodig om vir iets te wag nie en jy het nie noodwendig ’n klomp geld nodig om iets te begin nie. Wat is jou sterkpunte? Wat is jou talente en stokperdjies? Die antwoord en geleentheid tot jou eie suksesvolle entreneurskap is veel nader as wat jy ooit besef. Begin elke dag met ’n positiewe gesindheid, woeker met wat jy het en vertrou op die Here.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek het al rillers gehoor van kliënte wat negatiewe ondervindings in hierdie bedryf gehad het. PETCARE gee vir kliënte weer vertroue in die bedryf en die gemoedsrus om met vakansie te kan gaan, wetende dat hul dierekinders in goeie hande is. As ek die mense se vertroue in die bedryf kan herstel, het ek alreeds ’n groot impak gemaak.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het, en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Luke 16 10: “One who is faithful in a very little is also faithful in much, and one who is dishonest in a very little is also dishonest in much”. Hierdie Bybelvers kom dadelik by my op. Dit het my geleer om “faithful” te wees – toe ek in die begin nog alleen na mense se diere moes kyk en toe later ’n onderneming daarvan gemaak het, wou ek ’n paar keer ophou omdat my tyd eenvoudig net nie genoeg was om alles in my lewe in te sluit nie. Ek het as persoonlike afrigter gewerk, my man ontmoet, Sondae wil ek in die kerk wees en Woensdae lei ek ’n jeuggroep vir my kerk. Maar ek het besef ek het reeds “JA” gesê vir die geleentheid wat God oor my pad gebring het; en daarom kon ek nie ’n paar maande later “NEE” sê vir die gawe wat ek ontvang het nie. Wat help dit dan ons bid vir geleenthede en uitkoms in uitdagende tye, en wanneer ons dit ontvang, wil ons tou opgooi? Ek moes besef dat God nooit van my verwag het om alles self te doen nie, maar my die geleentheid gebied het om te groei en daardeur aan ander jongmense ook geleenthede te kon bied.

Hoe wil jy hê mense moet jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

PETCARE moet gesien word as dié onderneming wat werklik ’n verskil gemaak het in mense (en hul diere) se lewens .

Vir die werknemers – ek hoop dit sal hulle voorberei vir hul eie loopbane en entrepreneurskap aanwakker en dat hulle sal leer dat jou JA is jou JA, dat jy by jou woord moet bly. Ek hoop dat hulle sal leer hoe om vir hulself iets te doen en eie inkomste te verdien, te leer hoe om met geld te werk en respek te kweek vir ander se huise en diere.

Ek hoop ook dat PETCARE sal voortbestaan en voortbou op sy gesonde fondasie om aan iemand soos my jonger boetie of selfs my eie kinders die geleentheid te kan bied om die onderneming te kan oorneem en dat dit vir hulle ekstra geld kan inbring en ’n geleentheid sal gee.

Kliënte – dit is my dryfkdrag en my missie dat elke liewe kliënt van PETCARE ons sal onthou as die onderneming wat nooit teleurgestel het nie. Dat hulle met die grootste vrymoedigheid ons dienste kan aanbeveel en nooit eers ’n ander diensverskaffer sal oorweeg nie. Ons diens en die geluk van die troeteldiere waarmee ons gewerk het, moet ons nalatenskap wees.

GALLERY