Sewe gratis bemarkingsidees wat nou kan werk

As jou begroting beperk is maar jy steeds nodig het om jou handelsmerk uit te bou, kan jy steeds maniere vind om ’n haas uit die hoed te trek. Hier is ’n paar idees om jou onderneming te bemark teen geen of minimale koste:

Skep ’n instruksievideo

Video-inhoud raak ál belangriker en volgelinge op sosiale media reageer veel beter op video’s as op foto’s en teks. Instruksievideo’s is waar jy vir mense wys hoe hulle jou produk kan gebruik. Of jy kan wenke gee oor kreatiewe maniere waarop hulle jou produk kan aanwend. Tendense wys al meer dat selfgemaakte video’s beter doen as video’s wat professioneel vervaardig word. Die rede daarvoor is dat mense dit makliker vertrou. Mense is op soek na iets wat outentiek is. Selfs al wil jy nie self die video maak nie, kan jy gebruik maak van ’n vriend wat handig is met ’n kamera! Jy kan selfs jou selfoon met ’n driepoot gebruik.

Kliënteverwysingsprogramme

Wanneer laas het jy jou bestaande volgelinge gevra om jou met bemarking te help? Bied vir hulle ’n gratis koepon, produk of diens aan in ruil daarvoor dat hulle jou verwys. Hulle kan dit doen deur jou naam op sosialemediagroepe of hulle tydlyn te deel, of jou nuusbrief of ’n WhatsApp-boodskap vir hulle vriende aan te stuur. Die goedkoopste bemarking is om jou bestaande volgelinge te gebruik! As jy nie enige iets gratis vir jou volgelinge kan weggee om hulle aan te spoor nie, vra hulle om minstens resensies op Google of Facebook te los. Of wanneer laas het jy jou vriende en familie gevra om al hulle Facebook-vriende na jou blad toe te nooi? Dit is dalk nou weer tyd!

Kry samewerkingsvennote

Is daar ander ondernemings in jou industrie wat jou handelsmerk komplimenteer? Dit kan ’n gulde geleentheid vir ’n vennootskap wees. Stel voor om mekaar se inhoud te deel, loods saam ’n kompetisie of stel mekaar se produkte voor. Dit moet natuurlik nie ’n direkte kompeteerder wees nie. Wasmasjienvervaardigers span gereeld kragte saam met waspoeierhandelsname en bemarkingsagentskappe skep vennootskappe met webontwikkelaars. Watter ander handelsmerk in jou industrie het ’n databasis wat vir jou ook nuttig sal wees?

Bied ’n klas of byeenkoms aan

Is jy ’n kenner in grimering, versekering, mode, sekuriteit of sosiale media? Bied ’n aanlyn klas aan, neem ’n webinaar op en gee mense die geleentheid om op te teken indien hulle toegang wil hê tot die kennis waaroor jy beskik. Die byeenkoms of klas is net die vangnet, maar dit gee jou die geleentheid om nuwe data te genereer, met jou mark te gesels en waarde toe te voeg. Wie weet – as jy werklik waardevolle inligting kan aanbied, kan jy later selfs geld vra vir volgelinge wat wil opteken.

Reik ’n mediaverklaring uit

Jý mag dalk nie dink jou onderneming is nuuswaardig nie, maar die gemeenskapskoerant of industrietydskrif is dalk juis op soek na ’n goeie suksesstorie! Jy kan ’n mediaverklaring uitreik met indrukwekkende feite oor jou onderneming en hoe julle die gemeenskap bystaan, of jy kan ’n opinie gee oor ’n aktuele saak in die media wat relevant tot jou industrie is. Bemark jouself as ’n kenner op jou gebied, want joernaliste is altyd op soek na kontakpersone in elke industrie.

Maak kontak met bloggers

Reik uit na bloggers en mense wat ’n invloed het op die mark wat jy teiken. Begin by Google en soek mense wat skryf oor die produkte en dienste in jou industrie. Stuur dan vir hulle foto’s en voorbeelde van jou produkte met die hoop dat hulle daaroor sal skryf. Kyk ook uit op sosiale media na bekendes of ander invloedryke persoonlikhede wie se volgelinge jou mark is, en stel jou onderneming aan hulle voor. Dit is ’n manier waarop jy jou netwerk kan vergroot en nuwe wen-wen verhoudings kan bou.

Begin ’n nuusbrief

Dit kan arbeidsintensief wees, maar e-posbemarking is steeds die beste manier om volgelinge in kliënte om te skakel. Gaan skep ’n gratis profiel op Mailchimp en begin beplan aan wat jy vir jou volgelinge kan bied. As jy nog nie enige e-posadresse van jou volgelinge het nie, kan jy op Mailchimp ’n landingsblad skep waar mense op jou nuusbrief kan inteken. Versprei dit dan op jou sosialemediaplatforms en maak seker jy laai al die kontakbesonderhede van jou bestaande kliëntebasis ook op (met hulle toestemming natuurlik). Die industriestandaard is om een keer per week ’n nuusbrief uit te stuur, maar jy kan eers op ’n tweeweeklikse basis begin om te verseker dat jy elke keer genoeg het om vir jou volgelinge te sê. Stuur die nuusbrief elke keer op dieselfde dag en min of meer op dieselfde tyd uit, moet dit nie onnodig lank maak nie en gebruik goeie foto’s!

’n Groot begroting wat op ’n verkeerde idee of advertensie spandeer word, is net ’n duur fout. As jy min of geen bemarkingsbegroting het nie, gee dit jou die geleentheid om te begin onderskei tussen wat werk en wat nie. Wanneer jy dan wel op ’n stadium geld beskikbaar kan stel vir betaaladvertensies, sal jy die spyker op die kop kan slaan!