Produktiwiteit: Bly gefokus in die chaos
Maak nie saak hoe rof dinge in die kantoor gaan nie, ’n dag, ’n week, ’n maand of selfs ’n jaar by die werk, is altyd bevredigend wanneer jy weet jy het dinge gedoen gekry.
As jy jou baas en kollegas beïndruk met jou werksvermoë, staan jy dalk die kans om ’n bevordering (en ’n meer indrukwekkende bankstaat) te kry. Indien jy ’n besigheidseienaar is, beteken ’n hoër kapasiteit natuurlik meer groei en ’n hoër wins.
Maar hoe gemaak om meer produktief te wees met dieselfde hoeveelheid tyd wat jy elke dag tot jou beskikking het? Lees gerus verder om uit te vind.
Kry sisteme in plek
Die eerste drie reëls van produktiwiteit is beplanning, beplanning en beplanning.
Het jy al ’n kalender met belangrike datums vir die jaar langs jou lessenaar? Skryf jy jou afsprake neer in ’n dagboek? Maak jy lysies? Die lekkerte van georganiseerd wees, is dat ons vandag allerlei (dikwels gratis) digitale platforms het om ons take mee te orden.
Maak seker jy bring nuwe afsprake, take en verpligtinge dadelik aan op ’n relevante dokument en merk hulle af sodra jy dit afhandel.
Om boek te hou, beteken ook dat jy kan prioritiseer en seker maak dat die belangrikste take voorkeur geniet.
Fokus
Hou by die ure wat jy uiteensit vir werk. Dis so eenvoudig soos dit.
Maak ook seker dat enigiets wat jou aandag kan aflei, so ver moontlik buite jou bereik is. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan, aangesien amper alle kantoorwerk deesdae op rekenaars – wat toegang bied na sosiale media-platforms, nuusblaaie, video-stroom kanale en e-posse – gedoen word. Maak die venstertjie met die nuutste rugby-nuus of mode-wenke toe en bepaal jou by jou werk. Jy kan tydens jou breek kyk wat in die wêreld aangaan.
Moenie uitbrand nie
As jy nie na jouself kyk nie, gaan jou werk daaronder lei. Die eintlike rede dat jy meer werk wil doen is tog om vir jouself beter lewenskwaliteit te verseker, nie waar nie? Dalk het jy afhanklikes wat op jou staatmaak en dis van kardinale belang vir hulle, jou kollegas en jouself dat jy na jouself omsien.
Om om te sien na jou gesondheid en welstand is eintlik heel eenvoudig. Maak seker jy slaap genoeg (sewe tot nege ure per nag word aanbeveel), volg ’n gesonde dieet – ja, dit sluit groente in – en probeer om minstens drie maal ’n week fisiese oefening vir ’n halfuur lank te doen. En neem ’n breek oor middagete.
Jy moet ook ’n afsnytyd vir jou werksure hê. As jy hierby hou, is dit amper ’n gegewe dat jy sal seker maak dat jy alles gedoen kry, voordat die spreekwoordelike “huis toe gaan” klok lui.
Maak ook ’n punt daarvan om jou e-posse te vermei na werksure. Moenie antwoord tensy dit ’n noodgeval is nie.
Assesseer jou werkvernuf
Kyk hoeveel jy gedoen gekry het aan die einde van elke dag, week, maand en jaar.
Die grootste struikelblok vir jou produktiwiteit is, ongelukkig, jyself – daarom moet jy jouself beloon vir alle vordering wat jy maak, en terselfdertyd krities wees. Daar is altyd ruimte vir verbetering.
Gesels ook met kollegas (veral seniors) en bespreek voorstelle om beter te werk te gaan sodat nie slegs jy nie, maar die maatskappy as ’n geheel meer produktief kan wees.
Werk slim
Daar is ’n verskil tussen werk afjaag en werk vinnig afhandel.
Probeer om raamwerke, prosesse en sisteme in plek te kry wat verseker dat werk stelselmatig gedoen word. Deur dit só te benader verseker mens bykans altyd dat take effektief afgehandel word: een van die grootste redes dat werk nie klaarkom nie, is dat dit oor-en-oor hersien moet word omdat daar heeltyd foute opduik. Doen dit die eerste keer reg, dan hoef jy dit nooit weer te doen nie.