Voor jy uitstel, leer eers prioritiseer
Prioritiseer vs. uitstel
Die hoofdoel van werknemers in ’n besigheid – en ’n besigheid sélf – is om take so effektief moontlik af te handel, ten einde ’n wins te genereer. Sê maar wat jy wil: as jy in die kantoor is, is jy daar om te werk.
Jy is (hopelik) egter ook in die kantoor omdat jy vervulling daarby vind om jou so goed moontlik van jou taak te kwyt en trots is op die werk wat jy lewer. Dis ongelukkig onvermydelik dat daar telkens take gaan opduik waaroor jy nie té opgewonde is nie en ook dat ’n projek soms so belangrik en oorkoepelend is, dat jy nie kop bo water kan hou nie.
Die natuurlike reaksie op bogenoemde is gereeld, ironies genoeg, nie om dit af te handel nie, maar eerder om dit uit te stel en sodoende jouself in die voet te skiet. Het jy al ooit die gesegde, van uitstel kom afstel, gehoor?
Kom ons kyk na die oorsake van uitstel en hoe jy doeltreffend kan prioritiseer om dié euwel by die werk te kan bekamp.
Eet jou rape eerste
Met ander woorde: handel eers die werk af wat jy nie geniet nie, of wat die meeste moeite verg – as jy in ’n posisie is om dit te doen, bygesê.
Wat gereeld gebeur is dat ons nie net die werk uitstel wat ons nie geniet nie, maar ons werkslading as ’n geheel omdat die blote idee van werk ons afsit. Probeer om die onaangename take eerste uit die weg te ruim, selfs al moet jy ’n dag of twee daarvoor gebruik. Die direkte gevolg is dat die lekker werk daarna nie eens soos werk gaan voel nie.
Volg ’n streng roetine by die werk
As jy vyf dae ’n week werk, is dit belangrik dat jy ’n afsnypunt vir jou dag het, waarna jy jouself nie toelaat om verder te werk nie. Ek sal dit by die huis afhandel of ek sal na-ure by die kantoor sit gaan daartoe lei dat jy ongebalanseerd te werk gaan (en lewe), en in alle waarskynlikheid veroorsaak dat jy nie jou voorneme nakom nie, omdat jy nie die werklus gaan hê nie.
Doen die werk wanneer jy vir jouself sê jy gaan die werk doen. As jy nie op self-dissipline kan staatmaak nie, moet jy jou integriteit evalueer.
Moenie verskonings maak nie
Die versoeking om te dink aan redes waarom jy nie nou dadelik kan wegspring met die onaangename taak nie, is groot en dis gewoonlik maklik om te dink aan ’n duisend geldige verskonings – gewoonlik kom dit neer op ’n gebrek aan hulpbronne en inligting.
Daar is altyd iets wat jy nou dadelik kan afhandel om vordering te maak. Anders sal jy aan ’n verskoning moet dink waarom jy nie die afsnypunt vir die taak kon haal nie.
Stel strategies uit
Uitstel is egter nie altyd die blote gevolg van luiheid of ’n tekort aan entoesiasme nie.
In vandag se wêreld moet ons kophou met derduisende e-posse, teksboodskappe en oproepe. Dit gebeur dikwels vir baie van ons dat nuwe opdragte uit die bloute opduik en sodoende ons werksbeplanning omvergooi, omdat ons weer moet prioritiseer.
Dis moeilik, maar om hierdie rede is dit belangrik dat jy moet leer hoe om effektiewe tydbestuur toe te pas. Dit beteken dat jy moet weet hoe om die belangrikheid van take op enige oomblik te verander en ook dat jy moet leer hoe om ‘slimmer’ te werk te gaan om meer werk, teen ’n sneller pas, af te handel. Somtyds gaan jy ook vir hulp moet vra.
Hoekom stel jy nie voor dat jou werkgewer vir die maatskappy so ’n opleidingskursus reël by ’n professionele besigheidsopvoeder nie?
Uitstel is menslik en jy hoef nie sleg te voel dat die versoeking homself gereeld gaan voordoen nie, dit is ’n natuurlike aspek van die professionele wêreld. Jy het egter meer as genoeg maniere om dit doeltreffend te bestuur en te voorkom.