Entrepreneursfokus: Sanel Roux dink buite die blommeboks

Sanel Roux het lank daarvan gedroom om ’n bestaan te maak met haar groen vingers. Sy het uiteindelik hande met haar ma gevat om hierdie droom te verwesenlik. Die ideale winkel het haar oog gevang in Queenswood Quarter en drie maande later het Petal’je se deure oopgemaak. ’n Knus blommewinkel in die besige Pretoria.

Die bekende sêding lui “blommerangskikking is ’n kuns” en ons het by Sanel gaan inloer om meer oor haar entrepreneurskapperspektief en die kunsvorm wat sy beoefen uit te vind.

In ’n tyd waar “local” op sy lekkerste is, weet sy hoe belangrik dit is om plaaslike verskaffers te ondersteun en dit bly haar grootste prioriteit om 99% plaaslike verskaffers en kunstenaars vanaf Pretoria tot in die Kaap te ondersteun.

Sanel en haar span se unieke ruikers en rangskikkings is kunswerke op hul eie en boonop kan jy jou verkyk aan die kuns teen die mure en op die rakke van Petal’je. Die besigheidsmodel wat sy volg is dat blomme per stingel verkoop word en nie net in bosse nie. Dit beteken dus dat die kliënt stingel vir stingel kies wat in die ruiker gaan en só iets mooi uit niks maak en deel van die kuns vorm.

Om jouself binne die blommemark te vestig beteken dat jy buite die blommeboks moet dink. Sanel doen dit deur unieke kombinasies te skep met verskeie blomsoorte, ongewone kleure bymekaar te sit en ekstra detail in elke verpakking te plaas.

 width=

Sanel is vandag 40 jaar oud en bestuur die onderneming met ’n ysterhand. As sy terugkyk na hierdie droom kan sy met groot selfvertroue sê wat haar besigheidsfilosofie is: “Jy is nooit te oud om iets nuut aan te pak nie.”

Sanel is ’n entrepreneur wat die belangrikheid van ’n span op ’n daaglikse basis besef. “Kultuur binne enige besigheid is belangrik en ek laat toe dat my werknemers hul kreatiwiteit uitleef sonder om hulle te mikrobestuur.”

As sy drie maande gelede een wenk vir haarself kon gee, sou dit definitief gewees het om so gou as moontlik ’n aanlyn teenwoordigheid te bewerkstellig.

Sanel Roux, tesame met haar span, toets hul grense sodat hulle op hoogte bly van al die jongste tendense in die bedryf. Hulle kry dit reg deur aan te pas, maar ook om getrou te bly aan wat hulle weet reeds goed werk.

Blommerangskikking as ’n kuns verg talent, ’n visie en passie. “Ek verkies iets wat nie wyd beskikbaar is nie, wat uniek en met liefde gemaak is. Passieprodukte is wat ek dit noem.”

 width=