Terugvoer is belangrik vir sakegroei

Almal hou daarvan om terugvoer te ontvang, maar wat as jy die een is wat terugvoer moet gee? Hoe gee jy negatiewe dog opbouende terugvoer? Dit kan ingewikkeld raak om terugvoer te gee, maar terugvoer is uiters noodsaaklik vir verbetering en groei.

Negatiewe terugvoer kan die ontvanger se moed vinnig breek en verhoed dat hulle in die werksomgewing te presteer. Sorg daarom dat die terugvoer wat jy gee duidelik en spesifiek is, sodat die persoon weet hoe hulle iets in die toekoms kan vermy of verbeter.

In plaas daarvan dat jy die terugvoer voor almal gee (wat kan veroorsaak dat die persoon verkleineer voel) vra eerder dat hulle jou kom sien of gaan na hulle toe sodat jy een-tot-een terugvoer kan gee. Hierdie metode bou wedersydse respek en bevorder ook ’n sterk vertrouensverhouding. Volgens cognology.com.au is daar nie so iets soos goeie, waardevolle terugvoer wanneer dit van iemand af kom wat jy wantrou nie. Die persoon wat jou terugvoer ontvang moet dus voel dat jy hul beste belange op die hart dra. Wanneer jy terugvoer gee is vertroue nie net belangrik nie; dit is ’n noodsaaklikheid.

Volgens die webtuiste High Speed Training hoef terugvoer nie noodwendig altyd positief te wees nie. Negatiewe terugvoer kan die persoon help om te verbeter, wat op die lange duur julle werk makliker sal maak. Hulle raai aan dat die persoon wat terugvoer gee (veral negatiewe terugvoer) dit op ’n bekwame en produktiewe manier moet aanpak. Wanneer jy negatiewe kommentaar moet gee, begin dalk met iets positief wat die persoon gedoen het in pleks daarvan om dadelik met die negatief te begin. Probeer om altyd ingedagte te hou hoe jou woorde die persoon gaan laat voel en hoe dit hulle in die werksplek gaan beïnvloed.

Moet nie net sê wat die probleem is nie, maar probeer eerder om ook ’n oplossing of raad gereed te hê wat julle dan kan bespreek, sodat julle saam met ’n plan vorendag kan kom oor hoe om hierdie probleem in die toekoms aan te pak. Verskeie voordele kan luidens High Speed Training aan terugvoer gekoppel word: Terugvoer lei tot beter pligsvervulling, beter motivering, help mense om te leer en te groei en versterk julle vertroue in mekaar.

Tydens ’n studie wat die Harvard Business Review oor terugvoer gedoen het, het 72% van die deelnemers aangedui dat hulle beter in die werkplek sal presteer indien hul bestuurders gereeld terugvoer gee met voorstelle vir verbetering of maniere waarop iets op ’n nuwe of ander manier gedoen kan word.

Terugvoer is ’n belangrike stap tot groei in jou onderneming. Praat gereeld met jou personeel en luister na die manier wat hulle graag terugvoer van jou af sal wil ontvang of hoe jy die manier waarop jy terugvoer gee, kan verbeter.

 

Bronne:

cognology.com.au, highspeedtraining.co.uk, hbr.org