|

entrepreneursfokus: schalk grobbelaar

Ons het met Schalk Grobbelaar van WoodTechie gesels oor sy entrepreneurskapreis. Ons hoop aspirant- en mede-entrepreneurs kan inspirasie put uit ander se stories.

Die begin

Wat het jou geïnspireer om jou onderneming te begin?

Ek is passievol oor hout, tegnologie en innovasie. Ek wou graag ’n geleentheid skep vir mense om makliker innoverende houtprodukte te bekom, te ontwerp of te maak.

Hoe het jy die idee vir jou onderneming gekry?

Ek het gemerk dat daar moontlik mense is wat graag kreatiewe houtprodukte wil maak, maar nie noodwendig die toerusting of vermoë het om dit te doen nie. Dit het my laat dink dat hulle moontlik sal belangstel in ’n diens wat dit vir hulle makliker kan maak om hulle eie kreatiwiteit te realiseer.

Watter struikelblokke het jy teëgekom toe jy begin het en hoe het jy dit oorkom?

Om ons dienste te bemark, was aanvanklik ’n groot uitdaging aangesien dit buite ons normale ervaringsveld was. Ons het vriende gehad wat suksesvol was met Facebook-bemarking en het toe besluit om dit te probeer. Dit het baie beter gewerk as wat ons verwag het. Sedertdien maak ons baie gebruik van Facebook-bemarking.

Was daar ʼn spesifieke oomblik toe jy geweet het jou onderneming sou suksesvol wees?

Toe ons in Februarie 2021 begin verkoop het en binne die eerste maand meer as R20 000 se verkope gehad het, het ek geweet ons kan dit laat werk.

Die onderneming self

Hoe sou jy jou onderneming beskryf vir iemand wat nog nie daarvan gehoor het nie?

By Woodtechie gebruik ons ’n lasersnyproses om kreatiewe houtprodukte te vervaardig.

Wat onderskei jou produk of diens van jou mededingers s’n?

Ons het kreatiewe spuitverftegnieke ontwikkel wat ons produkte meer kunstig laat lyk. Ons gebruik ook ’n verskeidenheid houtsoorte wat die meeste van ons mededingers nie gebruik nie.

Hoe trek jy kliënte en bou ’n lojale kliëntebasis?

Ons gebruik Facebook en Instagram om ons dienste te adverteer en om ons kliënte op hoogte te hou van die nuutste verwikkelinge. Ons kliënte is ook deel van die ontwerpproses.

Ons het ’n paar kliënte wat al vir ’n paar jaar by ons koop. Die meeste van ons produkte is ongelukkig iets wat die meeste mense net een keer koop, maar ons begin al hoe meer produkte ontwikkel wat ons sal in staat stel om gereeld aan dieselfde kliënte te verkoop.

Wat was die grootste uitdagings wat jy onlangs in jou onderneming ervaar het?

Dit is altyd ’n groot uitdaging om die kontantvloei en groeiplanne te balanseer. Ons het onlangs meer begin fokus op medaljes en trofeë, maar ons lasersnykapasiteit het ’n bottelnek geword. Ons het tydelike planne gemaak, maar sal moontlik ’n ekstra masjien moet kry. Ons het die opsies begin ondersoek.

Groeiproses

Watter strategiese besluite het jy geneem om te verseker dat jou onderneming mettertyd groei?

Ons kyk die heeltyd waar die bottelnek in ons stelsel is en maak dan aanpassings. Ons moes byvoorbeeld vroeg al iemand aanstel om ons met grafiese ontwerp en kliëntediens te help. Ons het intussen ’n paar mense ekstra aangestel vir spesifieke funksies. Ons moes soms nuwe masjiene koop. Ons moes ’n rekenmeester en rekeningkundige programme kry. Ons moes ’n produksiebeplanningsplatform kry. Ons moes ons Facebook-bemarking beter gebruik.

Hoe balanseer jy innovasie met die behoud van jou kernwaardes?

Innovasie is een van ons kernwaardes, maar ons moet eers sorg dat ons voorsien in ons mense en verskaffers se behoeftes. Ons sorg dat ons die mense wat ons dra regverdig behandel en so gou as moontlik betaal. As daar geld oor is, kan ons dit gebruik vir innovasie. Ons sorg met ander woorde dat ons ons verantwoordelikhede nakom voor ons nuwe goed probeer.

Watter foute het jy gemaak en wat het jy daaruit geleer?

Ons probeer ’n omgewing skep waar leer belangrik is. Dit beteken dat ons baiekeer iets probeer wat nie so goed werk as was ons gehoop het nie. Ons tob nie oor die foute nie, maar kyk wat ons kan verander om beter te vaar.

Ons ontwikkel gereeld nuwe produkte wat nie so goed verkoop nie en dan moet ons aanpas.

Die masjiene wat ons aanvanklik gehad het, was nie optimaal vir wat ons beste verkopers op die ou einde was nie. Ons het toe ’n ander masjien gekoop en mettertyd die oorspronklikes verkoop.

Ons het al ’n paar mense aangestel wat nie so goed gevaar het as wat ons gehoop het nie en ons is nou versigtiger voordat ons iemand aanstel.

Hoe hanteer jy risiko’s in jou onderneming?

Kontantvloei is een van ons grootste risiko’s. Ons bestuur dit deur konsultasiewerk te doen wat ’n meer betroubare bron van inkomste is.

Ons kan nie bekostig dat ’n spesifieke soort hout opraak nie, want ons kan dit dalk dringend nodig kry vir ’n bestelling nie. So ons hou alles in voorraad en maak seker dat ons ten minste genoeg het vir twee weke se produksie.

Ons gebruik Trello om ons produksieplan te bestuur en seker te maak almal weet waar ’n spesifieke bestelling tans in die proses is. Dit verhoed dat ons ’n bestelling laat aflewer.

Ons glo in die “Swiss cheese-model” vir risikobestuur. Ons het verskeie sisteme en mense wat mekaar help om seker te maak dat ons nie iets belangrik mis nie.

Leierskap en span

Hoe sou jy jou leierskapstyl beskryf?

Ek probeer om:

  • vir die span ’n visie te stel met insae van hulle;
  • die span te laat veilig voel oor hulle inkomste en toekoms;
  • seker te maak dat ek my verantwoordelikhede so goed as moontlik nakom;
  • die spanlede die mandaat en vryheid te gee om hulle verantwoordelikhede na te kom en inisiatief te neem;
  • te luister na die span se insette, voorstelle en bekommernisse;
  • eerlik te wees met die span oor die omstandighede en toekomsplanne van die onderneming; en
  • die span te vergoed vir goeie resultate en om eerlik met hulle te wees as hulle nie aan verwagtinge voldoen nie

Wat is vir jou belangrik wanneer jy ʼn span bou?

Vir my is dit belangrik dat die span eienaarskap neem van die onderneming. Hulle moet bly wees as dit goed gaan en hartseer as dit moeilik gaan. Hulle moet inisiatief neem om te kyk hoe ons die onderneming kan verbeter. Die span moet eerlik met mekaar wees, maar ook gemaklik saam werk.

Hoe inspireer en motiveer jy jou werknemers?

Ons evalueer ons resultate op ’n weeklikse en maandelikse basis, so almal weet die heeltyd hoe dit met die onderneming gaan. ’n Paar van die werknemers werk op ’n kommissiebasis, so hulle salaris is direk gekoppel aan die groei van die onderneming. As ons ’n goeie maand gehad het, vier ons dit met ’n klein partytjie. Ek probeer ook gereeld wys dat ons probeer planne maak om die onderneming te laat groei.

Hoe hanteer jy uitdagings in jou span of organisasie?

Ons is eerlik met mekaar, maar ook regverdig.

Die toekoms

Wat is jou langtermynvisie vir jou onderneming?

Ons wil graag ’n sterk span bou wat kreatiewe houtprodukte ontwikkel wat ons in grootmaat plaaslik kan verkoop, maar wat nog steeds ’n persoonlike gevoel het. Ons sal graag goeie planne wil ontwikkel wat ons internasionaal kan verkoop (soos wat ons reeds op Etsy doen). Mettertyd sal ons graag met groter ondernemings in vennootskap wil gaan waar ons verantwoordelik is vir die ontwikkeling van nuwe produkte. Ons sal dus fokus op produkinnovasie en prototipering en vennote kry wat fokus op produksie.

Watter rol speel tegnologie in jou besigheidsplanne vir die toekoms?

Ons gebruik verskeie tegnologieë en kyk gereeld of daar iets nuuts is wat ons kan help. Ons gebruik Xero om ons finansies te bestuur, Dext om fakture te lees, ’n lasersnymasjien vir produksie, Fusion 360 vir 3D-produkontwikkeling, Inkscape en Adobe Illustrator vir 2D-produkontwikkeling, Facebook en Instagram vir bemarking, WordPress en Elementor vir ons webtuiste en soms selfs ChatGPT om advertensies te skryf. Ons is tans besig om ondersoek in te stel na ’n nuwe lasersnymasjien.

Hoe bly jy relevant en mededingend in ʼn vinnig veranderende mark?

Ons eksperimenteer gereeld met nuwe produkte. Ons kyk die heeltyd of ons ons prosesse kan verbeter.

Wat is jou volgende groot doelwit en hoe beplan jy om dit te bereik?

Ons wil meer medaljes en trofeë verkoop, omdat dit groter hoeveelhede van dieselfde produk is en omdat kliënte geneig is om terug te kom om meer te koop. Die produk help self ook met bemarking.

Ons is besig om te kyk of ons ’n tweede lasergraveermasjien en snymasjien kan koop om ons kapasiteit te verhoog en ons het ons advertensies aangepas. Ons plaas meer foto’s van medaljes en trofeë en het ook ons sosialemediateikenmarkte aangepas. Ons maak reeds vordering en sal probeer om die momentum te behou.

Persoonlike reis

Wat het jou entrepreneursreis jou oor jouself geleer?

Ek geniet dit om ’n entrepreneur te wees. Ek het vir lank gedink dat dit iets is wat ek sal geniet, maar nie geweet hoe om dit te benader nie.

Hoe balanseer jy jou werk en persoonlike lewe?

Ons probeer om min of meer by ’n skedule te bly en ek en my vrou deel verantwoordelikhede vir die kinders. Ek staan meestal soggens tussen 04:00 en 05:00 op om seker te maak dat ek ’n voorsprong het en dat ek dan deur die dag by al my verantwoordelikhede kan uitkom. Ek geniet dit baie om tyd saam met my familie te spandeer, so dit is vir my meer ’n plesier as ’n verantwoordelikheid.

Watter advies sal jy aan aspirantentrepreneurs gee?

Sosiale media en koerierdienste het die wêreld baie kleiner gemaak. Dus is jou potensiële mark baie groter as net die dorp waarin jy bly. Maak seker dat jy weet wie jou teikenmark is en stel jou sosialemedia-advertensies op sodat dit hulle bereik. Moenie alles self probeer doen nie – daar is mense wat dit beter kan doen, maar verkies om nie ’n entrepreneur te wees nie. Maar wees versigtig met wie jy aanstel. Maak seker dat die mense wat jy aanstel dieselfde waardes as jy het en selfgemotiveerd is. Vertrou jou intuïsie met produkontwikkeling, maar moenie blind wees vir wat die mark koop nie. Fokus eers op dit wat maklik verkoop en spandeer dan tyd om te kyk of ander opsies kan werk.

Watter impak hoop jy om op jou gemeenskap of bedryf te hê?

Ek hoop dat ons mense sal inspireer om kreatief te wees.

Slotsom

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het en hoe het dit jou onderneming beïnvloed?

Kyk altyd waar die bottelnek in jou prosesse is en fokus daarop om dit op te los. Sodra jy dit opgelos het, soek jy die volgende bottelnek en hou so aan. Ons onderneming sal nooit ’n punt bereik waar ek gemaklik sal voel dat ons net kan bly waar ons is nie. Ek sal altyd soek vir nog ’n geleentheid om te verbeter.

As jy enige deel van jou reis kon oordoen, wat sou jy anders gedoen het?

Ek sou van die begin af ’n lasersnymasjien gekoop het en nie eers twee CNC-routers nie. Ek sou vroeër op Etsy begin verkoop het en miskien eers daarna meer geproduseer het.

Hoe wil jy hê moet mense jou onderneming en jou nalatenskap onthou?

As ’n onderneming wat innoverend was en mense geïnspireer het om kreatief te wees.