Jong entrepreneur se onderneming ploeg aan groener en gesonder toekoms

Hy is dalk nog net 11 jaar oud, maar Durandt Malan moet nie onderskat word nie.

Dié jong “besigheidsbytjie” en tuisskool-leerling is die trotse eienaar van Durandt’s Heirloom Seeds oftewel Durandt se Erfsade.

Erfsade verwys na bestuifde plantsade wat van geslag tot geslag oorgedra is, wat dikwels 40 tot 50 jaar oud is en gewoonlik nie meer beskikbaar is in die kommersiële saadhandelmark nie. Hulle is ook dikwels gesonder omdat hulle nie gifstowwe bevat en geneties gemodifiseer is nie.

Durandt het tans byna 800 items op sy aanlynwinkel en skakel gereeld sy kliënte self om ’n goeie verhouding met hulle te handhaaf.

AfriVriendelik het onlangs met dié jong entrepreneur gesels om te hoor wat hom inspireer en hoe hy kweek aan ’n beter toekoms.

 width=

Wanneer het jy begin idees uitdink en sodoende ’n entrepreneur geword?

Vandat ek drie jaar oud was het ek al my ma se groente uit die spens gevat en dit op die gras gepak en dit weer aan haar verkoop. Ek kry ook tuisonderrig en ons leer baie oor probleme oplos en juis probleme soek om op te los.

Hoe het jy besluit op die produk wat jy verkoop?

My ma het so lank soos ek kan onthou tuin gemaak en groente en vrugte geplant en sy het altyd met suiwer sade  gewerk. Sy het my geleer dat suiwer sade nie kan vergaan as mense dit oppas nie, maar dat die nuwe tipe sade gemanipuleer word en dit vir ons probleme gaan gee in die toekoms. Met die nuwe tipe sade moet mens sekere giwwe gebruik en ons wil organies boer en altyd ons eie saad kan hou en die volgende seisoen weer gebruik.

Vanwaar af bedryf jy jou besigheid?

Ek bestuur my besigheid van die huis af en aanlyn op my rekenaar (met die hulp van mamma natuurlik).

Wie dien as jou inspirasie?

My ma is my inspirasie omdat sy my leer van organies en gesond lewe. Ek het ook in 2018 die AfriVriendelik Entrepreneur van die Jaar vir onder 18 gewen. Ek het baie hard gewerk en só ʼn toekenning motiveer my nog meer.

Van watter tipe bemarkingsmetodes maak jy gebruik en hoekom?

Ek gebruik Facebook om baie van my bemarking te doen en deel elke oggend een produk vanaf my webtuiste na ʼn paar Facebook-groepe. Ek het ook ’n Facebook-groep vir ander tuisonderrigkinders soos ek begin met die naam van Homeschool Veggie Gardeners. Daarop hou ek tuinmaakkompetisies wat baie pret is en die kinders leer van tuinmaak. Dit is belangrik om kinders te leer om ons planeet op te pas. Ek gebruik ook my blog op my webtuiste www.durandtsheirloomseeds.co.za.

Watter lesse het jy al as entrepreneur geleer?

Jy moet aanhou bemarking doen en jy moet jou kliënte gelukkig hou. Jy moet ook geniet wat jy doen en werk vir ’n doel.

As iemand anders van jou ouderdom jou raad vra, wat sal jy vir hulle sê?

Soek ʼn probleem en probeer dit oplos. Baie mense het dieselfde probleme en het ook ʼn oplossing nodig. Só kan jy iets verkoop of doen wat vir jou geld kan inbring.