Vasgevang in ’n groef? Ruk jouself só reg, sê kenners

Die lewe gaan oor momentum. Dit is wanneer ons al die verkeersligte groen tref, ons verkope vanself kom en asof elke probeerslag ’n resultaat lewer. Daar is ook natuurlik tye wat ons vasval en dit voel asof ons ondernemings nie groei nie en ons net voor toe deure te staan kom. As ons positief is, maak positiewe gebeure ons selfs nog meer positief en wanneer ons negatief is, lyk negatiewe gebeure vir ons veel groter as wat dit werklik is. Maar wat is die rede waarom ons in ’n groef vasgevang word?

Sleutelredes waarom jy nie vorentoe beweeg nie

Verlore koste: Volgens Psychology Today is mense geneig om te fokus op die hulpbronne soos geld, tyd en moeite wat hulle in iets belê het, eerder as die uitkoms. Dit beteken dat ons dikwels nie van plan verander nie oor ons nie dit wat ons belê het wil verloor nie. Dit is veel moeiliker om van ’n onderneming af weg te stap as jy jou hart en siel daarin gestort het, of jou produkreeks ná maande se ontwikkeling te verander. Omdat ons fokus op wat ons gaan verloor, verhoed ons om drastiese stappe te doen en na ’n nuwe oplossing te soek.

Langtermyndrome: Om oor eilande en lang tropiese drankies te droom kan goed wees, maar kan jou ook in die korttermyn laat stagneer. Entrepreneurs wat groot droom probeer soms met hul groot drome om mense (en hulself) te paai in ’n poging om korttermynteleurstelling te voorkom. As jy opgewonde is oor jou drome beteken dit ook dat jy opgewonde moet wees oor die aksiestappe in die volgende drie maande wat jou nader aan jou drome gaan bring. Vir werklike verandering moet jy jou huidige strategie aan jou langtermyndrome kan koppel, anders gaan jy net wil droom en sukkel om te doen.

Valse hoop op ’n klein wen: Nog ’n rede waarom ons vasval, is wanneer ons in die verkeerde rigting vaar maar gemotiveer word deur klein resultate wat nie ’n langtermynverskil gaan maak nie. Dit maak ’n werk meer verdraagsaam as jy kan uitsien na ’n bonus, maar dit is ’n doellose motiveerder as jou doelwit is om jou eie onderneming te begin. Of word jy deur enkele verkope ’n maand gemotiveer terwyl jy weet jy is veronderstel om dubbel dit te doen?

Oplossings – kom só uit jou groef

Omhels jou spyt: Volgens Psychology Today kan jy gemotiveer word deur wat jy verkeerd gedoen het. Om spyt te wees beteken jy kan analiseer wat verkeerd gegaan het en jou gedrag aanpas. Vra jouself af: “Wat sou ek anders gedoen het?” of “as X gebeur (of nie gebeur nie), gaan ek Y doen?”.

Verstaan jou gemaksone: Vra jouself wat aan jou huidige omstandighede vir jou bekend voel? Is daar ’n aspek van jou situasie wat al voorheen plaasgevind het? Elke mens het ’n gemaksone en wanneer ons voel of ons in ’n groef is, beteken dit dat ons lanklaas buite ons gemaksone was. Deur te vra wat vir jou bekend voel, kan jy agterkom hoekom jy nie uit jou gemaksone wil ontsnap nie. Dit kan wees dat jy elke keer in jou gemaksone terugval nadat jy ’n terugslag ervaar het of wanneer iemand jou persoonlik aangevat het. Kruip jy in jou gemaksone weg as jy jouself begin oorwerk of is dit jou persoonlike lewe of ander verhoudings wat verhoed dat jy kanse met jou onderneming waag? Verstaan waarom jy na jou gemaksone vlug sodat jy makliker beheer kan neem.

Stel realistiese doelwitte: Realistiese doelwitte sal onmiddellik maak dat jy rigting het, dat jy presies weet wat om te doen en jou laat voel dat dit moontlik is. Stel weeklikse, maandelikse, driemaandelikse en sesmaandelikse doelwitte in plaas van slegs jaarlikse doelwitte. Hou dit egter realisties maar maak dit steeds die moeite werd.

Om in ’n groef te wees beteken bloot dat jou onlangse strategie jou na jou gemaksone gelei het en dat jy met nuwe gewoontes en nuwe planne binnekort by ’n ander eindpunt kan uitkom. Waarheen ons gaan word bepaal deur die instel van die seil, eerder as die rigting van die wind.